SA se ‘ekonomiese herstelplan’ binnekort afgehandel

(Foto: Kelly Sikkema/Unsplash)

Pres. Cyril Ramaphosa sê terwyl verskeie gebiede in Suid-Afrika ʼn skielike toename in Covid-19-infeksies ondervind, word die ekonomiese skade wat die pandemie aanrig ook al hoe duideliker.

Vir miljoene Suid-Afrikaners wat weens die pandemie en die gepaardgaande staat van landwye afsondering sukkel om liggaam en siel aanmekaar te hou, kan die stelling allermins ʼn verrassing wees. Suid-Afrika se werkloosheidskoers staan in hierdie stadium op sowat 30%, duisende ondernemings het reeds hul deure gesluit en al hoe meer werksgeleenthede gaan verlore.

Verskeie hofsake is in hierdie stadium ook aan die gang om spesifieke bedrywe wat deur die afsonderingsregulasies aan bande gelê word, weer behoorlik aan die gang te kry.

Eskom het boonop vroeër vandeesmaand weer beurtkrag begin instel.

Volgens Ramaphosa dui die jongste ekonomiese aanwysers op ʼn beduidende afname in ekonomiese bedrywighede en vertroue en dat die pad na herstel lank en moeilik gaan wees – en nóú moet begin.

Die president skryf in sy weeklikse nuusbrief verskeie voorstelle oor ekonomiese herstel is die afgelope ruk deur onder meer die regerende party, die sakesektor, burgerregtegroepe en onafhanklike ontleders bekend gestel. Ramaphosa sê talle van die voorstelle stem ooreen.

“Tydens die staatsrede in Februarie het ek gesê ons gaan vanjaar op drie kwessies fokus. Eerstens gaan ons die basiese dinge regruk. Tweedens gaan ons nuwe bronne vir groei najaag en derdens gaan ons verseker dat ons optrede deur ʼn vaardige staat gesteun word.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

“Talle van die planne wat bespreek word verwys na hierdie basiese boustene soos betroubare energie, toegang tot breëband, mededingende hawens en doeltreffende vervoer. Saam met ons maatskaplike vennote moet ons die pas van inwerkingstelling bespoedig sodat ons die grondslag van ons ekonomie kan herbou,” sê Ramaphosa.

Die voorstelle plaas ook groot klem op die uitvoering van planne en dat afdelings van die staat wat uitstekend vaar, gesteun en versterk moet word. “Dit sê ook ons moet wyer as die staat kyk. Ons moet die beste beskikbare plaaslike vaardighede saamvoeg, of dit nou in die sakesektor, akademie of burgerlike samelewing is, om ons gemeenskaplike program te steun.”

Ramaphosa sê terreine vir groei wat voor die Covid-19-pandemie geïdentifiseer is, geld steeds. Dit sluit in die groei van klein- en mediumgrootte sakeondernemings en ʼn landboubedryf wat voedselsekerheid kan lewer. Verskeie ander sektore het egter reeds na vore getree en Ramaphosa sê die kans moet byvoorbeeld aangegryp word om ʼn groener ekonomie te bou.

Ramaphosa sê daar is ook ooreenstemming dat die land se herstelpan moet berus op infrastruktuurontwikkeling en ekonomiese groei.

“Oor die volgende paar weke gaan ons met ons maatskaplike vennote saamwerk om ʼn ekonomiese herstelprogram te finaliseer wat die beste uit al die voorstelle saamvoeg. Die belangrikste deel van daardie program moet die beskerming en skep van werksgeleenthede wees.”

Ramaphosa sê ontleders raam dat die pandemie die land miljoene werksgeleenthede gaan kos en in die aanvullende begroting wat verlede maand voorgelê is, het die regering voorsiening gemaak hiervoor. Praktiese maatreëls sluit in betalings deur die Werkloosheidsversekeringsfonds en belastingverligting.

Die president sê sedert die begin van die Covid-19-pandemie het Suid-Afrika met sy beperkte hulpbronne gedoen wat hy kan om ondernemings en werksgeleenthede te beskerm.

“ʼn Gesondheid-, maatskaplike en ekonomiese krisis van enorme afmetings staar ons in die gesig, maar ons laat ons nie afskrik nie en ons word nie ontmoedig nie. Ons sal doen wat ons moet om ʼn ekonomie te bou wat veerkragtig en dinamies is, wat werk en geleenthede skep en wat aan die behoeftes van al ons mense voldoen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Lewe die ou in realiteit? Suid Afrika is gaar my maat, en julle die ANC het hom gaar gemaak!

PH

“Ons moet die beste beskikbare plaaslike vaardighede saamvoeg, of dit nou in die sakesektor, akademie of burgerlike samelewing is, om ons gemeenskaplike program te steun.”

Verwag maar ‘n baie terk sosialisties/kommunistiese aanslag op ekonmiese aktiwiteite.

Adeline

Wonderlik – op papier geskryf wat deur die korrupte anc regering ‘n pad en geleentheid oopmaak om die RZA mooi te beskryf vir die volgende stap ‘n die kriminele paradys/hemel wat hulle wil skep – wonner nou net hoeveel van die beloftes en woorde die grens van waarheid sal oorsteek vir die gene wat als verloor en hard gewerk het?

Hoekom

Maak nie saak die begroting nie, Minder werk = Minder belasting. Die werkloosheidversekeringsfonds gaan nie veraltyd bly nie, die geld gaan minder en minder word. Daar moet gekonsentreer word op werkskepping en uitbreiding van werksgeleenthede. Hierdie mense kan net nie ‘n land regeer nie, hulle het nie die nodige wysheid, kennis of logika nie…

Magda

blabla blaalalalalal – so baie gepraat MAAR geen aksies nie – Lee beloftes net soos die ANC dit kan lewer. SA is klaar rampie en JULLE is die skuldiges.