SA sakereus gee leisels oor

Dr. Whitey Basson, hoof uitvoerende beampte van Shoprite Holdings, sal einde Desember 2016 aftree. Foto: http://www.shopriteholdings.co.za/

Dr. Whitey Basson, hoof uitvoerende beampte van Shoprite Holdings, sal einde Desember 2016 aftree. Foto: http://www.shopriteholdings.co.za/

Een van Suid-Afrika se grootste sakemanne, dr. Whitey Basson, sal ná 45 jaar aan die stuur die leisels oorgee.

Basson (70), hoof uitvoerende beampte van Shoprite Holdings, het Maandag aangekondig dat hy einde Desember sal aftree. Die besluit is vandag tydens die maatskappy se jaarlikse algemene vergadering in Kaapstad bekendgemaak. Pieter Engelbrecht (47), voormalige hoofbedryfsbeampte, sal vanaf Januarie 2017 by Basson oorneem.

Shoprite Holdings het in ʼn verklaring gesê Engelbrecht is al die afgelope 20 jaar by die maatskappy betrokke en het ʼn groot rol gespeel in die groei van die maatskappy onder Basson se leiding. Basson sal steeds in raadgewende hoedanigheid aan die bestuur beskikbaar wees.

Basson het byna sy hele merkwaardige sakeloopbaan by Shoprite deurgebring. Onder sy leiding het die maatskappy gegroei vanaf agt kettingwinkels ter waarde van R1 miljoen na ʼn wêreldbekende handelaar met meer as 140 000 werknemers en ʼn markkapitalisering van R114 miljard.

Dr. Christo Wiese, voorsitter van die Shoprite Holdings-raad, het Basson geloof vir sy onmeetbare bydrae tot die maatskappy se sukses en gesê hy verdien ongetwyfeld sy naam as een van die land se kleinhandel-sakereuse. “Whitey was ʼn sterk en charismatiese leier, wat die maatskappy deur markoorgange en uitdagende tye gestuur het en berekende risiko’s gewaag het om die supermarkgroep in ʼn toonaangewende handelaar op die kontinent te omskep,” het Wiese gesê.

Pieter Engelbrecht, voormalige hoofbedryfsbeampte van Shoprite Holdings, sal vanaf Januarie 2017 as die maatskappy se hoof uitvoerende beampte oorneem. Foto: http://www.shopriteholdings.co.za/

Pieter Engelbrecht, voormalige hoofbedryfsbeampte van Shoprite Holdings, sal vanaf Januarie 2017 as die maatskappy se hoof uitvoerende beampte oorneem. Foto: http://www.shopriteholdings.co.za/

“Die raad is ongelooflik dankbaar vir sy onmeetbare bydrae aan die maatskappy en sy uitnemende termyn van meer as vier dekades as uitvoerende hoof. Sy voortdurende diens aan die maatskappy, sy werknemers en aandeelhouers, asook die breër Suid-Afrikaanse sakegemeenskap, is merkwaardig.”

Basson het op sy beurt gesê hy glo die maatskappy sal voortgaan om van krag tot krag te gaan aangesien doeltreffende opvolging nog altyd ʼn kernfokus vir die bestuurspan was. “Ek sien uit daarna om ʼn klankbord vir Pieter Engelbrecht en sy span te wees terwyl hulle die maatskappy vorentoe neem en die hoogste standaarde wat ons nog altyd vir onsself gestel het, voortdra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jaco ·

hoe word regstellende aksie gedien as die nuwe top baas van ‘n baie groot maatskappy OOK wit is soos sy voorganger?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.