SA onderwyser sterf in Viëtnam

Benjamin Jooste (links) en Jason Luker was boesemvriende van Potchefstroom wat saam Engels gegee het in Viëtnam. Saterdag het hulle amper saam in ’n motorfietsongeluk in die vreemde gesterf, maar Jason het die ongeluk oorleef en veg om sy lewe in ’n hospitaal in Hanoi. Foto: Facebook

ʼn Suid-Afrikaanse onderwyser wat in ʼn motorfietsongeluk in Viëtnam gesterf het, se pa en broer tref op die oomblik reëlings om sy oorskot te gaan haal sodat hulle hom in sy geboorteland kan kom begrawe.

Benjamin Jooste (26) en sy boesemvriend, Jason Luker (26), was Saterdagoggend omstreeks 07:30 op ʼn snelweg van Hanoi na Hai Pong City onderweg toe hul motorfiets ʼn motor getref het wat in dieselfde rigting onderweg was, berig die Viëtnamese aanlyn koerant VnExpress.

Luidens berigte in die Viëtnamese media het albei die onderwysers van ʼn Engelse taalsentrum in Hanoi in die pad beland, waarna ʼn houervragmotor oor een van hulle, vermoedelik Jooste, gery het.

Luker word in ʼn plaaslike hospitaal behandel.  Sy beserings is te ernstig om hom huis toe te vlieg.

Elsa Siege, Luker se ma, was Maandag te emosioneel om met Maroela Media te praat.  Sy het wel gesê Jooste en Luker “was soos bloedbroers.  Benjamin was soos ʼn kind in my huis.”

Jooste se kleinboet, Simeon (20), en sy pa, Wouter, was Maandag nog besig om dokumente te reël om Viëtnam toe te vlieg en Jooste se oorskot huis toe te bring. Hy word ook deur sy ma, Erna, oorleef.

Presies twee jaar gelede is nog ʼn oudleerder van Potchefstroom-gimnasium en gewese PUK-student, Colin Wheeler (23), wat ook Engels in Viëtnam gegee het, se oorskot na Suid-Afrika teruggebring nadat hy aan orgaanversaking dood is.

Sy ouers, André en Erika Wheeler, kon betyds Hanoi toe vlieg om by hom te wees toe hy ná agt dae in die hospitaal gesterf het.  Dit het $8 500 (tans sowat R122 000) gekos om sy liggaam terug te bring, het die Potchefstroom Herald destyds berig.  Dié geld is deur skarefinansiering op Facebook ingesamel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ander Annie ·

My hart gaan uit na die ouers. How seer is dit om te hoor jou kind is dood in ‘n ander land. My diepe meegevoel aan hierdie familie. Rus dag jongman.

Johan ·

Eerstens simpatie aan Benjamin se ouers en familie. Mag jul Geloof jul dra in hierdie tyd.

Maar ek kan nie anders as om te vra hoekom kos dit R120 000 om ‘n liggaam te bring na SA toe? Ek weier om in detail my argument te probeer regverdig, want natuurlik is dit sensitief. So ek vra bloot die vraag en hoop iemand kan klarigheid bring.

Sann ·

Behalwe vir voordiehandliggende redes, is daar heelwat vereistes wat die repatriasie van ‘n liggaam duurder maak, as bv ‘n vliegkaartjie. Die proses vir hierdie soort vervoer moet deur ‘n geregistreerde, goedgekeurde begrafnisondernemer gefasiliteer word. Dit kan per vliegtuig of skip gedoen word, wat die koste beïnvloed. Die liggaam kan vergesel word of nie, waarvoor sekere spesifikasies (en kostes) geld. Johan, jou vraag is eintlik nie onsensitief nie, dit bring mens by ‘n baie geldige punt omdat daar so baie van ons mense deesdae emigreer. Daar bestaan begrafnispolisse wat hierdie spesifieke dienste kan dek, maar ek wonder of dit algemene kennis is? Opregte meegevoel aan die familie en vriende wat deur hierdie ongeluk geraak word.

Louvaine Roos ·

Die lyk moet behandel word
Loodkis
Magdom papier werk
Vliegtuigkoste
Begrafnisondernemer aan daardie kant
Terug bring van lyk aan hierdie kant deur doeane
Begrafnisondernemer aan hierdie kant

Simoné ·

Die R120000 waarna daar verwys word is nie vir my neef se liggaam nie maar ‘n vriend van hom wat so drie jaar gelede aan ‘n virus oorlede is in Vietnam. Colin se liggaam kon eers terug SA toe kom nadat al die mediese onkostes betaal was.

Linda ·

Ai mense, hoe hartseer is dit nie… My innige meegevoel en simpatie aan die naasbestaandes. My woorde mag dalk niks help maar ek sal bid dat onseVader jul vertroosting sal bring.

Ell ·

My hart bloei vir jou gesin Benjamin Jooste. Hoe wens mens dat mens dinge kon verander, die klok terug draai. Gebede is al wat mens egter kan offer. Rus in vrede Benjamin. En ons bid dat jy ten volle sal genees, Jason.

Vriende ·

Woutie, Erna en Simeon, ons harte is stukkend saam met julle.

Mag julle genade ervaar in die verwerking van jule verlies en vertroosting vind in God’s Vaderarms en in die kosbare herinneringe van Benjamin. Jul geliefde seun laat ‘n groot leemte en sal altyd gemis word.

Jason, baie seen en genade word ook jou en jou gesin toegebid. Mag jy spoedig en volkome van jou beserings herstel en ook vertroosting ontvang in die verwerking van jou verlies.

Julle bly in ons gebede.

LB ·

Innige simpatie aan die familie en vriende. Bietjie praktiese raad uit dure ondervinding, veras die liggaam daar, dit is baie goedkoper om die as te repatrieer as die lyk. Baie sterkte!

Staak saam ·

Elke ouer se grootste vrees, maar dit is hartseer dat ons kinders die vreemde moet betree om te oorleef en n toekoms te gaan soek want, hulle vaderland soek hulle nie maar net hulle belastings.

Anna van Heerden ·

My man is in sy slaap oorlede op kersoggend in Saigon. Om alles tov sy liggaam (outopsie)te reël veral oor daardie tydperk was moeilik maar die hulp wat ek gekry van die weermag en ambassade sal ek nooit vergeet nie. Die beste en goedkoopste opsie was verassing. Dit het 8 dae geneem met die nodige dokumentasie ens ens. Dit is sooo hartseer maar die vertroosting vir my was dat ons ‘n ongelooflike vakansie gehad het …my man het nog daardie selfde aand vir my genoem dat hy weer wil terugkom Vietnam toe….ons sou ‘n dag later teruggevlieg het huistoe. Ek hou julle in my gebede ..sterkte…die Here sal voorsien

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.