SA se bloubessiemark blom

Bloubessies (Foto: Pixabay)

Suid-Afrika se bloubessiebedryf sien vanjaar uit na die grootste seisoen nog, met ʼn oes wat sowat 2 300 hektaar beslaan. Dit sal beteken die inkomste uit dié bedryf sal met meer as 50% van die vorige seisoen groei.

Elzette Schutte, operasionele hoof van die Suid-Afrika bessievereniging Berries ZA, sê die groei in die bloubessiebedryf het nie oornag gebeur nie, en dat dit grotendeels oor beter buigsaamheid in die kweek van die bessies is. Sy sê dat regulasies oor watter maatskappye die bessies mag verkoop, plant, bemark en uitvoer in die verlede baie streng was, maar dat daar deesdae meer toegeeflikheid daaroor is.

“Die mark het elke jaar ʼn bietjie toegeneem. Dit het veral in die afgelope ses jaar gegroei. In 2014 het ons sowat 470 ha grond met bloubessies gehad, en toe spring dit na 1 000 ha in 2016. Sedertdien het dit toegeneem tot meer as 2 000 ha,” vertel sy.

Op die oomblik het Suid-Afrika meer as 2 300 ha se bloubessies geplant. Sowat 60% daarvan in die Wes-Kaap, 15 % in Limpopo en 10% in Noordwes. Schutte sê ʼn klein persentasies van bloubessies word ook in Gauteng, die Oos-Kaap en die Vrystaat gekweek.

“Bloubessies is redelik aanpasbaar, maar hulle hou nie van ryp nie. Hulle hou van goed gedreineerde, suur, sanderige grond. Bloubessies kan in die grond óf in potte geplant word,” sê sy.

Bloubessieplante wat in die grond geplant is, kan sowat 30 jaar hou, maar in ʼn pot hou die plant slegs sowat 8 jaar.

Bloubessies word in Junie en Julie in die noorde van die land geoes en effens later in die Wes-Kaap. Schutte sê hulle maak teen Desember klaar en voer dit dan uit sodat dit teen Februarie op rakke oorsee kan wees.

Bloubessies (Foto: Pixabay)

“Ons het verlede jaar sowat 12 200 ton bessies uitgevoer en 14 700 ton geproduseer. Dit wil sê sowat 80% van die bloubessies word uitgevoer. Vanjaar hoop ons om 18 000 uit te voer en sowat 25 000 te produseer,” sê sy.

Suid-Afrika se bloubessies word uitgevoer na die Verenigde Koninkryke (41%), Europa (35%), die Midde-Ooste (18%) en Asië (6%).

Schutte sê van die grootste bekommernisse vir vanjaar se oes is lugtariewe wat so hoog is, hawens wat nog nie oop is nie en beperkte vlugte om die bessies te vervoer as gevolg van die Covid-19-pandemie en die beperkings van verskeie lande op vervoer.

“Bessies het nie ʼn lang raklewe nie; dit moet dus vinnig geskuif word. Daarom is die vervoer altyd vir ons belangrik.”

Nie net is bloubessies goed vir Suid-Afrika se ekonomie gemeet aan uitvoere nie, maar dit help ook om werk te skep. Schutte sê die bloubessiebedryf het die hoogste permanente indiensneming per hektaar van alle kommoditeite in Suid-Afrika. Bloubessies is ook ryk in anti-oksidante en hou talle gesondheidsvoordele in.

Hier is ʼn paar gesondheidsvoordele van bloubessies:

  • Ryk van anti-oksidante
  • Kan die dood van kankerselle bewerkstellig
  • Verlaag bloedsuikervlakke
  • Kan help om blaasinfeksies te voorkom
  • Verbeter geheue
  • Vertraag sigverlies
  • Ryk in vitamien C
  • Ryk in vesel
  • Anti-inflammatories

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Agge nee

As dit meer bekostigbaar kan wees vir die binnelandse koper, dan sal dit ook help. Maar R280 vir 500gram? Nee, dan moet al daardie gesondheidsvoordele by Jan Alleman verbygaan.

Sylvia

Bloubessies … smaakloos, onnodig duur! , kan gesonder vrugte en groente eet vir baie baie goedkoper, bloubessies het ook net nog een van die “elite”-voedselsoorte geword, indien dit wel oor al die gesondheidswaardes het, moet jy seker sakke vol eet, en tweedens hoekom word dit dan nie vir ‘n ieder en elk beskostigbaar gemaak nie. Dit is netsoos wat daar jare gelede ‘n hele hoe-ha gemaak was oor die druiwepit, Kersies is egter smaakvol en is waarde vir jou geld.

summie

Hopelik sal dit nou GOEDKOPER wees , maar ek twyfel. Belaglik wat mens in die winkels daarvoor betaal !!

Francois Le Cochon

So, alles vir uitvoer. Ons SA’s sal weer net met die sub standaard tevrede moet wees, soos met alle ander vrugte. Appels ook net beskikbaar in SA as sub standaard. Kan wel uitvoer gehalte appels in Elgin gaan koop teen ongeveer R200/kg. Ook lemoene. Jare laas n soet lemoen geeet. Indien ‘n SA ner lekker SA vrugte wil koop, moet hul dit in Europa gaan koop. Dan se^ die boere hulle is hier vir voedsel sekerheid.

Pandora

Ons ry elke dag verby ‘n bloubessieplaas. Plaaslike grond word benut net vir die uitvoermark en ons as landsburgers mag nie eers daarvan koop direk by die boer nie, en as ons dan in ‘n supermark moet gaan koop is dit onbekostigbaar duur. Die bloubessie-bemarkers se beloning is dus geen pluimpie vir die gemiddelde burger nie. Jammer maar hoe moet ons dan opgewonde wees oor dié nuus?