SA Rugby wil glo inenting verplig

(Argieffoto: Filippo Monteforte/AFP)

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) is binnekort waarskynlik ook deel van ʼn ál groter wordende groep instellings wat inenting teen Covid-19 wil verplig.

Luidens berigte sal die inenting verpligtend wees vir alle spelers wat ʼn nasionale span verteenwoordig, of wat aan ʼn reeks onder Saru se vaandel deelneem. Rapport berig dit sluit alle jeugweke vir spelers in.

ʼn Woordvoerder van Saru het by navraag oor die voorgestelde beleid gesê “SA Rugby is in die proses om ʼn beleid te formuleer wat, indien dit goedgekeur word, binne ʼn redelike tyd ingestel sal word”.

Die konsepbeleid oor inenting sal luidens berigte klaarblyklik ook vir alle wedstrydbeamptes, afrigters en ander rolspelers geld. Dit is reeds aan die verskillende rugbyunies gestuur, maar na verneem word nog nie aanvaar nie.

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie, het bevestig dat hulle die konsepbeleid verlede week ontvang het. Die BBRU se raad vergader vandeesweek en sal dit dan behoorlik bespreek.

“Uiteraard wil ons so vinnig moontlik terugkeer na normale sportbeoefening en ʼn ruimte skep waarin ons normaalweg kan rugby speel en funksioneer,” sê Strauss.

“Ons moet egter ook in gedagte hou, en dit respekteer, dat mense geloofs- of mediese besware teen inenting kan hê.”

Nog ʼn unie met wie Maroela Media gepraat het, het gevra dat hulle kommentaar op die konsepbeleid voorbehou word tot dié unie se raad behoorlik daaroor vergader het. Hoewel hulle ook oor die voorgestelde beleid ingelig is, moet dit nog bespreek en ʼn besluit daaroor geneem word.

Skolesport val onder die departement van basiese onderwys en dié departement sal oor enige verpligte inenting moet besluit. Rapport berig egter al Saru se jeugkompetisies, wat regstreeks onder die unie val, word geraak.

Met verwysing na Saru se jeugkompetisies, sê Bobby Mcleod, ʼn oudvoorsitter van die Wes-Rand- hoërskoolrugbyvereniging en jare lange kenner van rugby in skole, gevaarlike terrein word betree wanneer kinders op skoolvlak gedwing kan word om ingeënt te word as hulle aan sekere byeenkomste wil deelneem.

“Kinderregte is baie belangrik en ek sal ongemaklik voel om iemand te dwing om ingeënt te word. Ek dink ook dit vat die gesag en seggenskap van ouers weg.

“Ek dink dit sal ʼn baie hartseer dag wees as ʼn outjie nie kan speel omdat hy nie ingeënt is nie. Ek is absoluut pro-entstof, maar as jy sê kinders móét ingeënt word, betree jy gevaarlike terrein. Dalk is die ouers ten gunste van inenting, maar die kind nie, en dalk is ʼn kind ten gunste van inenting, maar sy ouers nie,” sê Mcleod.

Hy sê die vrae kan ook ontstaan of kinders wat aan ander sportsoorte benewens rugby deelneem, mettertyd voor ʼn soortgelyke dilemma te staan kan kom.

Ronald Peters, bestuurder van sport by AfriForum, het by navraag gesê die organisasie is heeltemal gekant teen verpligte inentings, “aangesien ons glo dat elke individu die reg op vrye keuse het”.

Peters sê die dilemma is egter dat sportlui moontlik nie op topvlak, en veral internasionaal, sal kan meeding indien hulle nie ingeënt is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

36 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Jong, gesonde, fikse, jong mans moet inent en vir wat? Covid het ‘n herstelkoers van 97% en julle wil mense inspuit met ‘n proefstudie.

Indien julle so besorgd is, beskerm ons teen mense met TB en groter gevaar wat tussen ons rondloop op straat.

domheks

die unies is maar net kopdoek se mag wat uit geoefen word om spuite verpligtend te maak.
Hulle moet mooi kyk wat in die wereld gebeur oor verplige inspuitings!
Kan dalk erger wees as Julie 2021.

Rayman

Het die mense al gesien hoeveel oorsee se sport sterre kry hartaanvalle op die veld a.g.v. die inspuiting en sterf dan, hoe kan ñ normale mens dit aan kinders doen

Marius

Dit is vreemd dat mense dink hul kan ander hiet , gebid en manipuleer. Die mensgemaakte pandemie wat nooit ‘n pandemie was nie is lankal verby en ‘n paar swape klou nog verbete aan hul ideologie en mag. Hul wil nou seker maak almal gaan lank voor hul aftrede bokveld toe. So ja, gaan aan en geniet dit.

Madeleine

BOIKOT HUL!! WIL GESONDE TALENT INENT MET GIF!?