SA, Rusland wil nouer saamwerk om epidemies te stuit

genetika-navorsing

(Foto: healthresearchsolutions.com)

Wetenskaplikes van Rusland en hul eweknieë in Suid-Afrika gaan voortaan nouer saamwerk om data en navorsingsuitslae oor Covid-19 uit te ruil, asook op die gebiede van epidemiologie, virologie, immunologie, die ontstaan van siektes en die behandeling van Covid-19.

Die span Russiese wetenskaplikes het vroeër vandeesmaand op versoek van pres. Cyril Ramaphosa in Suid-Afrika aangekom om die nuwe Omikron-variant van die koronavirus hier te bestudeer.

Ramaphosa het wetenskaplikes van mede-Brics-lande – Brasilië, Rusland, Indië en China – genooi om saam met Suid-Afrikaanse wetenskaplikes te werk om die kenmerke van die koronavirus en die verskillende mutasies daarvan te ondersoek.

Die kundiges sluit in viroloë en epidemioloë, asook kenners van die Russiese ministerie van noodgevalle en die Russiese gesondheidswaghond Rospotrebnadzor. Hulle het saam met plaaslike navorsers van onder meer die Mediese Navorsingsraad (MNR), die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) en verskeie Suid-Afrikaanse universiteite aan die projek deelgeneem om groter kundigheid oor die Covid-19-pandemie te bekom.

Die Russiese navorsers het meer te wete gekom oor Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel, die algoritme wat gebruik word om pasiënte vir behandeling te prioritiseer en die mediese behandeling van Covid-19-pasiënte in Suid-Afrika. Hulle het ook mediese instellings en laboratoriums in Pretoria en Johannesburg besoek.

“Suid-Afrikaanse wetenskaplikes het inligting gedeel oor die kenmerke vir die identifisering en differensiëring van die nuwe Omikron-variant teenoor ander variante in omloop,” sê Foster Mohale, woordvoerder van die departement van gesondheid.

Russiese wetenskaplikes het op hul beurt hul ondervinding in die bekamping van die nuwe koronavirusinfeksie, epidemiologiese monitering, die genetiese kenmerke van die virus, die assessering van diegene wat die infeksie opgedoen het en die beskerming teen nuwe genetiese variante gedeel.

Wanneer die beduidende getal Suid-Afrikaners wat tot dusver Covid-19 opgedoen het en demografiese verskille in ag geneem word, kan kliniese data aangepas word vir toestande in Rusland, sê Mohale. Wetenskaplike samewerking en die uitruil van data moet ook die grondslag wees waarop besluite oor onder meer inperkings en grensbeheer berus.

Die span navorsers het nog ander moontlike samewerkingsgeleenthede om epidemies te verhoed en hoe om daarop te reageer geïdentifiseer. ʼn Konsepplan vir voortgesette samewerking tussen Rusland en Suid-Afrika is ook ontwikkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.