SA ryer trap 986 km vêr in Kalifornië vir goeie doel

Grant Lottering in Kalifornië, (Foto: Verskaf)

Dit blyk dat daar nie ʼn stok in die speek van Grant Lottering se fiets gesteek kan word nie.

Dié Suid-Afrikaanse fietsryer en stigter van die I’m Possible Tour het verlede maand sy agste toer voltooi en dít in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië.

Die 54-jarige Lottering het ’n fietsrit van 986 km binne 51 uur en 40 minute in die vreemde voltooi. Lottering het tydens dié rit van drie dae en nagte lank 18 000 meter oor 16 berge geklim en slegs twee uur en 45 minute geslaap.

Hy vertel aan Maroela Media dat daar nes tydens sy vorige toere ’n punt gekom het waar sy bene nie meer wou nie. Tog het hy nes met alles anders in sy lewe vorentoe gebeur en volhard.

Lottering (op sy fiets) en sy ondersteuningspan (in ’n voertuig) het op 1 Junie van die skilderagtige Shaver‑meer in die Sierra‑ nasionale woud vertrek. Vandaar is hulle deur die Sierra‑ en Sequoia‑ nasionale woude, langs die Santa Ynez-bergreeks, die Ventura- en Los Angeles-streek, die ruwe pieke en bergwoude van die San Bernardino-bergreeks tot by Lake Arrowhead, bekend as die Alpe van suidelike Kalifornië.

Lottering en sy span het eindelik vroegoggend op 4 Junie hul eindbestemming – Big Bear‑meer, noord van Los Angeles – bereik.

Hy gee toe dat dié toer soms “sieldodend” was. Dit was egter nie die verste of moeilikste toer wat hy al aangepak het nie. Die moeilikste was steeds sy eerste Impossible Tour in 2019 toe hy van Patensie in die Oos-Kaap na die Paarl in die Wes-Kaap op ’n bergfiets gery het.

Lottering het toe 1 314 km binne 66 uur afgelê.

Die toer in Kalifornië was wel uitdagend aangesien hy nog nooit Amerikaanse paaie gery het nie, verduidelik hy.

“Die paaie daar is baie anders. In die Alpe is daar byvoorbeeld hoë berge, maar die paaie kronkel deur dorpies en dit voel makliker. Maar in Amerika is die pad reguit waarmee jy berge uitry. Dit is sieldodend.”

Lottering het voor verskeie uitdagings te staan gekom. Hy het reeds op die eerste dag van die toer met die grond kennis gemaak toe hy om ’n draai geval en in ’n bos met dorings beland het. Hy het ook byna een aand ’n trop takbokke in die pad getref. “Ek het hulle net gemis.”

Niks blyk egter Lottering onder te kry nie.

Grant Lottering (Foto: Max Sullivan)

Maroela Media het vroeër berig Lottering het in 2013 by die dood omgedraai ná ’n ernstige ongeluk in die Alpe terwyl hy vir ’n groot fietsrykampioenskap voorberei het.

Hy het onder meer twee saamgestelde frakture aan sy werwelkolom, 12 frakture aan sy ribbes, ’n gebreekte sternum (borsbeen) en twee saamgestelde frakture aan sy regterfemur opgedoen terwyl sy longe ook platgeval het.

Lottering vertel dat die ongeluk egter sy lewe heeltemal verander het. Medici het destyds aan hom gesê dat hy nooit weer op ’n fiets sal kan klim nie. “Ek het net besluit, nee. Ek gáán.”

Ná ses operasies, byna 100 ure se rehabilitasie en 11 maande het Lottering die betrokke fietsrykampioenskap voltooi.

Lottering het sy eerste I’m Possible Tour in 2014 – byna ’n jaar ná die ongeluk – voltooi. Die tweede toer het in 2015 plaasgevind.

Lottering het toe die eerste Suid-Afrikaner geword om ’n solo‑, ononderbroke ultra-uithourit van 420 km deur die Noord-Franse Alpe in minder as 24 uur te voltooi. In 2016 het Lottering ’n ononderbroke rit deur die lengte van die Franse Alpe van Nice aan die Franse Riviera na die Les Saisies-skioord, een uur suid van Genève, voltooi. Hy sou eindelik 962 km in 46 uur aflê.

Lottering het in 2018 die hele Franse Pirenese en Alpe-bergreekse in een poging van 72 uur deurkruis.

“Ek het ná die ongeluk besluit my lewe moet relevant wees. En ek het besluit ek gaan my fiets gebruik om dit te doen,” vertel hy.

Lottering is ’n ambassadeur van Laureus Sport for Good en voltooi elke I’m Possible Tour ten bate van liefdadigheid.

“Dit is my manier om ʼn verskil te maak. Ek sê altyd my fiets is die enabler.”

Op die vraag oor hoe hy ná dae op ’n fiets steeds uithou, erken hy dat daar stadiums kom waar hy byna opgegee.

Hy vertel dat hy op die laaste aand van sy Amerikaanse toer poegaai was. Hy het toe reeds 45 uur agter die blad gehad met slegs twee uur se slaap.

“My bene wou niks meer weet nie. Ek het langs die pad gestop en ek het so ʼn uur in die begeleidingsmotor gesit en probeer slaap.

“Ek het wel vantevore geleer hoe belangrik dit is waarop jy jou fokus plaas. As ek heeltyd dink: ‘my bene is seer, my boude is seer, my vingers en tone is lam’, gaan jy nooit klaarmaak nie. Jy moet egter fokus op wat jy oor die jare oorkom het en waarvoor jy hierdie doen.

“As die lyf nie meer wil nie, moet die kop oorneem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.