SA polisieman internasionaal vereer

Kol. Kobus Lategan (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Kol. Kobus Lategan (56), die operasionele bevelvoerder van sigbare polisiëring in Johannesburg, het in sy 38 jaar in die polisiediens al die ondenkbare gedoen en beleef. Ná byna vier dekades se toegewydheid in misdaadbestryding is hy vereer met ʼn internasionale toekenning ter erkenning van sy uitstaande leierskap, toewyding en professionele standaarde.

Lategan het verlede Dinsdag Interpol se gesogte professionele dienstoekenning ontvang.  Beamptes wat vir die toekenning in aanmerking wil kom, moet benoem word.

Die toekenningsgeleentheid het tydens die 14de internasionale konferensie vir wetstoepassing en intellektuele eiendomsmisdaad in Costa Rica plaasgevind. Dié is ʼn jaarlikse gebeurtenis en is vanjaar virtueel uitgesaai. Slegs twee polisiebeamptes van 194 lande wêreldwyd word jaarliks gekies om die toekenning te ontvang. Die toekenning word gegee aan beamptes wat ’n groot impak gemaak het in die stryd teen misdaad wat verband hou met intellektuele eiendom.

Dit is die heel eerste keer in die geskiedenis dat ʼn polisiebeampte in Suid-Afrika dié gesogte toekenning verwerf [Foto: Verskaf]

“Ek is trots op die toekenning en het dit glad nie verwag nie. Ek het maar net my job gedoen en die toekenning het nou so aan die einde van my loopbaan in my skoot geval,” vertel Lategan aan Maroela Media.

Lategan is nie die eerste Suid-Afrikaanse polisieman wat só vereer is nie. Wyle Brig. Piet Byleveld is op 20 Mei 2010 tydens ‘n glansryke geleentheid in Pretoria met ‘n soortgelyke internasionale toekenning van Interpol, asook Interpol Suid-Afrika, vereer. Interpol Internasionaal het in 2010 net drie polisiebeamptes wêreldwyd vereer.

Lategan is die afgelope 11 jaar die operasionele bevelvoerder vir sigbare polisiëring in die Johannesburg-distrik. Hy lei ʼn multidissiplinêre span wat operasies onderneem wat die onwettige handel in vervalsde goedere bekamp. Dié span hanteer operasies in die hele Johannesburgse metropolitaanse gebied. ʼn Totaal van 41 polisiestasies val in hierdie gebied.

Die distrikskantoor is in Soweto geleë.

Lategan was tussen 1988 en 1993 die bevelvoerder van die polisie se honde-eenheid aan die Wes-Rand. Hy is ook as gyselaarsonderhandelaar opgelei en was die Johannesburgse gebied se gyselaarbevelvoerder tussen 1996 en 2005.

Hy het ook in 1995 by die polisie se duikeenheid betrokke geraak en duik toe nog liggame uit die water.

Passie vir die gemeenskap

Lategan het op 1 Desember 1983 by die polisiediens aangesluit.

“Ek het geweet ek wil die gemeenskap op een of ander manier dien, maar het aanvanklik oorweeg om onderwys of regte te studeer.”

Hy het ná skool by die junior reserviste betrokke geraak en daar het sy passie vir polisiewerk begin.

“In die polisiediens staan jy naby aan die gemeenskap en dien jy hulle met die werk wat jy doen. Daar ontwikkel ʼn vertrouensverhouding tussen jou en die gemeenskap. As jy ʼn verskil maak, dra die gemeenskap jou op die hande.”

Lategan sê hoewel dit tragies is wanneer hy liggame van kinders uit die water moet duik, bring dit ook effens berusting om die kind aan sy of haar ma te oorhandig.

“Die ouers van die kinders het gewoonlik soveel waardering vir jou dat jy hulle kinders aan hulle kan terugbesorg.”

Bekamping van misdaad

Lategan vertel aan Maroela Media van die opersies waarby hy betrokke is [Foto: Janice du Plessis, Maroela Media)

Volgens Lategan is hy op sy gelukkigste wanneer hy op ʼn operasie uitgaan en aktief misdaad beveg.

“Ek is nie iemand vir papierwerk en die kantoor nie. Ek hou van die aksie. En al staan my loopbaan einde se kant toe, voel ek steeds sterk en aktief genoeg om saam met ander beamptes op die grond te werk.”

Lategan sê hy kry groot bevrediging uit sy werk wanneer hulle tydens ʼn operasie sukses behaal deur op goedere beslag te lê en inhegtenisnemings te maak.

“Ons het juis verlede Vrydag op ʼn gebou waar vervalsde goedere geberg is, toegeslaan. ʼn Struweling tussen ons en die verdagtes het uitgebreek, maar ons het gewen. Ons het met R24,5 miljoen se goedere weggery en die kersie op die koek was die inhegtenisnemings.

“Sulke suksesse motiveer my vir die volgende operasie.”

Lategan sê die sukses van operasies hang egter af van spanwerk en ʼn individu kan nie die sukses vir homself toeëien nie.

“Dit is goed as jy met ʼn span – wat jy kan vertrou – nou kan saamwerk en oor goeie toerusting beskik. Ons het ʼn baie sterk span in Johannesburg en die toekenning wat ek ontvang het, moet eintlik aan hulle almal gaan. Want sonder my span is ek niks nie.”

Lategan sê elke operasie verskil en soms kan dinge ook skeefloop.

