SA onderwyser in China vreesbevange weens ‘xenofobie’

(Foto: Ahn Young-joon/AP)

“Hou moed, ons sal weer by die huis kom.”

Dit was Dinsdag ʼn jong Suid-Afrikaner in Nanjing, China, se boodskap nadat daar die afgelope ruk glo toenemende vyandigheid teenoor buitelanders in dié land ondervind word.

Die onderwyseres gee die afgelope jaar Engels by ʼn skool in die stad en sê sy bid nou onophoudelik dat die Suid-Afrikaanse regering sal ingryp en mense soos sy na Suid-Afrika sal repatrieer.

Buitelanders in China – en veral diegene van Afrika – word die afgelope ruk glo daarvan beskuldig dat hulle verantwoordelik is vir ʼn tweede vlaag van die dodelike nuwe koronavirus in die land.

Buitelanders glo stief behandel 

Die onderwyseres, wat gevra het dat haar naam nie genoem word nie, sê die wagte in haar woonstelgebou – waar sy al 18 maande lank woon en wat haar goed ken – het haar telkens toegang tot die gebou geweier omdat sy ʼn buitelander is.  “Wanneer ek in die hysbak klim, klim al die ander mense uit,” het sy vertel.

Die vrou het gesê sy is selfs die plek verbied waarheen sy moet gaan om elektrisiteit te koop en die winkel in haar woonstelgebou weier haar deesdae toegang.

“My huurkontrak het verval en vandag [Dinsdag] is heeltyd gesê ‘no foreigners’ terwyl ek ʼn nuwe plek gesoek het.  Niemand help nie.  Hulle het net hul skouers opgetrek en gesê ‘not our problem’.”

Haar huidige verhuurder het eindelik ingestem dat sy in haar woonstel mag aanbly – maar teen huur van ¥8 000 yen, oftewel sowat R20 000.  “Hy weet ek is desperaat en het nêrens om heen te gaan nie.”

Die vrou het gesê sommige mense in soortgelyke omstandighede as sy verdien nou net sowat ʼn derde van hul salarisse terwyl ander glad nie meer betaal word nie.  Al wat sy nou wil doen, is om terug te keer na Suid-Afrika en haar lewe hier te hervat.

“China was goed vir my en die mense was ongelooflik. Maar nou is net my verhuurder goed vir my en ek is baie bang,” het sy vertel.

Sy glo die meeste Chinese is goeie mense, maar dink talle van hulle het voor groepsdruk en “leuens” van die regering geswig, daarom dat hulle nou buitelanders stief behandel.  “Ek is 100% seker dat hulle nou dink ons is die virus.  Dit breek my hart, want van my eie Chinese kollegas wou nie eens help met my kragprobleem nie.  Ek het nog nie my voete uit China gesit [sedert die uitbreking] nie.  Elke buitelander word nou as die vyand gesien.”

Die vrou het gesê sy is in deurlopende verbinding met die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerkende regering om terug te keer huis toe.

“Dit is moeilik, vrekmoeilik en emosioneel knak ʼn mens.  Ek kan nie wag om weer by die huis te wees nie,” het sy gesê.

(Foto: Ng Han Guan/AP)

Dirco sê

Maroela Media het vroeër berig Lunga Ngqengelele, woordvoerder van Dirco, het gesê hulle neem kennis van Suid-Afrikaanse burgers wat in die buiteland gestrand is.  Hy het bevestig dat Dirco alles in sy vermoë doen om hierdie burgers veilig na Suid-Afrika terug te bring.  Die departement gaan voort om met onderskeie ambassades en regerings te onderhandel om hul burgers te repatrieer.

Vergadering oor beweerde diskriminasie gevra 

Die DA-LP Noko Masipa het Dinsdag die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor internasionale betrekkinge gevra om ʼn vergadering met die departement te belê oor stappe wat die regering gaan doen om die beweerde diskriminasie teen Afrika-migrante stop te sit.

“Ons het verskeie mediaberigte en video’s gesien waarin beweer word dat Chinese amptenare die nagenoeg 300 000 Afrika-burgers in Guangzhou beskuldig dat hulle verantwoordelik is vir die tweede uitbreking van Covid-19 in die land,” het Masipa gesê.

“Dit word berig dat die polisie [in China] veral swart Afrikane teiken en sommige van hulle sonder kennisgewing uit hul huurhuise gesit het.  Sommige mense het geen ander opsie gehad as om weens dié wrede behandeling op die straat te slaap nie.”

China kap terug 

China het verlede maand skielik sy ambassadeur in Suid-Afrika herroep en die DA sê die regering moet oop kaarte speel oor wat die land se verhouding in dié stadium met China is.

Die Chinese regering het Maandag berigte van die beweerde diskriminasie en mishandeling verwerp en hou vol dat almal billik behandel word.

(Foto: fernando zhiminaicela/Pixabay)

Net ʼn dag tevore het die Suid-Afrikaanse regering sy kommer uitgespreek oor die beweerde diskriminasie.  “As voorsitter van die Afrika-Unie (AU) is Suid-Afrika baie besorg oor berigte dat Afrikane swak behandeling in China ontvang, insluitend dat hulle sonder toestemming getoets word vir Covid-19, in kwarantyn geplaas word en ander onmenslike behandeling ontvang,” het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking in ʼn verklaring gesê.

