Die nasionale tesourie het Dinsdag gesê Malusi Gigaba, minister van finansies, sal met sakeleiers vergader om strategieë te bedink om die ekonomiese resessie teen te werk en inklusiewe groei te bereik.
Dit kom nadat Statistiek SA Dinsdag aangekondig het dat die Suid-Afrikaanse ekonomie vir die eerste keer sedert 2009 in ʼn resessie is. Volgens StatsSA het die bruto binnelandse produk (BBP) in die eerste kwartaal van die jaar met 0,7% ingekrimp. In die vierde kwartaal van 2016 het die BBP met 0,3% ingekrimp. Inkrimping van die ekonomie vir twee agtereenvolgende kwartale dui op ʼn resessie.
“[Gigaba] sal binnekort met sakeleiers vergader om maniere te vind hoe daar saamgewerk kan word om inklusiewe ekonomiese groei te bewerkstellig,” het die tesourie in ʼn verklaring gesê. “Die huidige stand van die ekonomie plaas meer druk op ons as die regering, die sakesektor, arbeidsektor en die breër samelewing om ons groeiprogram te intensiveer en beleggersvertroue te verbeter as ʼn saak van dringendheid om die inkrimping te stuit en die ekonomie op ʼn hoër groeitrajek te plaas.”
Die grootste negatiewe bydraer tot BBP-groei in die eerste kwartaal was die handels-, spysenierings- en akkommodasiebedryf, wat met 5,9% afgeneem het en tot -0,8 van ʼn persentasiepunt tot die BBP-groei bygedra het. Vervaardiging het met 3,7% afgeneem en huishoudelike verbruiksbesteding met 2,3%.
Altesaam sewe uit tien van die vervaardigingsafdelings het negatiewe groei getoon, insluitend die petroleum-, chemiese produkte-, rubber- en plastiekprodukte-afdeling. In teenstelling hiermee het die mynbou- en steengroefbedryf met 12,8% gestyg, en 0,9 van ʼn persentasiepunt tot BBP-groei bygedra.
Die tesourie het gesê aangesien die BBP-groei swakker vertoon het as verwag, sal die groeiverwagtinge soos in die 2017-begrotingsoorsig genoem waarskynlik afwaarts beïnvloed word. Die 2017 BBP-groei is beraam op 1,3%.
“Indien die huidige groeikoers volgehou word, sal dit lei tot ʼn verdere afname in BBP per capita en inkomste, wat die volhoubaarheid van ons fiskale raamwerk in gevaar stel en die lewering van maatskaplike dienste ondermyn,” het die tesourie gesê.
Ten spyte van die resessie, het die tesourie gesê daar is aspekte waarop Suid-Afrika kan steun om sy ekonomiese groeivooruitsig ʼn hupstoot te gee, soos globale groei wat verbeter, kommoditeitspryse wat stabiliseer, gunstige klimaatstoestande en betroubare elektrisiteitsvoorsiening.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
39 Kommentare
Al wat ek vir die ou kan se is = ‘WHAT GOES AROUND COMES AROUND”
Raak onslae van BEE
Raak ontslae van GBite.
FIRE vir Jacob
Armsalige vent. Kyk oor jou skouer, en sien die een enkele groot “probleem” wat sakevertroue amper op NUL het. Begin daar….en verwyder hom. Solank julle dit nie doen nie, is ons besig om ‘n pleister op kanker te plak….Dit gaan nie help nie.