SA paai oor vertraging van Malawiese vlug

Pres. Cyril Ramaphosa tydens sy ontmoeting met Malawiese pres. Lazarus Chakwera. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die Suid-Afrikaanse regering sê die vertraging van Malawiese pres. Lazarus Chakwera se vlug – wat woedende reaksie van die Malawiese regering uitgelok het – was weens belangrike prosedures wat gevolg moes word.

ʼn Woordvoerder vir die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, Clayson Monyela, het gesê tydens die vertraging – glo langer as ses uur – het Suid-Afrikaanse amptenare nie die gewone diplomatieke hoflikheid wat aan besoekende presidensiële afvaardigings betoon word, onnodig in die gedrang gebring nie.

“Die kwessie van die vertraging van die Malawiese presidensiële straler by die Waterklooflugmagbasis was ongelukkig en onvermydelik. Die vertraging is veroorsaak deur belangrike sekuriteit-, logistieke en prosedurele prosesse,” het Monyela gesê.

Hy het gesê dié prosesse het kommer en misverstande by die Malawiese afvaardiging veroorsaak.

“Die bekommernisse is hanteer,” het Monyela gesê.

“Kwessies wat verband hou met die gebeure by die Waterklooflugmagbasis sal deur diplomatieke kanale hanteer en bespreek word.”

Die Suid-Afrikaanse regering het ook benadruk dat hy verbind bly tot samewerking met die Malawiese regering om gemeenskaplik voordelige betrekkinge te verseker.

Chakwera se werksbesoek aan Pretoria is gehul in omstredenheid nadat die owerhede hier ontdek het dat die selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri sy borgtogvoorwaardes verbreek en landuit gevlug het. Hy bevind hom tans terug in Malawi.

Dié land se regering het vandeesweek in ʼn verklaring sy misnoeë met Chakwera en sy afvaardiging se behandeling ná die ontmoeting met pres. Cyril Ramaphosa te kenne gegee. Amptenare van die Malawiese departement van buitelandse sake het gesê hoewel die presidensie ʼn openbare verklaring uitgereik het dat Chakwera geen rol gespeel het in Bushiri se ontsnapping nie, het die verklaring steeds tekort geskiet.

“Die Malawiese regering is bewus van en dankbaar oor die openbare verklaring wat pres. Chakwera van blaam onthef na aanleiding van die vals bewering in die Suid-Afrikaanse media dat sy presidensiële vliegtuig gebruik is as voertuig om twee gesoekte Malawiërs [landuit] te smokkel,” het die Malawiese regering gesê.

“Ten spyte hiervan neem Malawi met kommer kennis dat die verklaring nie sê dat die behandeling waaraan pres. Chakwera tydens sy vertrek onderwerp is onbehoorlik en ongerymd was en in skerp teenstelling was met die hartlikheid waarmee hy met sy aankoms ontvang is nie.”

Suid-Afrika het reeds ʼn lasbrief vir die inhegtenisneming van Bushiri en sy vrou, Mary, uitgereik.

Die Valke is ook oënskynlik gereed om op die egpaar se R5,5 miljoen-huis in Centurion beslag te lê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Persheks Adri ·

Alles is vertraag in die land al vanaf 1994 pffft tsssk net met verskonings

Strandloper ·

Was die roof rack oorlaai…ek dink daar is net plek vir 5 bicycles en nie10 nie?

Phillip ·

Ek wil net iets weet jy vlieg kom ons se 10 in die vliegtiug om in tekom gaan 12 uit kan hulle nie sien daar is ekstra mense in die vlug nie of kan hulle ook nie tel soos Zuma nie

Spook ·

Ek stem saam, Mike. As Malawi ons inval, is ons in ons maai in.
Maar daar kan nie veel uitval polities wees nie.

Willem ·

5.5 miljoen vir huis. R400000 vir borg . Dit amper 6miljoen van 102. R96 miljoen in sak. Goeie besigheid

Anel ·

Dalj is hy kwaad omdat hy nie die hoeveelheid geld gekry het wat ou ciryl hom belowe het nie en toe besluit hy om te sê hulle is swak behandel. As hy niks met ontsnapping te dien gehad het nie, stuur die spul dan terug.

Dirk Mostert ·

6 Uur vertraging vir prosedures. Dis nog niks. Ek wag al sedert April vir ‘n staatsdepartement om een foutiewe sin op n belangrike dokument te korrigeer!

Stefan ·

Hulle ‘ongelukkigheid’ is maar net ‘n voorbrand om die versoek tot uitlewering van die profeet te weier.

Blikke ·

Jy kan darem nie verdere skade aanrig as jou naam reeds krater is nie né!

Misky ·

Seker Bushiri wat gemoan het oor die 6 ure vertraging omdat hy tussen die bagasie moes wegkruip

Persheks Adri ·

Dankie vir die lag Misky! Moet wees hulle kla mos oor alles

JM ·

Die spul maak ‘n mens siek, om die minste te sê! Maak van alles’n gemors.

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek ruik ‘n rot.
Maar nou net gehoor hy het hom aan Malawiese Regering oorhandig het.
Blerrie sirkus

Rina ·

Weereens word SA se naam met ‘n “sleeper” geslaan!

Ai dis so hartseer dat sulke “sogenaamde pastore” die Heer se naam so misbruik. Hulle sal verseker hulle straf kry!

Ek weet ook nie wat meer om te glo nie, soos die oumense oor al die stories sou sê: Sak Sarel! Of my Oumagrootjie se gesegde: Dit lieg jy sit! Mensweet regtig nie meer wat is die waarheid en wat nie! Of Malawi regtig betrokke by hul vlug land-uit was of nie, sal ons seker weldra uitvind ….

Mag ons Hemelse Vader help ons asb met BAIE INSIG EN WYSHEID?

Kruger ·

Ruik groot rot. Word parool geweier tot net voor malawi se besoek…wat LANKAL gereel is???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.