Suid-Afrika het ook benadruk die berigte van beweerde diskriminasie en mishandeling is strydig met die “uitstekende verhouding wat tussen China en Afrika bestaan”.

Die Chinese konsulaat in Durban het ook skerp gereageer na ʼn uitlating deur ʼn KwaZulu-Natalse LUR dat die prys van gesigsmaskers opgeblaas word en dat dit glo die skuld van ʼn Chinese maatskappy is. Die uitvoerende hoof van die onderneming in Suid-Afrika is boonop in hegtenis geneem en die fabriek gesluit.

Die konsulaat sê die betrokke fabriek het reeds talle skenkings aan die KwaZulu-Natalse regering, die polisie en sommige hospitale gedoen.  Nog skenkings sou gedoen word as die fabriek nie gesluit is nie.

“Vriende wat hulp aan Suid-Afrikaners in dié moeilike tyd aanbied, verdien respek, indien nie waardering nie, en moet goed behandel eerder as teleurgestel word – of hulle nou van China of enige ander land is,” het die konsulaat gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Anel ·

Ons mense kry nie werk hier nie. Maar nou ja, die Chinese het geen tyd vir Afrikane nie. Hulle wil net Afrika in palm. En die fabriekeienaar het die mense daar toegesluit gehou. Maar die Chinese het ook al meer regte hier as blankes. En hulle metodes in komunisties georiënteerde. Dis hoekom ons regering so hand om die blaas met hulle is.
Sterkte vir ons jongmense wat ook daar teen gediskrimineer word.

My Mening ·

Ek kan glad nie verstaan hoe mense so blatant ander mense kan oordeel sonder om al die feite te hê nie. Wat het hulle verkeerd gedoen deur in China te gaan werk? Hoe moes die mense geweet het die pandemie gaan uitbreek?
Almal se omstandighede verskil en mense doen wat hulle doen om verskeie redes.

Jaco ·

As jy maand na maand en selfs jaar na jaar werkloos in SA sit NET omdat jy die “verkeerde” velkleur het, sal jy ook spring vir werk in China.

Johan ·

Stem saam Roggie van hulle het werk in Suid Afrika gehad en vir meer GELD bedank en kyk nou wat gebeur. Kry hulle jammer maar die jag na geld boemerang baie kere.

Bets ·

Ja ek wil ook nie veel se nie maar dit is Baie lelik van China om ons mense van suid afrika daar soos honde the behandel maar ons behandel China se mense wat in suid afrika besighede het nie so lelik nie ons behandel hulle goed hier sies China julle is lelik

Michael 1 ·

Bets ,wat dink jy is BEE,kwotas sisteme gebaseer op velkleur in Suid Afrika teen witmense deur die anc regime

BoerSonderRoer ·

Ek het nadese geen verhouding met Sjina nie.
Ek gaan hulle produkte boikot.
Ek gaan niemand seermaak nie, maar sushi winkels en elektroniese winkels gaan die “Made In China” logo moet verwyder as hulle my geld soek.

Michael 1 ·

Hierdie is net so lagwekkend, Dirco bevraagteken die Chinese diskriminasie maar die anc regering het diskriminasie teen wit mense en wetgewing om dit toe te pas.

Gert ·

Dit laat my wonder oor Trump se houding. Dalk is hy reg oor “Chi-na”

Die Wolf ·

Kan iemand asb vir my verduidelik wat n Afrikane is? Is ons nie meer Suid Afrikaners nie(sluit alle groepe in)? Is dit nou weer die slim jannies wat dit wil gebruik om polities korrek te wees. Sover my aangaan as jy van Afrikane praat word die hele Afrika ingesluit. Ek bly in Suid Afrika en nie in Zimbabwe of elders nie.

Michael 1 ·

Dit klink na n afkorting vir springkane en al waaraan ek kan dink is die storie van die mier en die springkane

Alecia ·

Ek dink dis omdat meester mense hier in China van oral in Afrika af kom en nie net Suid Afrika nie.

Alecia ·

Dis vir my interessant dat een persoon se negatiewe ervaring n hele artikel is van hoe ons in China behandel word. Ek woon en gee skool vir amper 3 jaar in China en het presies die teenoorgestelde ervaring hier. Tydens die skool vakansie, Februarie was ek in Suid Afrika. Toe ek terug keer Chinatoe, Maart die 20ste is ek nie anders behandel as voorheen nie. Ek het volle salaris verdien tydens hierdie tydperk. Het 14 dae observasie kwarentyn in n hotel gehad, waar ek presies dieselfde as Chinese burgers hanteer was. Ongelooflik goed georganiseerd en professioneel. Mense in die dorp groet my nogsteeds normaal en vriendelik. Baie is opgewonde om my te sien. So ek wil net se, nie alle westerse mense word geteiken in China nie.

Cherokee ·

Wanneer gaan julle tog leer dat dit Sjinese is wat in Sjina woon?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.