SA politieke landskap: 3 moontlike scenario’s

prof-andre-duvenhage-sakeliga-2019-05-28-verwerk

Prof. André Duvenhage het ‘n toekomsblik op SA se politiek oor die volgende vyf jaar by ‘n Sakeliga-ontbyt verskaf. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Prof. André Duvenhage, ʼn politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, meen Suid-Afrika gaan oor die volgende vyf jaar ʼn moeiliker fase betree met selfs groter ekonomiese, politieke en maatskaplike uitdagings as in die tydperk van 1989 en 1994.

“Die groot vraag is: kan pres. Cyril Ramaphosa die argitek van ʼn nuwe begin wees? Ek het gehoor Ramaphosa wil die weg van ʼn gematigde leier inslaan. Hy is ook pynlik bewus van minderheidsgroepe se belange omdat hy ʼn Venda is, wat self ʼn minderheid in die land is.”

Hy meen die feit dat Suid-Afrikaners nou al ʼn geruime tyd moet wag om te hoor wie in Ramaphosa se nuwe kabinet ingesluit sal word, is eintlik ʼn goeie teken.

“Dit is ʼn kenmerk van Ramaphosa se styl om te onderhandel. Die president se eerste prioriteit is nou om ʼn veel kleiner, doeltreffende, bekwame en verteenwoordigende kabinet aan te stel, wat dienslewering kan verbeter. Dit sal geen maklike taak wees nie.”

Duvenhage het Dinsdag in Centurion met ʼn sakeontbyt van Sakeliga ʼn strategiese ontleding van die volgende vyf jaar se politiek in die land verskaf.

“Dit is belangrik dat ʼn mens probeer verstaan wat in die volgende vyf jaar kan gebeur en vandag wil ek ʼn kaart gee wat natuurlik onderhewig is aan veranderinge,” sê Duvenhage.

Drie moontlikhede vir die toekoms

Hy het drie moontlike scenario’s vir die tydperk aangebied. In die aangepaste status quo-scenario behou die ANC sy meerderheid waarin die beleidsraamwerk toenemend na populisme neig. “Dit is ʼn voortsetting van die stand van sake tans in die land met al sy betrokke uitdagings maar met ʼn verslegte veiligheidsituasie en ekonomie.”

In die bes moontlike scenario slaag Ramaphosa daarin om ʼn nuwe begin in te stel. In hierdie toekomsblik stuur die ANC die land in ʼn nuwe rigting wat volgens Duvenhage beteken daar is daadwerklike optrede teen endemiese korrupsie, die grondkwessie word hanteer en daar is ʼn terugkeer na ʼn bedeling waarin die konsep van die reënboognasie seëvier.

“Hierdie scenario sal staatsmanskap en harde ekonomiese en finansiële besluite vereis, asook ʼn skoonmaakoperasie binne die ANC en die regering, wat weerstand kan lok van byvoorbeeld die vakbonde.

“Dit kan selfs aanvanklike onstabiliteit veroorsaak, maar op die langer termyn lei tot politieke en ekonomiese stabiliteit vir Suid-Afrika.”

In die derde scenario voorspel Duvenhage groot stroomversnellings en wit waters.

“Hier versterk bestaande patrone van ʼn kultuur van geweld en intimidasie terwyl die dreigemente van ʼn sesessie sterker na vore tree. Ek dink nou maar hier aan koning Goodwill Zwelithini se dreigement dat die Zoeloes sal afstig as die grondkwessie hulle sou raak.

“Die ekonomie sal in hierdie geval toenemend onderpresteer en deel word van ʼn bose kringloop van eskalerende onstabiliteit in die land.”

Duvenhage meen die toekomsblik kan ʼn realiteit word indien die sogenaamde Zuma-groepering daarin slaag om die ANC te destabiliseer en sy magsbasis verswak.

Pres. Cyril Ramaphosa lewer sy inhuldigingstoepsraak. (Foto: SA Government via Twitter)

ʼn Skuif in die magsbasis

“Ek voel die magsbasis binne die ANC het aan die begin van hierdie jaar in die guns van Ramaphosa geswaai. Waar dit net ná die leierskapkonferensie by Nasrec net-net 50% was, het dit nou in sy guns gedraai, maar sy magsbasis binne die party is nog nie meer as 60% nie.

“Dit verklaar ook waarom hy David Mabuza weer moontlik as adjunkpresident sal aanstel. Ramaphosa kan nie bekostig dat dit ʼn geval word van Luthuli-huis teen die Unie-gebou nie wat kan gebeur as oudpres. Jacob Zuma en Ace Magashule, die sekretaris-generaal van die ANC, ʼn koalisie van gewondes met Mabuza sou smee.”

Duvenhage sê Mabuza het beslis planne om die volgende president van die land en ANC te word.

