Suid-Afrika het die afgelope paar weke behoorlik op die Wêreld-oorplantingspele in Spanje geskitter met ʼn algehele derde plek nadat nét 51 atlete altesaam 76 medaljes ingeryg het.
Van dié medaljes is 35 goud, 23 silwer en 18 brons.
Die Wêreld-oorplantingspele word elke tweede jaar gehou en bring atlete wat lewensbelangrike orgaanoorplantings gekry het byeen om hul tweede kans om te lewe te vier.
Vanjaar het sowat 2 200 atlete van regoor die wêreld aan dié spele deelgeneem in sportsoorte wat onder meer atletiek, tennis, swem, fietsry, golf en tafeltennis insluit.
In vanjaar se senior kategorie het Lisa du Plessis behoorlik uitgeblink nadat sy vyf goue medaljes in die swemkategorie gewen én vyf nuwe wêreldrekords daarmee saam opgestel het. In die junior kategorie het Kristen Henry ook vyf goue medaljes ingeryg, twee wêreldrekords laat spat én ʼn brons medalje vir die 400 m-naelloop gewen.
Maroela Media het vroeër berig Suretha Campher (30) van Middelburg in Mpumalanga het op dié spele ʼn goue medalje in verspring, twee silwermedaljes in die 100 m- en 200 m-naelloop en ʼn bronsmedalje in aflos verower.
Die doel van vanjaar se deelname aan die spele was om bewusmaking vir orgaanskenking te bewerkstellig.
Haai maar ons is soo trots op julle!! Ware wenners!!!
Dankie vir die artikel. Orgaanskening in Suid Afrika moet beslis meer blootstelling kry.
Baie geluk!
Dis baie goed! Hulle gaan baie deur met al die medisynes wat hulle moet drink en immuniteit wat bykans nul is agv van die pille. Well done!!