SA saffraan is tops

Saffraanblomme is boonop iets vir die oog. (Foto: Verskaf)

Saffricon, ʼn Suid-Afrikaanse saffraankweker, se produkte het ʼn topgradering van ʼn vooraanstaande Suid-Afrikaanse multinasionale kleinhandelaar ontvang.

Dié toets het ingevoerde saffraan onder dié kleinhandelaar se eie handelsmerk ingesluit, asook ingevoerde saffraanprodukte van Spanje en Iran, laasgenoemde die wêreld se grootste produsent met ʼn markaandeel van meer as 90%.

Die wenner is op grond van organoleptiese toetsing bepaal, ʼn proses om die geur, reuk, voorkoms en mondgevoel van ʼn voedselproduk te beoordeel.

Die kriteria was derhalwe visuele trefkrag, die balans tussen smaak en geur, geurintensiteit, tekstuur en mondgevoel (die fisieke sensasies wat voedsel of drank in die mond veroorsaak, in teenstelling met smaak).  Saffricon was heel boaan die lys en die enigste deelnemer wie se produkte agt of meer uit tien in elk van die kategorieë behaal het.

 

‘n Saffraanknol wat begin blom. (Foto: Verdskaf)

 

Bennie Engelbrecht, Saffricon se stigter en direkteur, sê die resultate bevestig wat hy nog altyd gesê het. “Die saffraan wat ons in Suid-Afrika verbou het ʼn kenmerkende geur en aroma. Saam met die ISO 3632-klassifikasie wat ons onlangs verwerf het, bied dit verdere bewys van ons volgehoue verbintenis tot uitsonderlike gehalte.”

Hy sê Saffricon se volgende mylpaal is om ʼn wêreldspeler te word en wys daarop dat dié onderneming se doelwit nog altyd was om met betrekking tot volume en gehalte ʼn beduidende speler in die wêreldmark te word.  “Dié toets bewys deur en deur dat ons gehalte hoogstaande is.  Kom dit by volume, is ons gereed om binne die volgende agt tot tien jaar aansienlike hoeveelhede saffraan te produseer.”

Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur van Saffricon se vennoot, Laeveld Agrochem (LAC), sê die toets se resultate bevestig dat dit die regte besluit was om saffraan in Suid-Afrika te begin verbou met die oog op die vestiging van ʼn bedryf wat op die uitvoermark gerig is.

 

Proewe vir saffraanverbouing word regoor Suid-Afrika en in buurlande gedoen. (Foto: Verskaf)

 

Hy sê saffraan is nie net ʼn hoë-waarde spesery is nie; dit is ook ʼn relatief lae-risiko gewas wat op so min as ʼn kwart hektaar grond verbou kan word. “Dit maak saffraan ideaal vir kommersiële boere wat wil diversifiseer terwyl dit ook ʼn optimale geleentheid skep vir die miljoene Suid-Afrikaners wat op ʼn klein skaal na landbou wil uitbrei om uiteindelik ʼn goeie bestaan daaruit te maak.

“Ons eerste prioriteit is om mense te help om hul eie gewasse te verbou, wat ons reeds deur middel van verskeie projekte doen. Om by saffraanboerdery betrokke te raak, is egter ʼn verdere stap in die regte rigting wat voornemende boere bemagtig om hul eie inkomste te genereer en selfonderhoudend te word,” verduidelik Liebenberg.

Sedert sy bekendstelling verlede jaar het Saffricon sowat 385 saffraan-proefpakkette aan voornemende boere in al nege provinsies asook Botswana, Namibië, Lesotho en Zambië verkoop. Die doel van hierdie pakkette is om boere in staat te stel om die lewensvatbaarheid van saffraanverbouing te toets voordat hulle ʼn boerdery op ʼn groter skaal oorweeg. Elke pakket bevat ongeveer 500 tot 700 voorbereide knolle, asook ʼn plant- en kwekershandleiding, kunsmis, ondersteuning van Agri Technovation via LAC, ʼn NviroTek- en Agri Technovation-grondontledingstel en toegang tot die Myfarmweb-platform om data te monitor.

 

Saffraanverbouiing is arbeidintensief en skep baie werk. (Foto: Verskaf)

 

Daar is tans 12 kommersiële saffraanboere aan boord wat tussen 1 000 tot 600 000 knolle geplant het.

Liebenberg sê ʼn totaal van 20 miljoen knolle is tot op hede aangeplant. “Een keer per jaar, onder gunstige omstandighede, vermenigvuldig elke knol sowat drie keer ondergronds. Om dit in perspektief te plaas; een hektaar wat met knolle beplant word, sal teen jaar vier genoeg knolle vir 24 hektaar hê.”

Nog ʼn hoogtepunt in die saffraanbedryf was Saffricon se eerste kwekerskonferensie in Augustus, waartydens die Vereniging van Saffraan Suider-Afrika (ASSA) gestig is. Engelbrecht beskryf ASSA as ʼn sambreelorganisasie wat die Suider-Afrikaanse saffraanbedryf in ʼn toesighoudende hoedanigheid ondersteun. “Dit is deurslaggewend belangrik dat ons ʼn oorkoepelende liggaam het om toesig oor die bedryf te hou, veral namate meer boere aan boord kom en die bedryf groei,” verduidelik hy. Die vereniging sal ondersteun word deur ʼn tussentydse komitee wat ʼn grondwet sal opstel en verseker dat alles gereed is vir die amptelike inwerkingtreding van lede se pligte.

Saffricon is ook besig met die ontwikkeling van die Saffron Incubation Program (SIPS) wat gemik is op projekte wat deur gemeenskappe en die regering befonds word. Die maatskappy sal oor ʼn verlengde tydperk opleiding en ondersteuning verskaf om die suksesvolle uitrol van die program te verseker.

 

Jy kan tot R250 000 vir ‘n kilogram saffraan betaal, wat dit die naam, ‘rooi goud’ besorg het. (Foto: Verskaf)

 

Saffraan is verreweg die duurste spesery ter wêreld, vandaar die beskrywing daarvan as “rooi goud”. Die plaaslike kleinhandelprys kan tot so hoog as R250 per gram (of R250 000 per kilogram) wees.  Hierdie hoë prys kan toegeskryf word aan arbeidsintensiewe oesmetodes, van die pluk van die blomme tot die verwydering van die saffraandrade, wat alles met die hand gedoen word. Daarbenewens is sowat 150 000 blomme nodig om ʼn enkele kilogram “rooi goud” te produseer.

Engelbrecht sê Saffricon sal plaaslike boere tot R100 00 per kilogram vir topgraad saffraan betaal.  “Ons wil ʼn hoëgehalte produk vestig en in stand hou. Daarom is dit noodsaaklik dat boere voldoende vir hoëgraad saffraan vergoed word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nettie ·

Baie geluk aan Saffricon en mnr Engelbrecht! Suid-Afrikaanse boere staan vir niemand terug nie. Mag julle van krag tot krag gaan.

annie ·

Orania, daar staan geld en blom. Pers Oras in rye. Probeer!

Werner ·

Arbeidintensiewe produksie is meer gepas vir derdewereldlande, wat beskik oor goedkoop arbeid. Orania is meer geskik vir outomatisasie.

CJS ·

Hierdie was nou ‘n lekker-lees. Mag goed en guns altyd met julle wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.