SA sal beleggers ‘moet paai om hier te belê’

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die Suid-Afrikaanse regering sal mooi broodjies moet bak om beleggers te midde van “baie onstuimigheid en beleidsonsekerheid” te paai om in die land te belê.

Só het Everest Wealth, ’n private beleggings- en welvaartbestuursmaatskappy, Woensdag op die vooraand van pres. Cyril Ramaphosa se vyfde beleggingskonferensie gesê wat Donderdag in Johannesburg gehou word.

“Dit is een ding om beleggingsverbintenisse te kry, maar daar is voorwaardes daaraan verbonde en beleggers sal eers weer vir die volgende paar jaar die kat behoorlik uit die boom wil kyk,” het Riaan Grobler, finansiële adviseur by Everest Wealth, gesê.

“Die konferensie kom te midde van verskeie openbare blapse deur die regering die afgelope ruk. Suid-Afrika se volgehoue bande met Rusland ten koste van sy verhouding met die VSA kan hom duur te staan kom.”

Grobler meen alle oë is beslis op verwikkelinge in verband met die gesant wat Ramaphosa na die VSA wil stuur om Suid-Afrika se handelsbande met dié land te beskerm.

Kenners waarsku al lankal dat die Suid-Afrikaanse regering se bande met Rusland die land se verhouding met een van sy grootste handelsvennote kan kelder en is volgens Everest Wealth juis een van die grootse “blapse” wat Suid-Afrika die afgelope ruk ten opsigte van sy buitelandse beleid begaan het.

“Suid-Afrika se standpunt rakende die oorlog in Oekraïne en sy gesamentlike militêre oefeninge met China en Rusland het tot gevolg dat hy guns by ander regerings verloor.

“Met die Internasionale Strafhof wat ʼn lasbrief vir Wladimir Poetin se inhegtenisneming uitgereik het, en die Russiese president wat genooi is na die Brics-beraad wat in Augustus in Suid-Afrika plaasvind, sal die land versigtig moet trap om nie brûe te verbrand nie. Suid-Afrika is ’n ondertekenaar van die Statuut van Rome en is dus onderhewig aan die besluite van die Internasionale Strafhof,” sê Grobler.

Die kragkrisis bly natuurlik een van die land se grootste uitdagings met beurtkrag wat die ekonomie daagliks miljoene rande kos. Besluite wat rondom Eskom geneem word, veroorsaak boonop verdere onsekerheid.

“Die besluit om Eskom vry te stel met betrekking tot vereistes vir verslagdoening oor onreëlmatige en verkwistende besteding, die herroeping daarvan kort daarna en dan weer die bevestiging dat die moontlikheid steeds op die tafel is, voorspel niks goed vir beleggersvertroue nie.

“Die houers van Eskom se skuldbriewe het dikwels voorwaardes wat daaraan gekoppel is, en die besluit om inligting uit finansiële state uit te sluit kan tot gevolg hê dat die houers van dié skuldbriewe hul geld terugeis. Dit hou weer ’n groot risiko vir die staatskas in.”

Grobler sê voorts die skielike beëindiging van die ramptoestand en teenstrydige uitlatings oor die energiesektor se oorgang na meer hernubare kragvoorsiening kan beleggersvertroue nog verder skaad.

“Daar is tydens vorige beleggingskonferensies mooi praatjies gemaak oor Suid-Afrika wat vordering maak om die klimaat te verbeter waarbinne beleggers kan sake doen, maar Ramaphosa se talle beloftes het nog nie veel opgelewer nie. Wat gaan hy die keer belowe?

“Die IMF se verwagting van geen ekonomiese groei vir Suid-Afrika in 2023 nie, sowel as sy kommer oor trae hervormings en staatskuld, maak sake ook nie meer rooskleurig vir beleggings nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Leon ·

Kom Cyril stel n voorneeld en bele so 3 Miljard uit jou persoonlike rek , nie die in die sitbank nie maar uit die bank en bele dit in bv behuising vir armes of enige belegging van jou keuse behalwe wild veral Buffels ???????? dan sal die ander jou voorbeeld volg !!!

Alta Alleman ·

Wie sal in ons land belangstel behalwe China en die Russe?

Danie ·

Wel ons land is alreeds weggegee weens enorme skuld aangegaan met ander lande kyk maar net al die besighede wat ons dorpe en stede oorneem en raai wat hulle is almal burgers van SA met n stem.

Kokerboom ·

Belangrik..dis NIE omdat hul omgee maar hoofsaaklik vir stroping van grondstowwe en ekspansionisme. Hul voel ‘n veer vir land en sy mense en sit die regime grootliks ore aan!

Frederik C ·

Nie China nie. Hulle het klaar die kat uit die boom gekyk met BRICS.

Nie Verbaas ·

Ramaphosa jy sal hulle nie moet paaie nie, lieg net vir hulle soos jy daagliks vir ons lieg. Ongelukkig is beleggers nie so onnosel nie.

annie ·

Is dit waar die woord paaiboelie vandaan kom? Beleggers se pledges… Eers paai hy die dom uitlanders en dan boelie hy hulle om hul woord gestand te doen: Anders sal ek en maar nog stene uit die Ooste invoer…

Lillian ·

Die regerende party is die grootste probleem in hierdie land, raak van hulle ontslae en dinge sal beslis beter gaan.

Wendy ·

Nou wat het u gedink eierkop – lyk ons land na iets waarin jy wel wil bele ? N graad een kind sal jou kan antw !!!

Danie ·

Hardloop piet en kie vat julle besigheid voor niks oorbly, afgebrand of geroof gaan word.Jy kan altyd terugkom as dit beter lyk moenie n rat voor die oe gedraai word nie.

Manie ·

Beleggers sal eers weer terugkeer wanneer hulle verseker is daarvan dat hulle geld nie geplunder sal word nie, dis die eenvoudige antwoord Ramaphosa.

Jr ·

Sal nie in hierdie land belê nie, al het ek die besigheid verniet gekry het

domheks ·

CR en kie in die parlement se oe WIL nie oopgaan nie. Hulle bly te lekker in Lala-land op belastingbetalers se geldjies. Terwyl die res van die land krepeer!

Papsak ·

LIEG RAMAPHOSA LIEG SOOS JY VIR ONS IN SA LIEG GLO JOU NIKS MEER NIE

Nico ·

Buite landse beleggers sal weg bly terwyl die land in so’n gemors is.

Kiepie ·

Mooi broodjies gaan nie meer die ding doen nie. Beleggers is nie soos die stemmers van hierdie land nie, hulle beoordeel jou op harde feite en wil resultate sien. SA se track record oor die afgelope 20 jaar wek geen vertroue. En Ramaphosa, wat die emaneul moes wees, se ruggraatlose leierskapstyl doen niks om dit te verander nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.