SA se ekonomiese herstel ‘op dreef’ – ekonoom

Solidariteit sê dat baie Suid-Afrikaners se aanvoeling dat die ekonomiese groei waarvan hulle lees, geen tasbare verskil aan hul lewens maak nie, geregverdig is. (Argieffoto: Unsplash)

Ekonome sê die ekonomiese groei wat Suid-Afrika verlede jaar getoon het, is belowend, maar dat gewone Suid-Afrikaners egter nog nie die vrugte hiervan pluk nie.

Volgens syfers wat Statistieke Suid-Afrika Dinsdag uitgereik het, staan die reële BBP op 1,2% vir die vierde kwartaal van 2021 en 4,9% vir die jaar en is dit in ooreenstemming met die verwagting.

Carmen Nel, ekonoom en makrostrateeg by Matrix Fund Managers, sê dié groei sal waarskynlik ʼn beperkte uitwerking op die mark hê, terwyl die krisis weens die konflik tussen Rusland en Oekraïne die oorheersende faktor vir risikobates bly. Sy sê soos verwag het landbou ʼn goeie vertoning gelewer, terwyl handel en vervaardiging goed herstel het ná die Julie-oproer en noemenswaardige bydraes tot algehele groei gelewer het.

“Die heropening van die ekonomie en verslapping van inperkingsregulasies is gesien in behoorlike herstel in huishoudelike verbruiksbesteding wat oorgeleun het na diskresionêre besteding soos by restaurante en hotelle, huishoudelike meubelprodukte asook klere en skoene,” sê Nel.

Nog ʼn ligpunt was die groei in vaste beleggings, wat gelei is deur masjinerie en toerusting. Die groei in invoere dui ook op ʼn normalisering in plaaslike aanvraag en moet as positief gesien word, sê sy.

Volgens Nel is Statistieke Suid-Afrika se data byna drie maande oud en het dit ʼn kleiner invloed op die res van die jaar as wat wêreldwye gebeure nou het. Groei behoort ondersteun te word deur robuuste handelsterme, maar ʼn taaier omgewing weens stygende brandstofpryse, die gevaar dat kospryse gaan styg en strenger monetêre beleid staar verbruikers in die gesig.

Nel sê die ekonomie is gereed om pre-pandemievlakke (die eerste kwartaal van 2020) oor die loop van die tweede kwartaal van die jaar te bereik en sal na verwagting teen die Desember-kwartaal op die pre-pandemiekoers wees.

“Albei hierdie tydsberamings is vroeër as wat dit oorspronklik op die hoogtepunt van die Covid-19-pandemie en die strengste afsonderingstyd was,” sê Nel en voeg by dat die land se herstel op dreef bly.

Prof. Raymond Parsons, verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, sê hoewel die ekonomie nog nie weer dieselfde vlak as voor die Covid-19-pandemie bereik het nie, vergoed die 4,9%-groei tog vir heelwat verlore ekonomiese veld en dra dit by tot die verdere normalisering van ekonomiese en sakebedrywighede in Suid-Afrika.

Parsons sê egter die grootste gedeelte van die momentum wat die ekonomiese herstel aangedryf het, is nou agter die rug.

“Die vooruitskattings vir BBP-groei oor die volgens paar jaar bly matig – met die onlangse begroting wat verwag dat groei oor die volgende drie jaar op gemiddeld 1,8% sal staan.”

Om tasbare vordering op indiensneming en belastinginkomste te maak, moet Suid-Afrika nou mik vir BBP-groei van tussen 4% en 5% en dringend meer met die private sektor begin saamwerk.

“Suid-Afrika moet nou staatmaak op nuwe en bygewerkte ekonomiese faktore, nie eenmalige groei nie as hy die getal werksgeleenthede wat teen enige gegewe groeikoers geskep kan word, wil maksimaliseer,” sê Parsons.

Reza Hendrickse, portefeuljebestuurder by PPS Investments, sê die vooruitsig vir groei is stabiel.

“Die ekonomie behoort te herstel namate die uitwerking van die pandemie vervaag. Hoewel monetêre beleid verskerp word, bly toestande akkommoderend terwyl ons oorgaan na meer normale beleidskoerse te midde van gunstige plaaslike inflasie.”

Die fiskus is boonop in ʼn beter posisie danksy verbeterde belastinginvordering en geleidelike hervorming.

