SA sakeman in Duitse tronk aangehou

Zunaid Moti. Foto: ANA.

Zunaid Moti, die omstrede Suid-Afrikaanse sakeman, word tans in ʼn tronk in München in Duitsland aangehou nadat hy vroeër in Augustus in hegtenis geneem is ingevolge ʼn lasbrief van Interpol.

Abbas Moti, Zunaid se pa, het gesê hy is 19 Augustus op die lughawe by München in hegtenis geneem toe hy Duitsland wou verlaat ná ʼn sakereis.

Zunaid het belange in die mynboubedryf, finansies en logistieke sektor in Suid-Afrika en Zimbabwe en ag Emmerson Mnangagwa, president van Zimbabwe, as sy vriend.

Abbas het gesê soos hy dit verstaan, staar uitlewering na Rusland sy seun in die gesig om dáár tereg te staan op strafregtelike klagte. Die inhegtenisneming hou verband met ʼn “rooi kennisgewing” wat Interpol verlede jaar uitgereik het ná ʼn klag deur Alibek Issaev, Russiese sakeman en voormalige vennoot, teen Zunaid gelê is.

Issaev voer aan dat Moti en sy vennote, onder wie Abbas, hom in 2013 deur ʼn mynooreenkoms-slenter in Libanon bedrieg het.

Zunaid het telkemale ontken dat hy al in Libanon was en het aangevoer dat Issaev intellektuele eiendom en ʼn pienk diamant van R500 miljoen by hom gesteel het.

Die ander twee vennote wat by die beweerde bedrywighede betrek word, is Ashruf Kaka en Salim Bobat.

Zunaid staan die lasbrief sedert Augustus 2017 teen en het vroeër vandeesmaand aan die Financial Mail gesê hy is van Interpol se lys verwyder nadat hy voorleggings aan die Interpol-kantore in Lyon, Frankryk, gemaak het.

Zunaid dryf handel onder die naam Moti Group Companies. Sy hoofonderneming is egter Andulela Investment Holdings Limited waarvan Kaka die uitvoerende hoof is. Bobat tree as raadgewer op vir dié groep.

Die Moti Group, met sy hoofkantoor in Sandton, fokus grootliks op die veredeling van erts. Dit het bande met Rustenburg Platinum asook Glencore wat chroomveredeling betref.

Die maatskappy het ook ʼn chroomveredelingsaanleg in Zimbabwe met die naam African Chrome Fields.

Abbas het Saterdagmiddag aan African News Agency gesê dat hulle vir Zunaid teen vandag uit die tronk wil hê. “Ons beveg die uitlewering. Ons wil nie in Rusland hierdie ding beveg nie, ons sal dit in Duitsland doen.”

Volgens hom sal die proses na verwagting twee weke neem en het hulle die hulp van prokureurs in die Verenigde Koninkryk en Swede ingewin. Volgens hom verkeer sy seun in goeie gesondheid en is die tronk in München waar hy aangehou word “vyfster” in vergelyking met Suid-Afrikaanse tronke. “Hy word nie in die hof toegelaat nie en moet alle dokumente vanuit die tronk onderteken.”

Volgens hom is Zunaid voor sy kinders, wat steeds in Duitsland is, in hegtenis geneem. “Ek het aan die kinders gesê om ʼn vakansie daarvan te maak. Ek sal self volgende week [dié week] Duitsland toe gaan, maar ek sal deur die ambassade te werk gaan dat hulle my nie kan opsluit nie. As hy van die kennisgewing geweet het, kon hy die korrekte reëlings getref het, maar hy was nie bewus daarvan nie. Geen kennisgewing is aan ons prokureurs gestuur nie.”

Abbas het gesê hy het pres. Cyril Ramaphosa, “met wie ek ʼn goeie verhouding het”, gebel, maar Ramaphosa het gesê “sy hande is afgekap”.

“Sover ons wete strek, gaan die Duitse owerhede Zunaid vir 40 dae aanhou terwyl die reëlings vir sy uitlewering na Rusland toe getref word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Manies ·

Sy vennoot se van en die situasie waarin hy hom nou bevind is nogals gepas.

Thinus Oosthuizen ·

Is dit nie interressant dat n “Pienk Diamant” genoem word soos waarvan Eben Barlow van EO beskuldig word nie in die fliek “Blood Diamond’s ” nie, Nou wonder ek wat was Projek Jona met die implimentering van die Kimberly sertifikaat om te verhoed dat die einste Russe nie die Diamant beurs in Brussels sewe identiese geel stene, wat na gemaak was te kelder nie? Ek wonder wie het die sogenaamde pienk Diamant wat vir nege minute op die London beurs verskyn het onttrek.Dan begin die raaisel nog vergroot waarom is “God ‘s Banker” in London Roberto Calvy, met “BRICKS ” in sy sakke en BRICKS deur middel van Rajiesh Gupta, as deel van Projek Hammer bekend gemaak? Dan wonder ek maar hoekom Tokyo Sexwale toegang geweier is, en waar Transhex naby Dondu in Angola gelee is, miskien sal Harry Oppenheimer en George Bizos vir Tafelberg Uitgewers en University of Cape Town en Helen Zille, Max du Preez en Jacques Paauw Finansier het?? Sommer die hele IDASA en Daniël Miterant en die Franse Wapenvervaardiger met die Wapenskandaal kan bewys, ook die Krupp-Bofors skandaal van Swede en Olaf Palme se verkoop van die Salem olietanker, en dan sê waarom Shell en BP se Trident die Griekse bemaning ongedeerd oppik en die grootste eis in Lloyd of London se geskiedenis was? Ek dink???

VanAfrika ·

Wat n deurmekaar storie, die een spul na die ander en die geknoei gaan aan terwyl allerman op straat onbewus is van die gemors en ons bekommer ons oor ANC EFF en BLF, min bewus van wat in die onderwêreld van korrupsie aangaan. Klink soos n riller fliek van espionage wat in realiteit afspeel. Thinus, sal daarvan hou om te weet waar al die inligting gekry is.

KP ·

Altyd interessant dat hierdie mense altyd baie goeie vriende van staatshoofde is. Hoekom bang om aan Rusland uitgelewer te word as jy onskuldig is!!

marous ·

Vriendskap of gramskap ….die Russe het klaar die boodskap gestuur.

Lizl ·

Ek kan net sè… WHAAAAT? Dit is sulke dinge en konneksies waarvan die man op die straat niks van weet of verstaan nie. Dalk ook maar veiliger om onosel en arm te wees!

Wyse- of gevaarlike woorde? ·

Die handespeletjies en kaders..net voor Iets in hande kom?
wyse ouers sê ..as jy handdadig was sal afkap of hande was níks help.

Afrikaanse Knaap ·

Het hierdie man darem geweet hy is op ‘n Interpol lys voor hy SA verlaat het?

Papwiel ·

Haha
Ek is een van sy vele slagoffers van sy skelm streke.
Hy is vir n slag waar hy hoort.

Lynette ·

Thinus Oosthuizen, ek is seker stoepid, maar jy het my nou so deurmekaar soos die gagga goed in n tuimeldroeer!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.