SA regering onttrek steun aan Mej. SA-organisasie oor Mej. Heelal-herrie

Lalela Mswane is as Mej. Suid-Afrika 2021 gekroon. (Foto: Verskaf)

Lalela Mswane, die huidige Mej. Suid-Afrika, sal in Desember vanjaar sonder die ondersteuning van die regering aan die Mej. Heelal-kompetisie in Israel deelneem.

Die departement van sport, kuns en kultuur het Sondag in ʼn verklaring gesê dat hy sy ondersteuning van die Mej. Suid-Afrika-organisasie onttrek ná vrugtelose pogings om hulle te oorreed om nie aan dié internasionale kompetisie deel te neem nie.

Luidens die verklaring het die organiseerders van Mej. Suid-Afrika die regering se raad “onversetlik verontagsaam”.

“Die samesprekings met die organiseerders het aanvanklik deelnemend en opbouend voorgekom, maar is later met ʼn onaangename, onversetlike houding gestuit sonder om die potensieel negatiewe uitwerking van só ʼn besluit op die reputasie en toekoms van ʼn jong, swart vrou in ag te neem,” het Nathi Mthethwa, minister van dié departement, gesê.

“Die gruweldade wat Israel teen Palestyne gepleeg het, is goed gedokumenteer en as die wettige verteenwoordiger van die mense van Suid-Afrika kan die regering hom nie met ʼn goeie gewete daarmee vereenselwig nie.”

Mthethwa sê die organiseerder is daarop gewys dat aartsbiskop Desmond Tutu destyds gesê het dat Israel aan “apartheidsbehandeling van Palestyne skuldig was”.

Die minister meen hy het waardering vir die belange van Mswane, maar glo dat die redes vir onttrekking aan die kompetisie veel swaarder as dié belange weeg.

“Inteendeel, deur haar te onttrek sal Mej. Suid-Afrika se reputasie en algehele aansien in Suid-Afrika en internasionaal op ʼn baie hoër vlak wees in vergelyking met ʼn eenmalige gebeurtenis wat rampspoedig vir haar toekoms en openbare aansien as jong, swart vrou kan wees.”

Volgens Mthethwa was dit nodig om die regering en mense van Suid-Afrika in die openbaar van die Mej. Suid-Afrika-organisasie te distansieer.

“Diesnieteenstaande hoop ons dat gesonde verstand in die belang van Mswane sal seëvier, en bly ons ontvanklik vir besprekings in daardie verband.”

Die EFF het Woensdag ook druk op Mswane geplaas om haar te onttrek deur ʼn verklaring uit te reik waarin die party haar vra om dié “apartheidstaat en die kompetisie in geheel te boikot”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

48 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wielspore

En daar wen die politieke blyspel weer die beker vir inmenging!

Alta Alleman

Kan hierdie minister asb ook alle politieke inmenging van alle sportsoorte ook ontrek?

James

Wat van die gruweldade wat Palistiena teen oor Israel gepleeg het? Dit is tipies ANC. Jy Hoor net van gruweldade wat die NP teenoor die onskuldige mense van SA gepleeg het maar nooit die gruweldade wat die ANC teenoor die onskuldige mense gepleeg het. ANC, bou n brug en kom daaroor.

Anel

Nou wie dink hy is hy? Hy verteenwoordig defnitief nie vir my nie. Ek kan nie verstaan wat politiek met dit te doen het nie? Dit sê vir my dat ons nou omonwonde ‘n komunistiese staat is. Maak soos ons sê of….! Los die jongmense om deel te neem waaraan hulle wil!! Die wêreld lag in elke geval vir hom, en dan vir ons.

Dries

Nou hoop ek hierdie girl neem deel,en WEN die pageant.Dan wil ek die eier op anc se gesigte sien.Maar ek weet nou al.Hulle gaan juig en uitblêr hoe trots hulle is oor n kind van Afrika die wêreld uitgestof het.Oooooeeeee,ek kannie wag nie