Hendrickse stem saam dat die konflik tussen Rusland en Oekraïne ʼn uitwerking op wêreldwye groei kan hê, asook op die inflasie-vooruitsig, veral gegewe die skerp styging en die prys van energie en landboukommoditeite.

Gewone SA’ners se lewe verbeter nie

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê ondanks die hoër as verwagte ekonomiese groei wat Dinsdag aangekondig is, is Solidariteit steeds bekommerd oor die land se “toenemende afhanklikheid van staatsbesteding en finansiële dienste”.

“‘Hoër as verwag’ beteken nie veel nie, veral nie as dit juis die noodsaaklikste bedrywe is wat krimp nie. Ons moet enersyds begin om beter verwagtinge van ons land te kweek en andersyds ophou om bloot na oorhoofse syfers te kyk in plaas daarvan om die lot van gewone Suid-Afrikaners in ag te neem.”

Solidariteit sê dat baie Suid-Afrikaners se aanvoeling dat die ekonomiese groei waarvan hulle lees, geen tasbare verskil aan hul lewens maak nie, geregverdig is.

“Ware ekonomiese groei beteken dat die lewe van Suid-Afrikaners op ʼn waarneembare wyse verbeter. Terwyl stygings in die prys van finansiële bates en instrumente belangrik is, gaan eensydige groei in hierdie rigting min doen om ons land se grootste probleme op te los,” sê Du Buisson.

“Bykans elke sektor van die reële ekonomie krimp of stagneer – mynbou, vervaardiging, konstruksie, handel en nutsdienste is vandag almal kleiner as wat hulle selfs vyf jaar gelede was. Dit is juis in hierdie areas waar ons die grootste vlakke van indiensname behoort te sien, waar die meeste welvaart vir die grootste hoeveelheid mense geskep kan word en waar Suid-Afrikaners direkte en sigbare waardetoevoeging tot hul lewe kan sien.”

Solidariteit sê die inkrimping van die reële ekonomie kan hoofsaaklik toegeskryf word aan regeringsbeleid.

“Dit is eintlik ʼn skande dat ʼn land soos Suid-Afrika, met alles in sy guns, steeds sonder noemenswaardige groei voortploeter. Alles wat ons nodig het om armoede uit te wis, is tot ons beskikking, maar die staat bly vasklou aan uitgediende ideologie. Ons kort beleggings in daardie bedrywe wat werk skep,” sê Du Buisson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

casper ·

Wou ek toe net se.
Skielik is al die ekonome weer terug by die raai-raai dartboard !!

casper ·

Jip – Die ekonome het nog nie die Eksdom briefies gelees nie !!

Blikkies ·

Die groei syfer wat voorgele word is slegs oëverblindery. Plaas dat die ekonome oop kaarte speel en verduidelik dit beteken weinig tot niks vir die land nie alvorens die probleme aan die ander kant van die skaal aangespreek en reggestel word nie. Die Regering se oorbestededing en onregverdige indiens nemings praktyke kortwiek die land nog steeds. Ons beweeg nie vorentoe nie.

knolle ·

Jammer maar ek glo eerder die waarheid wat uit Mike Schussler en Ted Blom se monde kom. Die res van julle is uitverkoop om sonnige lieg prentjies te skets wat die regering en rommelstatus laat optimisties vertoon.

Witbaard ·

Die verval is groter as die sogenaamde groei. Al groei wat werklik sigbaar is, is die beursies van kaders

Alfred E Neuman ·

Ek wonder waar het hierdie paloeka ekonomie bestudeer?

Nie Verbaas ·

Watter ekonomiese groei praat die onbeholpe regering van? Met brandstofpryse buite beheer as gevolg van regering se vraatsigheid gaan n groot deel van die ekonomie n knou kry. Moenie ESKOM uitsluit nie om sy deel by te dra nie.

marius ·

Is dit vandag 1 April of is 1 April in die hool 366 dae lank ?

Mrs H ·

Skrap alle wette wat op Jacob Zuma se horlosie ingestel was! Dit was net ingestel vir die doel van korrupsie en het bewys dat dit nie tot voordeel van ons land, burgers of ekonomie was nie.

Stephen ·

Aub. Met al die korrupsie en diefstal glo ek dit nie. Die syfers wat genoem word soos bv. die verliese van die poskantoor en hope ander maak dit onmoontlik.
Word die “statistieke” ook gehou deur persone met n 30% slaagsyfer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.