SA pa verdwyn in Finland

Herc en Rita Croeser. Foto: Facebook.

Herc en Rita Croeser. Foto: Facebook.

Die familie van ʼn 60-jarige man van Boksburg is bekommerd nadat hy verdwyn het terwyl hy vir ʼn konferensie in Finland was, het Beeld Maandag berig.

Herc Croeser, ’n bestuurder by Metso Minerals in Suid-Afrika, was veronderstel om Saterdag 09:40 op die O.R. Tambo-lughawe te land ná sy reis, maar het nooit sy vlug in Finland gehaal nie.

Die polisie het al sy besittings, waaronder sy paspoort en geld, in sy hotel­kamer gevind.

Dit was sy vierde reis na Finland. Hy het glo aan sy vrou, Rita, gesê dit sal sy laaste reis wees omdat hy moeg is.

Rita het aan die koerant gesê hulle het gereeld gekommunikeer en die laaste keer dat sy met hom gepraat het, was Donderdag om 20:15.

Sy het Vrydag net ná 06:00 vir hom ’n boodskap gestuur, maar dit het nie deurgegaan nie en sy selfoon was af toe sy gebel het.

“Ek is 38 jaar met Herc getroud en ken hom. Hy sal nie net verdwyn nie en het altyd ’n boodskap beantwoord,” het sy gesê.

Volgens werkers by die hotel het hy Donderdag 19:00 by ʼn nabygeleë kroeg gaan kuier. Op kringtelevisiebeeldmateriaal word hy saam met kollegas daar gesien. Hy is 22:00 weg by die kroeg waarna hy spoorloos verdwyn het. Hy was omstreeks 23:00 aktief op WhatsApp.

Volgens Croeser se dogter, Esti, het sy selfoondiensverskaffer gesê ’n oproep is Vrydag net ná 16:00 na Suid-Afrika gemaak. Toe hulle die nommer probeer bel, het dit nie gewerk nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.