SA reaksie op situasie in Mosambiek vorder stadig

Minister Naledi Pandor (Foto: DIRCO South Africa, Twitter)

Die Suid-Afrikaanse regering se reaksie op die verslegtende veiligheidsituasie weens die gewelddadige inval van fundamentalistiese Islamitiese magte in die noorde van Mosambiek vorder bra stadig.

Dit blyk uit ʼn parlementêre antwoord deur die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Naledi Pandor.

DA-LP Darren Bergman het haar gevra oor die moontlikheid dat selgroepe wat aan die Islamitiese Staat verbonde is, in Suid-Afrika geaktiveer kan word indien die land die Mosambiekse regering teen die invallers sou bystaan.

Pandor het gesê geen sulke aanduidings is al deur haar departement waargeneem nie.

Sy het gesê Suid-Afrika bly verbind tot die besluit van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG)-beraad in Augustus verlede jaar, wat bepaal dat die Mosambiekse regering ondersteun moet word.

Op 27 November verlede jaar het die SAOG-leierskap in Gaborone byeengekom en besluit ʼn omvattende plan vir streeksoptrede ter ondersteuning van die Mosambiekse regering moet opgestel word.

Tydelike skuilings in die Metuge-distrik van Cabo Delgado. (Foto: Alfredo Zuniga/AFP)

Samesprekings hieroor het op 14 Desember in Maputo plaasgevind, maar die plan is nie gefinaliseer nie.

Staatshoofde moes die kwessie in Januarie verder bespreek, maar weens die koronavirus is daardie samesprekings uitgestel, het Pandor gesê.

Amnestie Internasionaal het vroeër die week in ʼn verslag gesê Jihadiste, regeringsmagte en ʼn “private burgermag” wat die owerhede steun, het al honderde burgerlikes in die noordooste van Mosambiek vermoor.

Die geweld in Cabo Delgado het sedert 2017 die lewe van minstens 2 600 mense geëis, het die nieregeringsorganisasie Armed Conflict Location and Event Data (ACLED) gesê.

Inwoners is vasgevang in die geweld tussen die Mosambiekse veiligheidsmagte, die private burgermag wat saam met die regering veg en die gewapende opposisiegroep wat plaaslik bekend staan as Al-Shabaab, het Deprose Muchena, streekhoof van Amnestie Internasionaal, gesê.

“Al drie het oorlogsmisdade gepleeg en die dood van honderde burgers veroorsaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Werner ·

Daar kan nie n reaksie wees nie want ons het nie n weermag nie.

koos10 ·

Of Misdaad Intelegensie of Grensdrade of ‘n regering wat omgee nie!

Wielspore ·

Vroeër die week was daar ‘n berig oor ‘n SA militere vliegtuig wat op Nelspruit lughawe geland het en daar was heelwat vrae rondom dit. Die antwoord van die weermag was dat dit gebruik was vir ondersteuning aan Mosambiek regering.

Suzette ·

Weet nie wat SA se reaksie enigsins sal verander nie. Die regering van die dag kan nie eens die probleme in SA suksesvol aanspreek nie, inteendeel…..

Hennie J ·

As die klomp besluit hulle gaan ons ook vat, gaan hulle ons nie vat vir uiteet nie! Sal graag die ongedissiplineerde soldate met hulle oorgewig offisiere met hakskoene in aksie op die front wil sien!!!

Jaco ·

Hulle maak asof daar niks fout is nie. Want daar is nie geld om die weermag te ontplooi nie.

Casper ·

Hulle het vanaf Tanzanië tot I’m Mosambiek gevorder.Hulle is verspreid en dit gaan aanvalle vir ons moeilik maak.Ons lug en see aanvalle is ons enigste wapen om hulle terug te dryf.Dan kan die Mosambiekse weermag optreë.Ons weermaglede sal nie die pyp rook nie want daar is nie oortyd nie.

SomeOne ·

sa wil mosambiek help, met wat nogal, sa kan nie eers sy eie probleme uit sort nie, maar hul wil ander lande se gemors takel, what a joke !
onttrek die “magte” uit die drk en stuur hulle om dis strooi uit hulle te klap

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.