SA parlement maak hierdie week geskiedenis

Die parlement tydens die 2020-staatsrede (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die Suid-Afrikaanse parlement staan op die punt om geskiedenis te maak wanneer die twee huise van die parlement hierdie week hul eerste volle virtuele sittings hou.

Die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Amos Masondo, sal Dinsdagmiddag sy 54 lede ordelik moet hanteer wanneer hulle die geleentheid gaan hê om twee van die land se mees veelbesproke ministers, dr. Zweli Mkhize (gesondheid) en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma (samewerkende regering), vir ‘n uur en ‘n half ondervra nadat elkeen van die ministers eers ‘n halfuur gekry het om hul saak te stel.

Die leier van die DA in die Nasionale Raad van Provinsies, Cathy Labuschagne, het aan Maroela Media gesê haar party het behoorlik voorberei om albei ministers goed te laat les opsê oor die afsonderingsperiode en dat hulle nie sal toelaat dat ANC-gesinde voorsittende beamptes hulle fnuik nie.

Die groot toets lê eintlik Woensdag voor vir die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, met die eerste virtuele sitting van die Nasionale Vergadering met sy 400 lede. Boonop is dit ook ‘n vraesessie, vir sowel die regeerkunde- as die maatskaplike groepe van die kabinet, wat aan die voorpunt is en dus in die spervuur staan tydens die afsonderingsperiode.

Die Nasionale Raad van Provinsies en die Nasionale Vergadering sal albei ‘n hibridiese stelsel volg met die voorsittende beamptes en enkele parlementslede (die DA beplan byvoorbeeld tans om net tien van sy 84 lede in die Nasionale Vergadering te ontplooi) wat fisies in die lokale in Kaapstad sal wees, en die res wat virtueel sal inskakel.

Die kans op chaos in die Nasionale Vergadering is dus spesifiek groot, want Modise sal uit die voorsitterstoel moet besluit wie van die 400 lede kry kans om vrae te stel.

Die swepe van die groot partye het gesê hulle sal die voorsittende beamptes steun, maar mens sal moet sien of dit gaan hou. Die voorsittende beamptes het belowe om enige balhorige LP’s in die virtuele vergadering se klankknoppie af te skakel.

Die media mag die verrigtinge uit die persgalery dek, en die publiek kan die sittings dophou op die parlement se YouTube- of op televisiekanaal 408.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Hulle maak elke dag geskiedenis met die snert wat hulle kwyt raak

PieterP

Virtueel se dinges, gaan hou die sitting soos altyd, kinders kan skool toe, ons kan werk toe so julle kan ook. Was julle hande en dra julle maskertjies en gaan werk. O gaats, julle is ‘n spul oor 60 jariges wat al op pensioen moes gewees het!!!

Adam

Die sitting behoort nie vir die meeste parlementslede vreemd te wees nie. Talle bly gewoon net weg en vele ander sit in elk geval en slaap.

Magda

Geskiedenis!!! -wag maar julle sal sien – dit gaan weer soos altyd in 1GROOT SIRKUS VERANDER., en hulle gaan die GRAP van die jaar en WERELD WEES.

Scalla

Moet dit nie beperk wees tot 50 mens nie, of gaan dit per web geskied en gaan die uitsending gedek word deur die cartoon netwerk kanaal?