SA platejoggie vir Grammy-toekenning benoem

Black Coffee. (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse platejoggie Black Coffee is benoem vir ʼn Grammy-musiektoekenning vir volgende jaar se geleentheid in die kategorie vir beste dans- of elektroniese album.

Black Coffee, wie se regte naam Nkosinathi Maphumulo is, se album getiteld Subconsciously is benoem saam met internasionale kunstenaars soos Illenium, Major Lazer, Marshmello, Sylvan Esso en Ten City.

Die Recording Academy sal die wenners van die 2022-Grammy-pryse op 31 Januarie by die Crypto.com Arena in Los Angeles, VSA, aankondig.

Die jaarlikse Grammy-toekennings, wat vir die 64ste keer uitgedeel word, vereer opnames wat tussen 1 September 2020 en 30 September 2021 uitgereik is.

Dit is die eerste keer wat die Sweedse popgroep ABBA vir ʼn Grammy-toekenning benoem is. Dié benoeming, vir opname van die jaar, is vir hulle enkelsnit getiteld “I still have faith in you”, wat op 2 September vanjaar uitgereik is.

Dié snit verskyn op die groep se lankverwagte album, Voyage, wat op 5 November bekendgestel is. Dit is die groep se eerste vollengte uitreiking in vier dekades.

Ander liedjies wat in die gesogte kategorie vir opname van die jaar benoem is, is Jon Batiste se “Freedom”, Lady Gaga en Tony Bennett se “I get a kick out of you”, Justin Bieber se “Peaches”, Brandi Carlisle se “Right on time”, Doja Cat en Zsa se “Kiss me more”, Billie Eilish se “Happier than ever”, Lil Nas X se “Motero (Call me by your name)”, Olivia Rodrigo se “Drivers license” en Silk Sonic se “Leave the door open”.

Lady Gaga en Tony Bennett se album Love for Sale is onder andere saam met Justin Bieber se Justice, Taylor Swift se en Kanye West se Donda benoem in die kategorie vir album van die jaar. Swift het verlede jaar die toekenning in dié kategorie huis toe gevat vir die album Folklore.

Olivia Rodrigo (18) is vir vier toekennings in die hoofkategorieë benoem. Ed Sheeran se “Bad habits” is benoem in die kategorie vir liedjie van die jaar, wat liedjieskrywers vereer.

Die Britse kunstenaar Jon Batiste is vanjaar die voorloper met 11 benoemings. Hy is onder meer bekend vir die klankbaan van die Pixar-animasierolprent Soul.

Die benoemings is Dinsdagoggend by die Grammy-museum in Los Angeles bekend gemaak deur Billie Eilish, H.E.R., BTS en die Eurovision-wenners Måneskin.

Met meer as 22 000 liedjies en albums wat vir 2022 se prysuitdeling ingeskryf is, is die hoofkategorieë se lys van benoemings vir die eerste keer van agt tot tien uitgebrei.

“Ons leef in ʼn tyd van uitsonderlike groei in musiek. Meer as 60 000 liedjies word per dag uitgereik. Met soveel meer musiek wat beskikbaar is, is daar soveel meer uitnemendheid om te vereer,” het Harvey Mason Jr, hoof van die Recording Academy, gesê.

Hier is ʼn volledige lys van benoemings.

Bronne: BBC, Grammy.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Francios

Ek luister eerder na Anton Goosen of Koos Kombuis en hulle is baie baie baie baie laag op my luister lysie

Belinda

Wel gedaan. Ek geniet sy musiek.

Delia

Baie geluk. N prestasie in jou bedryf.