SA sangeres ‘verwerk nog seer’ ná pa se skielike afsterwe

Anneli-van-Rooyen

Anneli van Rooyen. Foto: Argief.

Die Afrikaanse sangeres Anneli van Rooyen sê haar gesin verwerk steeds die skok en hartseer ná haar pa se skielike afsterwe, maar dat hulle vrede vind “in die genade en liefde van God”.

Van Rooyen se pa, Retief, is Sondag in die ouderdom van 86 oorlede.

Die sangeres het Dinsdag aan Maroela Media gesê hoewel die gesin se seer in dié stadium nog baie rou is, is hulle “gevul met ʼn diep dankbaarheid” vir dít wat haar pa as man en ouer vir die gesin beteken het.

“Dit was ʼn geweldige skok en ons is nog besig om dit te verwerk,” sê sy. “’n Mens kry amper nie eens ʼn woord agter mekaar gesê nie. Dit is ongelooflik seer, maar hy was ʼn wonderlike man, en ons is dankbaar dat hy vir só ’n lang tyd vir ons geleen is.”

Retief van Rooyen (Foto: Facebook)

Van Rooyen sê haar pa is vroeg verlede week met geelsug in die hospitaal opgeneem, maar kort ná sy opname is pankreaskanker by hom gediagnoseer. Hy is binne ʼn paar dae in die hospitaal oorlede.

“Ons het maar ʼn week met hom gehad voor hy oorlede is. Dis geweldig seer, maar ons is nie bang nie omdat ons weet hy is by God. My ma is ontsaglik hartseer, maar sy het die gees van ʼn kryger – sy sal hierdeur kom. Vir nou is dit net moeilik omdat die grootste deel van haar weggeneem is. Hulle sou einde September 61 jaar getroud gewees het. Ons almal is net dankbaar dat dit nie ʼn uitgerekte lyding was nie.”

Die sangeres sê haar pa het talle lewens aangeraak en die gesin sal sy nalatenskap vir altyd koester. “Hy was ʼn grootmoedige en ʼn sagmoedige man. Hy het soveel liefde aan ander uitgedeel en hy was ʼn wonderlike man en pa. Ons is seer, maar ons weet dat God mooi kyk na een van ons kosbaarste mense,” sê sy.

Retief van Rooyen laat sy vrou, Tillie (84), Anneli en sy seun, Gerhard, agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

jemma ·

Anneli van Rooyen. Seker dié beste sangeres wat ons land nòg opgelewer het. Jy is ñ ikoon. Baie sterkte met jul verlies.

Fransie ·

Innige simpatie met die groot verlies. Sterkte vir die hele familie.

Sus ·

Sterkte, Anneli en gesin in hierdie moeilike tyd. Koester die mooi onthou-dinge.

Ano ·

Het hom jare gelede in ‘n besigheids hoedanigheid ontmoet – wat ‘n eerbare man en toe al van trots vir sy gesin oorgeloop. RIV en sterkte vir sy gesin.

marianne ·

Ons innige simpatie aan die hele Van Rooyen gesin met die afstrewe van oom Retief. Ons bid vir krag en genade aan julle.

Mien ·

Koester julle mooi herinneringe. Mag julle vertroosting vind en gedra word deur julle geloof en deur soveel mense wat omgee en vir julle bid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.