SA sanger in Bali gestrand

Elvis-Blue

Elvis Blue. Foto: Argief.

ʼn Bekende Afrikaanse sanger is in Bali gestrand nadat Indonesië Woensdag die internasionale lughawe op dié eiland gesluit het toe die vulkaan op Berg Barujari uitgebars het.

Elvis Blue, wat verskeie toekennings ingepalm het ná die uitreiking van sy eerste Afrikaanse CD, het uit Bali aan Maroela Media gesê hy het sowat twee weke gelede na dié eiland vertrek vir ʼn vinnige vakansie en vir die vervaardiging van ʼn musiekvideo vir die liedjie “Êrens in die middel van nêrens”, die titelsnit van sy jongste album.

“Van Bali het ons na die eiland Sumba gevlieg. Van daar het ons vier uur lank na die dorpie Tarimbang gereis. Daar is so te sê niks daar – nie elektrisiteit of ʼn selfoonsein nie. Dit was ek en ʼn kameraman. Dit is so na aan êrens in die middel van nêrens wat jy kan wees.”

Volgens Blue het hulle so ʼn week lank aan die musiekvideo, wat later in November uitgereik word, verfilm voordat hulle teruggevlieg het Bali toe. “Gisteraand sit ons toe op die vliegtuig om via Singapoer na Johannesburg te vlieg, maar toe sê hulle ons kan nie opstyg nie.” Blue het gesê hulle is hierna in ʼn hotel ingeboek.

“Ons het nou gehoor daar is vandag ook nie vlugte nie en ons kyk nou om te sien wat gebeur, miskien is ons môre op ʼn vliegtuig. Maar ek is lyk my ʼn bietjie vasgevang êrens in die middel van nêrens…. ʼn Mens moet versigtig wees om sulke video’s te skiet: Dit word dalk net die waarheid,” het hy geskerts.

Julius Barata, woordvoerder van die ministerie van vervoer in Bali, het intussen gesê die lughawe sal na verwagting Donderdag oopgestel word. “Vulkaniese stof, selfs al is dit onsigbaar, is baie gevaarlik vir vliegtuie,” het hy gesê.

Barujari spoeg al sedert Sondag as, maar owerhede het gesê die vulkaan se waarskuwingsvlak bly een vlak bó normaal. Inwoners word gemaan om nie nader as minstens 3 km aan die berg te kom nie.

Blue het die foto’s op sosiale media gedeel:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Genis ·

Bali is nou nie die slegste plek in die wêreld om in vasgekeer te wees nie hoor. Dis nou nie Sirië of Siberië nie, behalwe as een of ander kalamiteit die plek getref het waarvan ek nog nie bewus is nie. Weet ook nie wie die mannetjie is nie of hoekom dit hoofnuus is nie.

emma ·

Is hy nie die oukie wat hierdie jaar die Comrades gewen het nie? Lyk bekend.

Sollie ·

Toe tog emma en kie. Hy was ‘n WAARDIGE wenner in Idols SA wat sy woord gehou en die prysgeld met die ou wat tweede was gedeel het. ‘n Ordentlike ou wat baie mooi sing. Word wakker en kom by en houd ie katterigheid maar vir die katte. Daar’s hy hoor!

Piet Pompies ·

Ja welkom in die paradys, ons bly nou al amper 3 jaar hier in Indo en dis niks snaaks as so iets gebeur nie. In Indo is daar +- 105 aktiewe vulkane en baie bos brande, so daar moet altyd n plan B wees as n mens wil reis.
Gelukkig is daar baie slegter plekke waar n mens kan wees met vlug wat vertraag is as op n tropiese eiland. LOL

Piet Pompies ·

Ja welkom in die paradys, ons bly nou al amper 3 jaar hier in Indo en dis niks snaaks as so iets gebeur nie. In Indo is daar +- 105 aktiewe vulkane en baie bos brande, so daar moet altyd n plan B wees as n mens wil reis.
Gelukkig is daar baie slegter plekke waar n mens kan wees met vlug wat vertraag is as op n tropiese eiland. LOL
Veilig reis!

BullsEye ·

whatever..nou nie juis nuuswaardig nie …maar nouja darem welkome afwisseling van al die moord en doodslag!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.