‘SA onderwys kort oplossings, nié verskonings’

(Argieffoto)

Paul Colditz, voormalige uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), meen daar is dikwels in Suid-Afrikaanse onderwys ’n verskoning vir elke probleem eerder as ’n oplossing.

“Die eerste stap is om te besef dat jy nie iets wat fundamenteel verkeerd is kan herstel deur ʼn paar pleisters op te plak nie. Ons moet onderwysleiers identifiseer wat moet gaan sit en ʼn onderwysbloudruk saamstel,” het Colditz die afgelope naweek as hoofspreker op Fedsas se algemene jaarvergadering gesê.

Colditz wat onlangs ná 14 jaar as uitvoerende hoof van Fedsas afgetree het, se voorstelle vir só ʼn bloudruk sluit in dat daar vasgestel moet word “hoe geld tot in ʼn klaskamer kom en dat daar ʼn stelsel daarvoor ontwikkel moet word. Gans te veel geld gaan verlore in ʼn lang pyplyn wat geen waarde toevoeg nie.”

Paul Colditz

Hy sê daar word ook ʼn kernkurrikulum benodig wat betekenisvol is, maar tog buigbaar genoeg om aan te pas by verandering. “Ons moet ook weer die professie van onderwys in ere herstel. Ons moet opvoeders oplei om professioneel te wees en wat trots is op hul professionele status. Sommige vakbonde se gebruik om na onderwysers as ‘werkers’ te verwys, doen die professie onnoembare skade aan.”

Colditz stel ook voor dat duisende burokrate wat nie ʼn bydrae lewer nie, verwyder moet word. “Ons moet groot belê in die ontwikkeling van onderwysleiers wat skole suksesvol kan lei sodat burokrate nie nodig is om die stelsel te laat funksioneer nie. Die houvas van vakbonde op onderwys moet ook gebreek word. Vakbonde het ʼn rol, maar die houvas knou die stelsel.”

Oor sy jare by Fedsas het Colditz gesê sy droom was altyd om dit die lekkerste werkplek te maak. “Dit is ook vir my ʼn riem onder die hart om te sien hoe Fedsas se personeel en ons lidskole inkoop op ons ideaal om gehalte-onderwys in alle openbare skole te vestig.”

Dr. Jaco Deacon het in Oktober die leisels by Colditz oorgeneem as uitvoerende hoof van Fedsas terwyl dr. Shaun Mellors tydens die algemene jaarvergadering in Bloemfontein as voorsitter van Fedsas se nasionale raad herkies is.

Hess Radley is as nuwe ondervoorsitter verkies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eden ·

Afrikaanse onderwysers is nie te vrot nie. Nietemin moet daar dringend besin word oor die manier van onderrig. Die wêreld verander ontsettend vinnig en kinders word steeds onderrig asof dit 50 jaar gelede is. Fedsas moet hul metodes spoedig aanpas of die Afrikaanse kinders word deel van die 20 miljoen wat op “handouts” staat maak.

Shakespeare ·

Suid Afrika het opgeleide onderwysers met dissipline, integriteit, bevoegdheid en passievolle leiding nodig. Die onderwysstelsel word oordonder met kaders met geen standaarde wat by onderwys pas nie. Vra my. Ek het die chaos al BAIE gesien en boonop met korrupte skoolhoofde ook nog.

Owlie ·

Sonder verskonings – een kurrikulum vir almal, nie n verswakte kurrukulum waar leerders deur gesit word nie, dissipline, rotiene, standvastigheid gepaardgaande met bekostigbare onderwys, boeke en eenvormige uniforms vir alle skole en ten laaste hoort die staat die verantwoording te doen om op te staan en alle skool geboue, meubels, terrine, kleedkamers en personeel 100% op standaard te bring voor die skole 2022 open Hoe???? Deur die werk gedoen te kry sonder handouts, familie, kennisse en bedrog.

Pablo ·

Wat van die dalende vak standaarde waarmee die meeste nie werk jan kry nie. Die hele onderwys stelsel ingeslote sommige universiteite is in n gemors. As jy n student druip moet jy aan die Rektor gaan verduidelik hoekom hy of sy gedruip het.

Gert ·

Daar is net een roete om te volg en dis om te begin by disepliene in die skool. Kinders moet leer dat daar gevolge is vir hulle dade. Daar kan nie meer met detensie gesukkel word nie dit werk nie, bring die lat terug want dit het gewerk. Kinders en ouers wat die skole afbreek moet dadelik gestop en vervolg word sonder enige voorbehoud. En laastens politiek moet uit die skole kom. Een standard vir almal en as jy dit nie maak nie druip jy en as jy te oud is vir skool is jy uit. Kurripte hoofte en onderwysers moet krimineel aangekla word en afbetaal word.
Dis al manier hoe ek sien dat die onderwys weer iets gaan lewer wat ‘n hoe gehalte gaan wees.

Papsak ·

Hou op skole afbreekbou liewers aan ons kinders en leer dissepline skole is nie meer skole nie soos toe ons nog kinders was nie dit is hartseer want ander vat ndt alles oor en ons kinders moet maar tevrede wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.