SA sakeman se weduwee desperaat vir tweede lykskouing

Francis Hanekom probeer verhoed dat haar man André in Mosambiek veras word. Foto: Facebook

Die weduwee van die Suid-Afrikaanse sakeman wat Woensdag in verdagte omstandighede in Mosambiek gesterf het, doen ʼn dringende beroep op die Suid-Afrikaanse regering om sy liggaam die land binne te laat sodat ʼn tweede lykskouing op hom uitgevoer kan word.

Francis Hanekom skryf op Facebook sy wil hê ʼn forensiese span moet na die naaste Suid-Afrikaanse dorp aan die Mosambiekse grens gestuur word. “Ons kort ʼn tweede mening van ons kant en wil hê ʼn private forensiese patoloog moet deel van die span wees.”

Die oorsaak van André Hanekom (61) se dood op sy doodsertifikaat is tans die breinsiekte enkefalopatie en hipoksie. “Maar nou word beweer die dokter het die verkeerde woorde gebruik,” skryf Francis, “en dit moet meningo-enkefalitis van ʼn virale of bakteriële oorsprong wees.”

Omdat dié siektetoestand aansteeklik is, sal André se liggaam veras moet word voor sy oorskot na Suid-Afrika gebring kan word, maar Hanekom is bevrees dan sal die eintlike oorsaak van sy dood nooit vasgestel kan word nie.

Ek weet hoe dit lyk en ek het dit al vantevore gesien.

Die gewese waakeenheidsuster skryf sy het haar man die middag van sy dood in ʼn hospitaal in Pemba gesien nadat sy sedert Augustus die Mosambiekse owerheid vergeefs probeer oorreed het om hom uit aanhouding vry te laat. “Hy het nie gelyk na ʼn pasiënt met meningo-enkefalitis op die randjie van die dood nie. Ek weet hoe dit lyk en ek het dit al vantevore gesien.”

Die spesialis in die hospitaal se waakeenheid het Hanekom twee dae voor André se dood ingelig hulle behandel hom vir longontsteking, maar die toelatingsdokter het vermoed hy is vergiftig, sê sy weduwee, wat later ook seker was dis hoe hy gesterf het.

Om sy liggaam oor die grens te bring, kort die Suid-Afrikaanse regering sekere dokumente. Die familie het alles, behalwe ʼn verklaring van Mosambiek se gesondheidsdepartement dat hy geen aansteeklike siekte gehad het nie. “Hulle wil dit nie uitreik nie weens die ‘nuwe’ diagnose,” skryf Hanekom.

ʼn Vinnige nadoodse ondersoek is gedoen sonder om my in te lig.

“ʼn Vinnige nadoodse ondersoek is gedoen sonder om my in te lig, my toestemming te kry of dat ek teenwoordig was. Hoe sal ons weet of die uitslag waar is en of die liggaam nie opsetlik besmet is nie?”

André is op 1 Augustus verlede jaar in die noorde van die buurland, waar hy en sy vrou die afgelope langer as 25 jaar ʼn suksesvolle sakeonderneming opgebou het, geskiet en toe ontvoer.

Eers het die owerheid beweer dit was die werk van die terreurgroep Ahlu Sunnah Wa-Jama, maar later het hulle hom daarvan beskuldig dat hy lid is van die groep. Francis beweer die aanklagte teen hom is versin omdat die Mosambiekse regering hul grond vir ʼn multimiljoenrand-ontwikkeling wil bekom.

Hanekom sê die Suid-Afrikaanse regering het die mag om haar man se oorskot onder kwarantyn die land te laat binnekom en na die naaste dorp te neem, “ter wille van geregtigheid en sekerheid”. “As ons die waarheid wil hê, moet alle bewyse en geleenthede om inligting in te win op prys gestel word.”

Intussen wag André se liggaam geduldig in Maputo.

Sy sê sy wag nog op ʼn antwoord van die Mosambiekse ambassade nadat sy hul hulp gevra het. “Intussen wag André [se liggaam] geduldig in Maputo, gereed om te vertrek, met die vervoer gereël, en wag op goedkeuring.”

Hanekom se dogter Andrie, wat in Kameroen werk, het Maandagoggend aan Maroela Media gesê die ambassade in Mosambiek het haar ma Sondagmiddag laat weet hulle sou Maandag werk maak van haar versoek.

Ndivhuwo Mabaya, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, was nie Maandagoggend onmiddellik telefonies bereikbaar nie. Maroela Media het skriftelike navrae aan hom gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Celeste ·

Ai die arme vrou. Die realiteit is hulle sal sorg dat hy veras word voordat iemand die waarheid kan uitvind. Hulle weet as hy klaar veras is, kan daar geen ander bewyse teen hulle gekry word nie. Dis vir my verbasend dat hy nie al klaar veras is nie. Die arme vrou moes by vriende hoor hy is oorlede. Hulle gaan haar niks laat weet nie en net voortgaan.

HPV ·

Dit is Afrika waar regerings, lees regimes, uurliks gekoop word, leuens deur die meerderheid aanvaar word, armoede, diefstal, moord en siektes aan die orde van die dag is. Dit was altyd so en gaan nooit verander nie! Bly weg!

Skroef ·

Hulle was vinnig om belastingbetalers geld te mors om vakansie gangers se oorskot terug te bring SA toe en helde begrafnisse te gee. Uit belastingbetalersgeld. Doen nou dieselfde vir n witman. Hulle het hom hulp geweier toe hy nog gelewe het. Aansteeklike siekte se gay.

Chris ·

Presies wat ek ook gedink het. Sy dood kon verhoed gewees het as ons regering hul werk gedoen het nadat hy as vermis aangegee is verlede jaar. Sterkte Francis.

Lana ·

Francis, staan vas!! Jy doen die regte ding en vra die regte vrae.
Hulle sal nie wegkom hiermee nie.
Baie sterkte.

Snowflake ·

Gelukkig weet sy waarvan sy praat en nie n totale leek is nie… regte besluit laat doen privaat ortopsie…. ongelukkig het almal nie die fondse om dit te laat doen nie…. maar glo maar die uiteinde van dit gee klaring

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.