SA se eerste Mej. Heelal laat verwyder kankergewas

Margaret Gardiner. Foto: Facebook

Margaret Gardiner, Suid-Afrika se eerste Mej. Heelal, het ʼn kankergewas uit haar neus laat sny.

Die gewas is Donderdag sjirurgies verwyder en volgens Gardiner is daar amper 2 cm van haar neus verwyder tydens die operasie. Sy het gesê dokters het besluit om nie vel van ʼn ander plek op haar neus aan te bring nie en sy sal afgesien van die letsels ook ʼn effense duik op haar neus hê.

Gardiner het 19 jaar gelede ook ʼn kwaadaardige gewas op haar borskas laat verwyder. “Ek lewe met letsels op my borskas en weet hoe dit voel, maar dit verander nie wie jy is nie. Dit word deel van jou.”

Gardiner na die operasie. Foto: Facebook

Volgens Gardiner was sy egter baie bang rakende die prosedure aan haar neus. “Ek was bang ek sou in die spieël kyk en myself nie herken nie. Nie omdat ek dink ek is spesiaal nie, maar omdat my gesig myne is en ʼn gesig is iets wat so persoonlik en openbaar is as wat kan wees. Ek sal daaraan gewoond raak in die spieël en dit dan vir die wêreld wys.”

Gardiner het besluit om die nuus oor haar kankergewas openbaar te maak om ander te waarsku. Die verbande op haar neus is Saterdag verwyder.

“Ons is die generasie wat die son aanbid het. Vandag is ons darem meer ingelig en ek sorg vir my vel. Dra sonblok. Dit moet deel van jou roetine wees soos om jou tande te borsel. En moenie soos ek wees nie. Indien jy ʼn verandering sien, laat dit dadelik ondersoek.”

Gardiner het almal bedank vir hul ondersteuning en boodskappe van bemoediging.

Gardiner, ʼn joernalis wat deesdae in Amerika woon, is op 18-jarige ouderdom as Suid-Afrika en Afrika se heel eerste Mej. Heelal gekroon.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ander Annie ·

Pragtige mens. Binne en buite. Ek wens haar ‘n spoedige en volkome herstel toe.

susan ·

Hierdie is baie traumaties vir die persoon met wie dit gebeur. Jou gesig.

Pragtig ·

Agnee so jammer om te hoor. Jy is GORGEOUS met of sonder ‘n duikie op die neus. Jy is ‘n pragtige mens en was nog altyd jou kroon waardig gewees. Jou hele lewe is een van styl en charisma, mag jy gou herstel.

LB ·

Margaret is een van die mees inspirerende en positiewe mense wat ek al teegekom het. Sy is ‘n ware dame in elke opsig en ‘n uitsonderlike ambassadeur vir ons land. Ek is ontsettend jammer dat ook hierdie seer oor haar pad gekom het maar glo sy sal ook dit met dieselfde waardigheid en krag hanteer as wat haar lewe weerspieël. Baie sterkte.

Cherokee ·

Margaret Gardiner was wel Suid Afrika se eerste Mej Heelal maar voordat daar so ‘n titel bestaan het, was Penny Coelen die eerste mej Wêreld vanuit Suid Afrika. Gelykstaande dus.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.