SA Rugby bring hulde aan Lofty Nel

Lofty Nel (Foto: Glansfoto wat op die webwerf BidorBuy te koop aangebied is)

Lofty Nel (Foto: Glansfoto wat op die webwerf BidorBuy te koop aangebied is)

Oregan Hoskins, president van SA Rugby, het Dinsdag sy meegevoel betuig met die familie en vriende van die voormalige Springbok, Lofty Nel, wat Maandagmiddag in die ouderdom van 80 oorlede is.

Die voormalige Springbok-losvoorspeler het die laaste van sy 11 toetswedstryde op 12 September 1970 gespeel teen Nieu-Seeland. Hy was in daardie stadium 35 jaar oud.

Nel, gedoop Johannes Arnoldus, het agt keer teen die All Blacks gespeel en drie toetse teen Australië.

Hy het sy debuut gemaak op 25 Junie 1960 teen Nieu-Seeland in Johannesburg, en was Springbok #362. Hy het flank gespeel in vyf toetse en het in ses wedstryde met die nommer 8-trui op die veld gehardloop.

“Dis altyd ʼn hartseer dag wanneer iemand van die rugbyfamilie sterf en ons betuig ons innige meegevoel met Lofty se familie en vriende in dié moeilike tyd,” het Hoskins gesê. “Hy was ʼn groot en aggressiewe losvoorspeler – een van die harde ouens van Springbokrugby – tydens ʼn uitdagende dekade, maar het altyd die trui eerste gestel en alles gegee wat hy het vir sy land, en het die etos van die spel daagliks uitgeleef.”

Nel het altesaam 24 wedstryde vir die Springbokke gespeel en het ook teen ses toerspanne gespeel in Suid-Afrika in provinsiale kleure. Hy het teen Ierland (1961), Engeland en Ierse Leeus (1962 en 1968), Australië (1963 en 1969), Rhodesië (1966), Frankryk (1967) en Nieu-Seeland (1970) te staan gekom.

Hy het meeste van sy provinsiale rugby vir die Wes-Transvaal (nou die Luiperds) gespeel, wat onder sy kapteinskap in 1964 met die SARB-raadstrofee weggestap het. Hy het ook vir Transvaal (Goue Leeus) en Suidoos-Transvaal (Pumas) gespeel, vir wie hy sy laaste wedstryd as 39-jarige aangepak het.

Hy word Donderdag om 11:00 uit die Wapadrand Gereformeerde Kerk in Pretoria begrawe. Hy laat sy vrou Hester, drie kinders, Dina, Pieter en Hessie, en agt kleinkinders agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Johan Smit ·

Dit was my voorreg om oom Lofty as mens te geken het.
n Man onder die manne en n grote onder die grotes.
Baie sterkte aan sy naasbestaandes en vriende.

Tc ·

Lees dat hy altyd die trui(Springbok Trui)eerste gestel het en alles gegee vir sy land……. Laat my wonder hoeveel van vandag se Bokke het daai “attitude”?? Ons kort meer sulke tipe spelers soos Lofty,Frik,Jan Ellis ens.Rus in vrede Lofty en Sterkte aan die familie in die swaar tyd.

Dewet ·

Sterkte aan die famielie. Maar dit is darm lekker om te lees en ek weet hy het sy buirt mooi uitgespeel.

Jan maak n plan ·

As ek so na Lofty Nel.se foto kyk wonder ek onwillekeurig aan iets. As dit enigens moontlik was en n mens kon daai jare se Springbokke teen die hedendaagse Springbokke sou kon laat speel, hoe die hedendaagse Springbokke sou vaar. RIV Lofty Nel en sterkte aan die familie.

Karma ·

@Jan maak ‘n plan: sjoe, só ‘n wedstryd sal darem ‘n ding of wat wees! Onthou daai ooms is nou al manne in hul – kom ons sê – 50’s of 60’s, selfs 70’s. Die spelers van vandag is harde manne, opgepomp in die gimnasium en met allerlei soort sportaanvullers en spesiale breiers vir sekere dele van die span. Oom Lofty-hulle se manne het nie gespeel vir geld nie, hulle moes dikwels hul eie onkostes vir wedstryde dek en dan het hulle nog ‘n “day-job” ook gehad, so hulle kon nie ure onder breierskap en in die gim deurbring nie. So ‘n wedstryd sal maar ‘n neukery afgee, Jan!

andre sch ·

Ek sal oom Lofty ook onthou as ons diaken op Stilfontein ek was baie windgat daaroor by my vriende.Sterkte aan die Nel fam.

