SA se ekonomie kry harder hou weens Covid-19

begroting-finansies-ekonomie-bestuur-stevepb-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Suid-Afrika se ekonomie word harder as ander wêreldlande getref deur die noodmaatreëls wat die verspreiding van die koronavirus tot gevolg het omdat die land minder gereed is vir ʼn krisis van dié proporsies.

Die verpligte afsondering wat pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand aangekondig het, gaan onteenseglik ʼn uiters negatiewe uitwerking op die land se ekonomie en groeivooruitsigte hê. Suid-Afrika se vermoë om die storm te trotseer word egter verder belemmer deur die reeds negatiewe ekonomiese omstandighede wat swak fiskale en regeringsbestuur tot gevolg gehad het voordat die virus die wêreld getref het.

dawie-roodt-blokkettingtegnologie-afrisake-2017-11-22

Dawie Roodt. (Foto: Reint Dykema.)

Só sê Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group. “Ek neem die president nie kwalik vir sy besluit van totale afsondering nie, dit is ʼn nodige maatreël ter wille van die mense se gesondheid, maar dit gaan die land se ekonomie baie benadeel. Staatsbeheerde instellings was reeds in die knyp en gaan baie moeilik herstel van die uitwerking wat die koronavirus op die land se totale ekonomie gaan hê. Ekonomies gesproke was Suid-Afrika nie gereed vir hierdie krisis nie.”

Suid-Afrika se ekonomie is afhanklik van die wêreldwye ekonomie vanweë invoere, veral van China. Hoewel invoere nie heeltemal opgehef is nie, sal veel minder ingevoer word as voorheen. Binnelands gaan daar ook minder geproduseer word en die regering gaan sy beskikbare geld anders aanwend.

Die werkloosheidsyfer gaan ook skerp toeneem. “Omtrent ʼn halfmiljoen mense kan hierdie jaar nog hul werk verloor. Dis ʼn volle jaar se matrikulante,” sê Roodt.

mike-schussler-irr-pensioene-2018-03-07-verwerk

Mike Schüssler (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.)

Ekonoom Mike Schüssler voorspel dat werkloosheid tot meer as 40% hierdie jaar sal styg en teen die einde van die derde kwartaal op meer as 12 miljoen te staan sal kom. “Die kans is goed dat meer mense moed verloor en heeltemal ophou werk soek,” sê hy.

Schüssler meen die bruto binnelandse produk (BBP) kan met meer as 10% afneem. “Die Covid-19-krisis sal waarskynlik ʼn afname van 6% tot 7% vir die wêreldekonomie inhou en in Suid-Afrika kan ons dubbel daardie afname verwag.”

Roodt voorspel ook dat die BBP tot -5% kan daal teen die einde van 2020.

Hoewel die gevolge van die koronavirus ʼn skok vir alle markte is, word ʼn meer gevoelige hou aan sommige sektore toegedien. Die toeristebedryf, restaurante en kleinhandelsondernemings sal die hardste getref word. “Met vorige ekonomiese insinkings het toerisme nog nie so ʼn groot rol in Suid-Afrika se ekonomie gespeel nie, maar nou is dit ʼn sleutelrolspeler in die binnelandse ekonomie. Ek is erg pessimisties, dit is ʼn nagmerrie,” sê Schüssler.

Roodt stem saam dat ondernemings in die toeriste- en gasvryheidsbedryf die swaarste getref gaan word, maar sê dat daar tog moontlikhede bestaan vir sommiges. “Nie alle restaurant hoef noodwendig hul deure te sluit nie; diegene wat by huise aflewer, kan nog sake doen. Afleweringsmaatskappye en aanlyn winkels soos Takealot kan ook voordeel uit die krisis trek,” meen Roodt.

Gerhard van Onselen van Sakeliga voorspel dat ʼn beduidende aantal werksgeleenthede in die informele sektor verlore sal gaan. “Die verpligte afsondering is ʼn reuse-ontwrigting vir die ekonomie en dit is nog onmoontlik om te voorspel hoe die land daarvan gaan herstel. Alles is tans baie vloeibaar en dit is moeilik om die bewegende dele te ontleed,” sê hy.

Hy meen dat Suid-Afrika se vermoë om te herstel gaan afhang van hoe vinnig die afsonderingsmaatreël opgehef gaan word, en watter ekonomiese beleid daarna ingestel word.

“Die problematiese arbeidswetgewing wat sake reeds voor die krisis belemmer het, sal hersien moet word. Produksie en arbeid moet hertoegedeel word na sektore waar dit die nodigste is, in reaksie op verbruikersaanvraag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Antoinette

Wat ek nie kan begryp nie, is dat daar soveel ontevredenheid en opstande was van mense wat nie vrye toegang tot water – hulle basiese reg – gehad het nie.
Luister ek vanmiddag na ons wonderlike geagte Madame Sisulu, Minister van Water en Sanitasie, Skielik en wonderbaarlik gaan almal nou skielik van water voorsien word sodat hulle higienies kan wees in hierdie moeilike tye. Waarom nou eers? Moet daar dan altyd een of ander krisis wees voordat die regering en munisipaliteite wakker skrik?

JC Venter

Als klink so onwerklik, 554 mens in die land het nou al die virus opgedoen, genadiglik sonder enige sterftes, maar iets oor die 15 miljoen mense ontvang maandelikse regerings-toelaes en leef in haglike omstandighede. 7.5 miljoen mense het Vigs. Die amptelike gemiddelde moordkoers in die land is in die omgewing van 60 per dag.

En ons totale bevolking is so 56 miljoen mense.