SA reageer ná VSA name van 4 wat Isis glo help, bekend maak

isis terreur

Argieffoto.

Suid-Afrika bly daartoe verbind om terrorisme in al sy vorme en manifestasies te beveg, en sal nie toelaat dat sy grondgebied gebruik word om terrorisme in ander lande te finansier nie.

Só het Enoch Godongwana, minister van finansies, en Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, gereageer nadat die Amerikaanse tesourie stappe aangekondig het teen mense in Suid-Afrika wat glo as finansiële fasiliteerders vir die Islamitiese Staat (Isis) optree.

“Isis-lede en verwante belanghebbendes in Suid-Afrika speel ʼn toenemend sentrale rol in die fasilitering van die oordrag van geld vanaf die toppunt van die Isis-hiërargie na takke oor die hele Afrika,” het die Amerikaanse tesourie in ʼn verklaring gesê.

Vier lede se name is bekend gemaak. Hulle is Farhad Hoomer, Siraaj Miller, Abdella Hussein Abadigga en Peter Charles Mbaga.

Volgens Godongwana en Lamola is die betrokke Suid-Afrikaanse owerhede wat hierdie aangeleentheid ondersoek met die relevante Amerikaanse owerhede in verbinding, maar verdere besonderhede oor die verbintenisse en verwante ondersoeke kan nie in dié stadium bekend gemaak word nie.

Die Amerikaanse tesourie se kantoor vir buitelandse batebeheer het gesê alle eiendom en belange in eiendom van dié betrokke Isis-lede, en van enige entiteite wat direk of indirek 50% of meer deur hulle individueel of met ander versperde persone besit word en wat in die VSA is of in die besit of beheer van Amerikaners is, moet versper en aangemeld word.

Isis het onlangs gepoog om sy invloed in Afrika uit te brei deur grootskaalse operasies in gebiede waar regeringsbeheer beperk is, voer die Amerikaanse tesourie aan. “Isis-takke in Afrika maak staat op plaaslike geldinsamelingskemas soos diefstal, afpersing van plaaslike bevolkings en ontvoering vir ʼn losprys, asook finansiële ondersteuning van die Isis-hiërargie.”

Daar word beweer dat Hoomer tussen 2017 en 2018 gehelp het om ʼn Isis-sel in Durban te stig en te organiseer. Hy het glo van sy eiendomme en voertuie verskaf om die sel se vergaderings en operasionele aktiwiteite te borg. Hoomer het glo ook sellede gewerf en geld ingesamel deur losprysontvoerings en afpersing van groot ondernemings, wat meer as R1 miljoen aan inkomste vir sy sel verskaf het. Hy en van sy medewerkers is in 2018 in hegtenis geneem vir hul betrokkenheid by ʼn plan om ploftoestelle by ʼn moskee en kommersiële geboue te plant.

Miller, wat glo ʼn groep Isis-ondersteuners in Kaapstad lei, word daarvan beskuldig dat hy finansiële bystand aan die terreurgroep Isis verleen het deur lede op te lei om rooftogte uit te voer om geld in te samel. Hy het glo ook gehelp met die verkryging van tydelike plekke van veiligheid vir Isis-lede.

Abadigga het na bewering jong mans in Suid-Afrika gewerf en na ʼn wapenopleidingskamp gestuur. Abadigga, wat twee moskees in Suid-Afrika beheer, het sy posisie glo misbruik om geld van lede van die moskees af te pers.

Mbaga het glo geldoordragte vanaf Suid-Afrika gefasiliteer en ondersteuning aan Isis in Mosambiek probeer verleen deur die groep te help om toerusting van Suid-Afrika te bekom. Mbaga het glo ook probeer om wapens uit Mosambiek te bekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Witwax ·

Die ANC regeering is gekant teen enige vorm van terrorisme, hoe kan jy gekant wees teen oor jou self, dit maak nie sin nie.

Jack ·

Die regering kan vir Our People lieg maar die buiteland val nie vir hulle onwaarhede en liegstories nie.Suid Afrika is ‘n misdaad mekka.Terrorisme is deel van die regering en die ANC.Hoe vinninger die buiteland leer om nie ‘n woord te glo wat CR en kie kwytraak nie hoe beter.

Kokerboom ·

Wat het Minister van Finansies hiermee te doen?
Straf die ISIS meelopers

Wielspore ·

Isis is tans besig om gedeeltes van Noord Mosambiek oor te neem gegrond op terroristiese metodes, korrupte Mosambiekse staats amptenare word omgekoop om dwelms deur Maputu se hawe in te bring. Die dwelms word hier herverpak en die meerderheid gaan Amerika toe en ‘n klein hoeveelheid kom SA binne via MPA en KZN. Nelspruit roete is die een verspreidings netwerk vir Witbank en Gauteng. Die geld wat gemaak word uit die dwelm verkope betaal vir die wapens van Isis. In direk befonds dwelm misbruikers van die VSA self die bedreiging (Isis) wat teen hulle gevoer word. En dan trek SA net hulle skouers op en pleit onskuldig terwyl Isis lede veilig in SA skuil. Van die ouer voorstede van Johannesburg word genoem en dan ook gedeeltes van die Wes Kaap waar veilige huise vir Isis is.

Swerwer ·

En hul dink ons gaan die bog glo! Dit terwyl hul nie optree teen kommunisme wat aan die orde van die dag in ons land seëvier.

Martin ·

Die enigste manier om die ISIS (Islamitiese Staat) jihadistiese beweging te beveg is deur sy affiliasies in SA te teiken. Vir die mense wat kennis dra jy kan nie ISIS met Al-Kaïda vergelyk nie want hulle het verskillende doelwitte en verskillende teikens. Ongelukkig versprei die Islamitiese Staat se invloed en model. Selfs in baie Afrika-Moslem lande waar ISIS nie ‘n sterk teenwoordigheid het nie, radikaliseer sy opkoms hul bevolkings, stimuleer sektarisme, en vererger dit onstabiliteit in lande soos byvoorbeeld ons buurland Mosambiek en dan ander lande in Afrika soos Kenia, Nigerië en Mali net om ‘n paar te noem. Al-Kaïda en sy affiliasies bly ‘n bedreiging in sekere gebiede terwyl ISIS se gevaar meer vir die stabiliteit van die sekere lande en streke is. Amerika se intelligensie network weet wie in SA betrokke is. Ons SANW is nie gereed om ‘n ISIS oorlog te baklei nie as gevolg van swak ANC bestuur en onvoldoende fanansiële ondersteuning.

Hennie ·

Behalwe as die terroriste die ANC SE aambeie in Rusland is, dan is dit n swaap van ‘n ander haar!

Johann ·

Die ANC het dmv terreur in SA aan bewind gekom. Alle skurke is in die misdaadparadys wat deur hulle geskep is welkom. Die ontplooide troepe teen IS in Mosambiek is maar net `n verskoning om verdedigingsuitgawes te regverdig, en niemand weet eers presies wat hulle daar doen nie. Daar is nie eens voldoende logistieke ondersteuning vir hulle nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.