SA Rugby betuig meegevoel met Oliver-familie

Greig Oliver (Foto: Lions/Twitter)

Mark Alexander, die president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), het namens die hele Suid-Afrikaanse rugbygemeenskap innige meegevoel betuig met Greig Oliver se familie, die Ierse-rugbyunie (Irfu) en die Wêreldrugby-o.20-kampioenskapspan ná ʼn sweeftuigongeluk in Seepunt Maandag sy lewe geëis het.

“Ons dink aan en bid vir die Oliver-familie in hierdie verskriklike tyd, asook die hele Ierse span oor wie ʼn verskriklike skaduwee nou hang,” het Alexander in ʼn verklaring gesê.

“Hierdie toernooi gaan oor jeug, genot en die gedeelde ervaring vir jong mans en hul families. Só verskriklike ongeluk is uiters ontstellend vir die spelers se ouers. Ons deel in die pyn van die Oliver-familie en sluit by hulle aan in die hartseer in ʼn tyd wat vol opwinding en optimisme moes wees.”

Maroela Media het vroeër berig die 58-jarige Oliver, rugby-afrigter van Munster, Ierland, is Maandagmiddag dood nadat twee tandem-valskermsweeftuie in Seepunt, Kaapstad, gebots het. Oliver was ’n passasier van een van die sweeftuie. Twee valskermswerwers het in die lug bo die promenade gebots. Een van die sweeftuie het veilig geland en die vlieënier en passasier was ongedeerd. Die tweede sweeftuig het tydens die ongeluk ’n tweede valskerm ontplooi en het tussen 200 m en 300 m ver in die see geland. Met nooddienswerkers se aankoms op die toneel het hulle die manlike vlieënier van die tweede sweeftuig naby die promenade aangetref. Hy is vir geringe beserings behandel.

Die passasier van dié sweeftuig, wat later as Oliver geïdentifiseer is, is op die rotse by die promenade aangetref.

“Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, wat die geleentheid namens Wêreldrugby aanbied, sal alles in sy vermoë doen om die Oliver-familie te ondersteun in hierdie vreeslike situasie,” het Alexander bygevoeg. Hy het ook sy meegevoel betuig met Kevin Potts, uitvoerende hoof van Irfu, wat in Kaapstad is vir die byeenkoms.

Oliver is ʼn bekende in rugbykringe as ʼn voormalige Skotse internasionale skrumskakel (1987 – 1992) en as Munster-rugby se elite prestasiebeampte. Sy seun, Jack, ook ʼn skrumskakel, is ʼn lid van Ierland se o.20-span.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.