SA sal saamwerk om ‘volksmoordenaar’ hier aan te keer

Serge Brammertz, aanklaer. (Foto: UNIRMCT/Twitter)

Suid-Afrika sê hy is bereid om met die Verenigde Nasies (VN) saam te werk om ʼn volksmoordenaar wat hom hier bevind, te laat vervolg.

Suid-Afrika se onderneming kom ná herhaalde versoeke van die Internasionale Oorblywende Meganisme vir Straftribunale (IRMCT) daaroor. Die IRMCT is ʼn internasionale strafhof van die Verenigde Nasies wat die oorblywende funksies van die Internasionale Straftribunaal vir Rwanda, asook die Internasionale Straftribunaal vir die voormalige Joego-Slawië oorgeneem het, nadat dié twee tribunale se mandate verstryk het.

Serge Brammertz, die IRMCT se aanklaer, het die afgelope week aan die VN se Veiligheidsraad gesê dit lyk of sommige lande nie samewerking met sy kantoor, om voortvlugtende volksmoordenaars aan die pen te laat ry, as ʼn prioriteit beskou nie.

Brammertz het gesê die IRMCT het intelligensie opgevolg oor waar verskeie van die voortvlugtendes hulle bevind. Die hof het gevolglik verskeie lidlande gevra om met die ondersoek saam te werk. Brammertz sê veel meer kan gedoen word om te verseker die owerhede kom hulle beloftes na.

“My kantoor probeer sedert Augustus verlede jaar om dringende samewerking met Suid-Afrika te bewerkstellig wat betref die inhegtenisneming van ʼn voortvlugtende op sy grondgebied. Ons het ons versoeke al telkemale hernieu en herhaaldelik probeer om direk met die Suid-Afrikaanse owerhede daaroor in gesprek te tree,” het Brammertz gesê.

“Teen [Dinsdag] het ons nog net pro forma-reaksies gekry dat ons versoeke na die toepaslike owerhede aangestuur is en oorweeg word.”

Brammertz het gesê Suid-Afrika het daarna in ʼn diplomatieke nota te kenne gegee dat hy daartoe verbind is om ten volle met die hof saam te werk. “Ek hoop dat hy dié keer dadelik sy belofte gestand sal doen.”

Foto’s van slagoffers van die Rwandese volksmoord in die Kigali-volksmoordsentrum van herinnering. (Foto: Ben Curtis/AP)

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het Sondag in ʼn verklaring gesê Suid-Afrika het kennis geneem van Brammertz se stellings aan die Veiligheidsraad wat verband hou met die volksmoordenaar op Suid-Afrikaanse bodem.

“Suid-Afrika wil sy dankbaarheid uitspreek teenoor die aanklaer, asook vir die prysenswaardige werk wat die IRMCT doen en wil weer bevestig dat hy sy internasionale verpligtinge ernstig opneem.

“Terwyl Suid-Afrika sekere uitdagings ondervind om uitvoering aan die versoek te gee, werk hy aktief om dit op los en bly Suid-Afrika heeltemal verbind tot samewerking met die IRMCT.”

Die departement sê hy besef watter belangrike bydrae die IRMCT lewer aan die internasionale strafregstelsel en om diegene verantwoordelik te hou vir die ernstige internasionale oortredings wat in die voormalige Joego-Slawië en Rwanda gepleeg is.

Die IRMCT soek steeds na agt voortvlugtendes wat deur die destydse Internasionale Straftribunaal vir Rwanda skuldig bevind is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Al ·

Onse regering onderskat mense se intelligensie. So begin hul ware kleure al hoe meer wys op internasionale vlak.

Waldo ·

Al wat hier gebeur is “investigation” en “commission of enquiry” totdat almal vergeet het daarvan…

Theresa ·

Julle kan nie eers die probleme in julle eie land uitsorteer nie, nou probeer julle mooi broodjies bak met oorsese lande. Regtig!!??

Sonja ·

Seker nou nie van toepassing op die berig nie, maar sal Maroela so gaaf wees om net weer n opvolg te gee op Jerry (dink ek) die jong man wat op die motorfiets raak gery was en in n koma in die hospitaal is en in Julie verjaar. Hulle was mos 2 wat so raak gery was, ander jong man is ontslaan, maar hoe sterk hy ook aan? Baie dankie

Gerhardb ·

Hoe kan ‘n mens die Wereld daar buite laat verstaan dat die houding en aksies van ons Regering nie die beeld is wat ek wil uitstuur nie en ook nie my sienswyse of besluite wat hulle neem koedkeur nie. Ek is nie deel van hulle nie, was nooit nie en sal nooit wees nie. Ek kan seker nie vir almal praat nie.

Henry ·

Birds of the same feather flock together. Ons land is ‘n nes van die tiepe misdadigers. Sterkte want SA het klaar onttrek van die internationale hof. Dit sal nie werk vir SA nie

Chrisjan ·

SA moet eerder begin om SA se misdadigers op te spoor en vir n lang tyd toe te sluit.

Magda ·

Hoop Plaas moordenaars en die Regering wat NIKS doen nie – sal ook aangekla word van VOLKS MOORD – Ek glo dat dit wel sal gebeur.

Verveelde pensioenaris ·

Dis vir my baie oulik dat os Weermag so graag gaan help in die buiteland en dan groot nonsens aanvang, ons moet net hoop dat Lesotho ons nooit aanval nie want ons weermag sal 2 de kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.