“Hy is beslis ʼn politieke faktor en het ʼn groot steunbasis vanuit KwaZulu-Natal, maar ʼn mens moenie vergeet dat Ramaphosa (66) nou eers met sy eerste termyn as die land se president begin nie en hy gaan homself beslis vir ʼn tweede termyn beskikbaar stel.

“As Ramaphosa sake goed bestuur, staan hy beslis ʼn kans om dit te doen.”

Duvenhage sê kenners meen die ekonomiese vooruitsigte vir die land bly beperk.

“Ek dink egter as daar een persoon is wat dit besef, is dit Ramaphosa.”

Duvenhage sê grondonteiening en ʼn poging om buitelandse beleggings vir die land te kry, kan nie saam gedoen word nie.

“Ek vermoed daar gaan baie uitlatings daaroor gemaak word, maar die uitwerking sal beperk wees.”

Hy glo die ANC besef hoe afhanklik hulle van Ramaphosa is aangesien sekere peilings voor die verkiesing getoon het die ANC se steun sou 40% gewees het sonder hom, iets wat Fikile Mbalula, die ANC se hoof van verkiesing, ook ruiterlik erken het.

Duvenhage sê die ANC sal steeds alles binne sy mag doen om te verhoed dat daar ʼn skeuring binne die party kom. Hy meen daar is tans steeds ʼn stryd om die siel van die ANC, maar dat Ramaphosa aan die kant staan van ʼn gematigde sy.

Minister Lindiwe Sisulu. Foto: GCIS/Flickr

Internasionale betrekkinge en die ekonomie

“Ramaphosa se bewind sal ook gematig gerig wees op Westerse regerings. Die ANC het nog altyd sterk bande met Rusland en die Chinese gehad en dit is iets wat nie maklik uitbestuur sal word nie.

“Die president het egter ʼn probleem gehad met hoe Lindiwe Sisulu die gradering van die Israelse ambassade en Venezuela hanteer het. Vandaar die gerugte dat sy nie weer minister van internasionale betrekkinge en samewerking sal wees nie.”

Duvenhage meen Ramaphosa het ʼn spesifieke styl van onderhandeling. “Hy hou daarvan om sy moontlikhede oop te hou en speel na albei kante toe. Hy sal die bande met die Weste behou en nie die bande met China verbreek nie in ʼn poging om te kyk hoe hy sy kaarte kan speel om die beste vir die land te kry.

“Die toetssteen vir Ramaphosa sal wees of hy die grondleggingswerk vir hervorming en beleidsekerheid kan vestig terwyl die ekonomie daarin slaag om te groei van 1% na 2% of selfs 3%.”

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê op sy beurt die volgende paar weke sal aanduidend wees van wat sakelui van Ramaphosa se termyn as president kan verwag.

“Wanneer Ramaphosa sy nuwe kabinet aankondig, sal die mense wat hy aanstel asook die staande beleid van die ANC van groot belang wees. Sakeliga hou die verwikkelinge by die regering se ministeries oor handel, ekonomiese beleid, staatsbeheerde instellings en die tesourie fyn dop. Op kort termyn is Eskom die belangrikste kwessie wat nou bygelê moet word. Die ligte moet aanbly.”

Duvenhage het op sy beurt bygevoeg dat daar steeds talle geleenthede in Suid-Afrika is. “Ons moet verby die uitdagings leer kyk. Ek dink sakemense en minderheidsgroepe is nou in die ideale posisie om bydraes te kan lewer en Ramaphosa sal ontvanklik wees hiervoor omdat hy ʼn reusetaak het wat voorlê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andreas

Ek wens ek was nou 18 jaar oud.

Erick

Oom, jy moet saam met ons op voetsoolvlak beweeg,dan sal jy sien dat die geleenthede besig is om te krimp. Ook, ek weet nie of mense besef hoeveel individue en jong gesinne is in die proses om die land te verlaat nie. Dit sal ‘n uitwerking hê op alle terreine. Neem asb tog net dit ook in m.b.t. toekoms voorspellings.

ADT

Ons het hulp van buite nodig. Gaan hou jou toesprakke in die buiteland en vertel hulle elke dag word blankes op rassistiese wyse gruwelik vermoor en Ramaphisa se daar bestaan nie so iets nie

Johann v Heerden

Ja en ons as wit Afrikaners kan maar net magloos toekyk en hoop. Ons moes nooit in hierdie situasie gewees het nie. Ons is mislei deur ‘slim’ akademici en ‘leiers’ wat nou knus sit en nog ‘n eiertjie le so dan en wan. Daar moes harder vir ‘minderhede’ se mag beding gewees het voor 1994. Nou kan ons net toekyk hoe ander die land vernietig. Ek het min hoop en is te oud om oorsee te vlug. Ek dink egter nie ‘vlug’ is die regte pad nie, want ek hou nie van opgee nie. Ek hoop steeds dat ons ‘n… Lees meer »

Gert

Ek wens ek het so ‘n rooskleurige prentjie gesien. My scenarios is die een erger as die ander, en daar is nie ‘n positiewe ene nie.