SA ongelukkig oor veiling van Mandela se tronkselsleutel

Die betrokke sleutel. (Foto: Guernsey’s)

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het Vrydag teen ʼn Amerikaanse afslaer uitgevaar nadat dit aan die lig gekom het dat oudpres. Nelson Mandela se tronkselsleutel in Januarie in New York opgeveil sal word.

ʼn Reeks ander items wat glo aan Mandela behoort het, sal ook opgeveil word.

Die sleutel van die tronksel op Robbeneiland waar Mandela 27 jaar in die tronk deurgebring het, is die belangrikste artikel op die veilig wat op 28 Januarie deur die afslaer Guernsey’s aangebied word.

Een van Mandela se voormalige tronkbewaarders is glo die persoon wat in besit is van dié sleutel en dit gaan laat opveil.

Mthethwa sê egter dit is ondenkbaar dat die Suid-Afrikaanse regering nie eers hieroor geraadpleeg is nie.

“Hoe kan Guernsey, wat duidelik bewus is van die pynlike geskiedenis van ons land en die simboliese waarde wat die sleutel dra, dit oorweeg om die sleutel op te veil sonder om die Suid-Afrikaanse regering, die erfenisowerhede in Suid-Afrika en die Robbeneiland-museum te raadpleeg.”

Volgens Mthethwa behoort die sleutel aan die mense van Suid-Afrika en behoort dit onder die sorg van die Robbeneiland-museum en die Suid-Afrikaanse staat te wees.

“Dit is niemand se persoonlike besitting nie,” sê hy.

“Die sleutel moet dadelik aan sy regmatige eienaar – Suid-Afrika – terugbesorg word en die veilig moet gestaak word.”

Mandela, wat in Desember 2013 in die ouderdom van 95 dood is, is in Mei 1994 as die eerste president van ʼn demokratiese Suid-Afrika verkies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.