SA operasanger gaan bekoor by kroningseremonie

Pretty Yende. (Foto: Twitter/Pretty Semende)

Buckingham-paleis het aangekondig dat die bekende Suid-Afrikaanse operasanger, Pretty Yende, een van die handjievol kunstenaars is, wat gekies is om op 6 Mei by koning Charles III se kroningseremonie in Westminster-abdy op te tree.

Yende is veral oorsee bekend vir haar werk as operasangeres en het al verskeie toekennings van die Operahuise van Wene, Moskou, Milaan en New York ontvang. In 2017 het sy ook die toekenning vir beste opname solo-voordrag gewen vir haar album A Journey by die Internasionale Operatoekennings.

“Dit is moeilik om in woorde te beskryf hoe geëerd en geseënd ek voel om ‘n uitnodiging te ontvang om op 6 Mei by die kroningseremonie van hul majesteite die koning en koningin-gemaal by Westminster-abdy op te tree,” het die 37-jarige sanger oor haar prestasie op Twitter geskryf.

Sy is ook een van slegs drie soliste wat tydens dié seremonie sal optree.

“Die musiek is persoonlik gekies deur sy majesteit die koning gekies om die talent van regoor die Verenigde Koninkryk en die Statebond ten toon te stel,” lui ʼn verklaring oor die kroningseremonie se program op Westminster-abdy se webwerf.

Onder dié dag se musiek sal twaalf nuwe opdragwerke wees, waaronder ʼn nuwe kroningslied deur die bekende komponis Andrew Lloyd Webber.

Koningin Mary se kroon. (Foto: Twitter/Coronation News and updates)

Yende is ook nie die enigste Suid-Afrikaanse verteenwoordiging wat gaan skitter by dié seremonie nie.

Buckingham-paleis het onlangs bevestig dat Camilla, die koningin-gemalin, die kroon van koningin Mary – koning Charles III se oumagrootjie – tydens dié seremonie sal dra, maar dat ʼn paar wysigings en toevoegings eers daaraan gemaak sal word.

Dié geskiedkundige kroon sal met verskeie Cullinan-diamante, geslyp uit die grootste diamant wat nog ooit gemyn is toe dit in 1905 in Suid-Afrika ontdek is, ter ere van wyle koningin Elizabeth II geset word.

Dié diamante was jare lank deel van haar persoonlike juwelierswareversameling en sy het dit dikwels as borsspelde gedra.

Bykomende bronne: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

George ·

Hoekom sal hulle iets terug gee wat aan hulle behoort? Dis gegee uit vryewil vir die britte, en die ander is gekoop.

Eugene ·

Pragtig. Jy verdien dit. Hoop Koning Charles Betaal in baie goed. Word n’ miljoener.

Casper ·

En om te dink sy is ‘n boorling van ons dorpie Mkhondo.Sy sing pragtig en alhoewel die dienste in die dorp nie my trots verdien nie maak sy my trots.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.