“Partykeer lek daar inligting uit, dan vlug die verdagtes met die vervalste goedere voordat ons kan toeslaan. Ander kere word daar op ons geskiet, of ons word met ysters en messe oorval of met klippe bestook.”

Lategan sê hy word omtrent daagliks in lewensgevaarlike situasies geplaas en volgens hom vrees hy die onbekendheid van die situasies.

“Die onbekende en onsekerheid maak my bang. Dit is waarom ons ten alle tye paraat en wakker moet wees. Ek sal op pad na ʼn operasie heel skrikkerig wees omdat ek nie weet wat gaan gebeur nie. Daar word ook meer druk op my geplaas omdat ek in bevel is en moet seker maak al my spanlede veilig is.”

Werklewe vs gesinslewe

Dié passievolle polisieman is egter ook ʼn gesinsman.

Volgens Lategan handhaaf hy ʼn goeie balans tussen sy werk- en gesinslewe. Hy sê sy vrou en twee kinders – ʼn seun (21) en dogter (16) – is sy steunpilare.

“My vrou werk as finansiële adviseur van die huis af en sy verstaan my werkure en wat ek doen.”

Lategan sê hy begin meestal teen 07:00 werk en werk dan gewone werkure, maar moet soms na-ure of oor naweke werk wanneer daar ʼn operasie is wat sy aandag verg.

“Ek ry in die oggende bergfiets voordat ek werk toe gaan. Ek en my vrou draf ook graag saam.”

Vir ontlading ry Lategan ook motorfiets of hy en sy vrou gaan stap of kamp.

Die gesin het ook twee honde wat vir Lategan soos kinders is.

“Smiddae wanneer ek by die huis kom, staan die honde op hul agterpote al gereed en opgewonde om my te sien.”

Volgens Lategan het die polisiediens oor die jare goed vir hom gesorg en beskou hy dit nog altyd as sy roeping.

“Dit is ʼn goeie loopbaankeuse vir enige jong mens wat by die gemeenskap betrokke wil raak en ʼn verskil wil maak.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Maggies ·

Dít is nou die perfekte persoon om as ‘n minister van polisie te hê. Baie geluk aan kolonel Lategan.

Nie Verbaas ·

Baie geluk en dankie vir uitstekende diens. Dit is n wonder dat een van ons hopelose BEE lede nie “demand” het dat hy/sy die toekenning moet kry nie. Dit gaan seker weer as rassisme afgemaak word.

Shakespeare ·

Saluut. Trots op jou. Net jammer 90% SAP is onbevoeg. Ons sou die beste SAP in die wêreld gewees het as die deursnee SAP soos jy was.

Nie Verbaas ·

Korrek, dan was daar nog wet en orde en ons het respek vir die reg gehad.

christo ·

Ek ken SAPD lede wat uiters toegewyde polisiebeamptes is. Dit frustreer hulle verskriklik om saam met korrupte, lui en onbevoegde ‘ cheque collectors’ te moet werk. Hulle lek inligting uit en beroof self mense van hulle eiendom.

Frank ·

Ons is die beste SAP in die wereld…… want daar is net een SAP in die wereld.
Jy bedoel seker poliesiemag

Francois ·

Kan nie glo. N wit persoon kry dit in n swart rasistiese land. Hulle gaan seker nou toy toy daaroor ook

Dries ·

Baie besonderse prestasie om op trots te wees, veral vir die familie ook. Baie geluk.

Herpiet ·

Hy behoort nou bevorder te word. Maar ons weet wat die stand van sake is.

Grassie ·

Cele verdien nie pensioen nie. Hulle moet net vir hom sê “skoert”.

Magda ·

Baie geluk HARDE werk word altyd beloon. Trots SA SE wit polisie diens.

Samuel ·

Kol. Lategan, veelsgeluk met die toekenning! Dit sal ook seker die laaste keer wees wat soiets ‘n SAP-lid te beurt val. Daar is nie sulke BEE polisielede nie.

Althes ·

Baie geluk kolonel Kobus Lategan!. Wat is die kanse dat jy kommissaris van polisie kan raak of minister van polisie? Hopenlik so, dalk heel moontlik alternatiewelik met ander ñ politieke party.

Politikus ·

Maar dit is tog onmoontlik….die man is dan wit!? Fopnuus!

Ian ·

Pragtig man. Trots op jou. Moet nie toelaat dat ander onbevoegde persone jou aftrek nie. Ons het honderd duisende van u nodig dat ons land weer voort kan gaan.

David ·

Wanneer gaan die anc/eff vir interpol van rassisme beskuldig?

George ·

En hy aal nooit bevorder word tot on generale posisie nie, hy sal net die ou bly wat die vrot SAPS moet laat goed lyk..

Het CR of BC hom al amptelik met groot “fanfare” gelukgewens?

Mier14 ·

Baie geluk! Dankie vir jou voortgesette toewyding, ek is seker dit kan nie maklik wees nie. Mag die enkele polisie lede daarbuite wat ook hierdie integriteit het sterk staan, ons eer en dank julle vir julle diens en toewyding. Jammer dat die algemene publiek met ongeskikte, onbehulpsame, arrogante personeel te doen het.

Charl ·

Trots op jou Kobus ! Veels geluk. Perfekte kandidaat as Minister van Polisie !

lodewyk ·

Baie geluk jy verdien dit,wys jou daar is nog 1% wat tel in die huidige Saps

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.