SA resessie: Ekonomie betaal die prys vir politieke onstuimigheid

finansies-platsak-beursie-flickr-com

SA se ekonomie presteer reeds vir ʼn geruime tyd lank swak. Dit beteken die gemiddelde ou is slegter daaraan toe en bly verarm, Foto: Flickr.com.

Ekonome is dit eens dat Suid-Afrikaanse verbruikers hulself sal moet staal vir onstuimige ekonomiese waters.

Statistiek Suid-Afrika (SSA) het gister aangekondig dat die land vir die eerste keer sedert 2009 in ʼn resessie is nadat die bruto binnelandse produk (BBP) vir twee agtereenvolgende kwartale negatiewe groei getoon het.

Hulle meen die jongste ontwikkelinge beteken dat ekonomiese groei vir 2017 nou eerder rondom 0,7% sal wees en nie die verwagte 1%-groei sal haal nie.

Prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se besigheidskool het gesê die swak groeivooruitsigte sal ook ʼn negatiewe uitwerking op sakevertroue en toekomstige beleggingsgraderings hê. Die swak ekonomie kan werkloosheid ook  verder laat styg. SSA se jongste werkloosheidsyfers, wat verlede week bekendgemaak is, het getoon werkloosheid is op die hoogste vlak in 13 jaar op 27,7%. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens sal ook sukkel om belasting in te vorder omdat mense se inkomste nie veel gaan styg nie of selfs omdat mense moontlik hul werke kan verloor.

“Die grootste verrassing en skok was dat beide die sekondêre sektore, wat vervaardiging- en konstruksiebedrywe insluit, en die tersiêre sektore, wat bestaan uit die finansies-, vervoer-, handel-, regerings- en persoonlikedienste-bedrywe, verswak het. Ek kan my nie voorstel dat ek dit al ooit in die verlede beleef het nie,” het Adam Jacobs, ʼn onafhanklike ekonoom, gesê.

Jacobs meen die resessie is ʼn bevestiging dat die bestedingskrag van individue besig is om te daal. “As die landboubedryf uit die prentjie verwyder word, het die ekonomie eintlik met ʼn totaal van 1,2% gekrimp.”

Die enigste ligpunte in die donker ekonomiese prentjie is die groei in die landbou- en mynboubedrywe wat na verwagting die plaaslike ekonomie sal dra terwyl die internasionale ekonomiese vooruitsigte ook in die tussentyd ietwat verbeter het, maar dit blyk dat die Suid-Afrikaanse ekonomie sukkel om daaruit munt te slaan.

“Sake- en verbruikersvertroue is albei steeds laag en dit blyk dat ekonomiese aktiwiteite in Suid-Afrika in die toekoms maar stadig en wisselvallig in die komende maande sal wees.

“Ons benodig ʼn herstel in private vastebeleggings om Suid-Afrika se ekonomiese groeivooruitsigte te verbeter, maar dit word belemmer deur politieke en beleidsonsekerheid. Kortom, die Suid-Afrikaanse ekonomie is die gyselaar van politieke faktore en beleidsonsekerheid het ʼn nuwe soort belasting op ekonomiese prestasie geword waarvoor die Suid-Afrikaanse verbruiker ook moet vergoed,” het Parsons gesê.

Gerhard van Onselen, ekonomiese navorser by Solidariteit se Navorsinginstituut, glo die tegniese resessie is ʼn uitvloeisel van die politieke chaos wat in Desember 2015 begin het met die afdanking van Nhlanhla Nene as minister van finansies.

“Vertroue het afgeneem, maar tog weer in 2016 effens versterk. Dit is egter die finale nekslag toegedien ná die laaste kabinetskommeling hierdie jaar. Selfs die beter ekonomiese vooruitsigte in die buiteland en die versterking van die Rand kon sake vir ons ekonomie nie veel verbeter nie,” het Van Onselen gesê.

Ekonome meen die land se ekonomiese situasie kan nou net deur ʼn duidelike, konsekwente, samehangende groei-gerigte beleid beredder word.