Pastoor ·

Die 1970 Bokke sal so 180 teen 6 verloor. Piet Visagie sal 2 srafskoppe kon oor kry. Hulle het geen kans nie. Van no 1 Oorlee Ronnie Potgieter Gys Pitzer Mof Myburg Gawie Carlese Lofty Jan Ellis Piet Greyling Dawie Piet Mannetjies joggie JansenHO of Ian Mccullum Gert Muller Andy v d Watt ens ens Sou geen kans staan nie vandag se agterlyn is op 1 ofv2 speler almal oor die 100 kg los voorspeler almal oor die 190 slotte oor die 2 meter en die hele span kan n bal handteer. Nee ek dink 210 is dalk nader. Neewat geen kans nie

Pastoor ·

Jan maak n plan die 1970 bokke sou geen kans staan nie. Metv150 plus verloor het. Bokke vandag netvte groot en sterkmenn te vinnig dalk 200 tv3

Ben Prinsloo ·

Van Oom Loftie se heengaan word maar min gesê maar die ander sportheld wat in Kilomanjaro dood is se dood oorheers amper die hele nuus. Hoe eensydig het ons afrikaanse nuus geword. RIP Oubaas. Van ons mens sal jou nog vir lank onthou.

Karma ·

Daai ander ou wat op Kili dood is, is swart; hy was ‘n huidige sportster (hoewel ek nog NOOIT van hom gehoor het nie) en hy was nie deel van die Apartheidsregime nie. Oom Loftie was wit, hy het rugby gespeel in die Apartheidsjare en hy was (redelik) oud. Sê dit vir jou hoekom daar so min oor Oom Loftie in die media gesê is en hoekom die ander ou nou amper gekannoniseer word (amper soos met Mandela).

Bruno Stef ·

Lofty was n groot man wat n voorreg om saam met die man te kon oefen en wedstryde te speel vir Witbank rugby klub.Ons jonger manne het baie by die “Gentleman” van rugby gebaat “Nag ou Grote”.

Tc ·

Pastor,ek verskil met jou die manne of eerder legendes van daardie tyd sou gewen het,want hul trots en speel vir die land sou hul laat wen het!Jy vergeet dat die Franse ook maar eintlik kleinerige ouens is en hul n paar groot manne en spanne al laat les op sê!Ons Bokspan van vandag gaan oor geld en kan sê daar is min spelers wat tans speel wat Lofty,Frik ens se trots het om n boktrui oor hulle koppe te trek,met n uitsondering hier en daar dalk n spelers met daai trots.

Tc ·

Laat my dink aan die grap(Dalk waarheid,wie kan sê)toe n verslaggewer oom Lofty gevra het hoe sy Bokspan saam wie hy gespeel teen die Iere gevaar het wat onlangs hier getoer het en teen die Bokke gespeel het?
Oom Lofty antwoord toe na hy so bietjie gedink het en sê toe “Ons sou hulle met so 5 punte geklop het”
Verbaas vra die verslaggewer net met 5 punte Oom Lofty???
Waarop Oom Lofty hom geantwoord het,”Onthou baie van ons spelers is al 70-80 jaar oud”!!!!

Moegviraldiebeloftes ·

Hulle sou die huidige Springbokke gewen het met baie want die Britse Leeus wat baie groot teen ons destydse Springbokke en ons het hulle groot pakslae gegee. Hulle het gespeel met hart en siel – die huidige span is erg pateties – die laaste keer wat daar met hart en siel gespeel het was toe james small en ‘n ander paar gespeel het. My pa het my alles van rugby geleer die feit dat ek ‘n meisie was het glad nie saak gemaak nie en my pa het kennis gehad van hulle wat skrik vir niks kon vir jou tot sê vir watter klub die springbok gespeel het voor hy provinsiaal begin speel het. RIV ou Grote!! Nog ‘n groot boom het geval

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.