“Die punt is dat SA se ekonomie reeds vir ʼn geruime tyd lank sleg presteer. Dit beteken die gemiddelde ou is slegter daaraan toe en bly verarm, en die blaam vir hierdie resessie kan net voor die deur van die land se destruktiewe regering gelê word.

“Indien daar nie nou vinnige aanpassings gemaak word nie, sal die daaropvolgende jare net nog slegter wees en kan ons selfs nóg swakker ekonomiese groei vir 2018 en 2019 verwag,” het Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, gewaarsku.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Janie du Plessis ·

Dagsê Yolandi,
Dankie vir jou kommentaar en vir jou valkoog! Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Anika ·

Die redes in die berig is sekerlik nie al wat die skuld moet kry vir die resessie nie. Die skrywer het vergeet om te noem dat die staatskas leeg gesteel word terwyl dienslewering net al hoe meer agter raak, terwyl die belastingbetaler op allerhande maniere bygekom word om net al hoe meer belasting te in.

Jan ·

Is die opskrif nie verkeerd nie. Belastingbetalers of verbruikers betaal eeder vir politieke dwaasheid. Nie die ekonomie nie? (tong in die kies)

Dirkie ·

Die probleem in hierdie land is dat hier te veel bejaardes is. Hulle wil nie aftree nie en jonger mense kry dus nie werksgeleenthede nie. Hulle dink nie eers aan die jonger mense wat ook ‘n kans moet kry om te lewe nie. Hulle besit al die eiendomme en grond en jonger mense kan nie ordentlike behuising en geleenthede kry nie. Dis wat gebeur as die mens God speel en ou mense se lewensverwagting onnodig met medikasie verleng.

marous ·

Die ekonome weet goed dat niemand in ‘n gekkeparadys sal bele nie. Geen groei in BBP kan plaasvind met die plundering van die land nie. Die gevolge van die verwoesting gaan vir jare duur en ons is nog nie naby die bodem van die put nie , wat nog van ‘n draaipunt…

jaco ·

ek ken brandarm mense wat nog steeds rook en drink en GEEN plan hoegenaamd het om uitgawe op sulke onnodige duur goed te stop nie. Is die resessie dus regtig so erg?

LB ·

Niks sal verander todat die vetgevoerde parlement die ellende aan hul sakke begin voel nie. Nou skep hulle nog en ry en bly in die beste en steun hulle al wat korrup is en die volk betaal die prys vir hul wandade. Ek dink dink dit gaan nog baie slegter gaan voordat dit weer sal beter word. Dalk moet ons ophou belasting betaal?

Johann Marx ·

Fancy woorde, terme, verduidelikings en vooruitskattings word nou rond gegooi deur al wat ‘n ekspert is…..maar praat maar met die man op straat. Die mense wat 20 jaar oue karre ry, want hulle kan nie nuwes bekostig nie. Die mense wat worstel met 122% toename in skoolfonds, terwyl hulle inkomste met 8% gestyg het, as hulle gelukkig was. In 2000 het my buurman als verkoop en na Aus verhuis. Met die geld in sy sak kon hy daar net ‘n effens kleiner huis koop as wat hy hier gehad het. Ek het verkeerdelik gekies om te bly…en nou moet ek 7 huise soos myne teen TOP prys verkoop…om EEN huis in Aus te kan bekostig. DIT…is wat die swart meerderheidsregering vir Suid Afrika gedoen het. En die einde is nog nie in sig nie….

Pieterlewismuts ·

Die kie,
Skaam jy jou nie oor jou uitlatings nie.
Die ouer mense van vandag het hulle hele lewe gestoei om te werk vir n gerieflik Aftrede net om aan die einde uit te vind dat die pensioen beswaarlik genoeg is om voedsel te koop.
Dit is nie dat hulle nie WIL aftreeoord nie. VEEL EERDER is dit n geval dat hulle doodgewoon NIE KAN BEKOSTIG om af te tree nie.
Wag maar hopelik gaan jy een dag ook daar uitkom.

WerkMySat ·

Persoonlik dink ek ons is nog nooit UIT die vorige resessie uit nie. Finansiële posisie van Jan Alleman (self ingesluit) verswak jaarliks.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.