SA se finansies op mespunt

Tito Mboweni, minister van finansies, het Woensdag ‘n aangepaste begrotingsrede gelewer. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Suid-Afrika se finansies word in dié stadium tot op breekpunt gedryf en kan nie nog skokke hanteer nie, het Edgar Sishi, die waarnemende hoof van die tesourie se begrotingskantoor, Donderdag gewaarsku.

ʼn Dag nadat die minister van finansies, Tito Mboweni, sy aangepaste begroting weens die Covid-19-pandemie in die parlement ter tafel gelê het, het Sishi gesê die staatskas kan nie nog openbare beleggings bekostig nie.

Die tesourie glo deur te konsentreer op ʼn belastingsurplus (wanneer die belastinginkomste meer is as die regering se besteding) kan meer veerkragtigheid in die ekonomie verseker word. Die tesourie hoop om in 2023-’24 hierdie surplus te bereik. Mboweni hoop ook om stygende staatskuld op 87,4% van die Bruto Binnelandse Produk (BBP) in dieselfde jaar te stabiliseer.

Mboweni se aangepaste begroting was ʼn streng waarskuwing oor die land se skuldlas wat selfs voor die Covid-19-pandemie kommerwekkende afmetings aangeneem het. Die verwagte skuld-tot-BBP-verhouding vir die huidige boekjaar het reeds van 65,6% tot 81,8% toegeneem.

“Ons hoop dat ons in 2023-’24 skuld op 87,4% kan stabiliseer, dieselfde jaar wat ons ʼn primêre surplus verwag,” het Sishi gesê.

Direkteur-generaal Dondo Mogajane het bevestig dat dié teiken deel was van die onderneming wat Suid-Afrika aan die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) gegee het in ʼn poging om ʼn lening van $4,2 miljard (sowat R72 miljard) by die organisasie te verseker.

“Dit is nie ʼn voorwaarde nie, maar iets waartoe die Suid-Afrikaanse regering verbind is.”

Mboweni het die samesprekings oor die lening Woensdag as taai en moeilik beskryf, maar het opmerkings van parlementslede – dat die regering moontlik verlammende voorwaardes van die IMF aanvaar – verwerp.

“Die $4,2 miljard word nie op voorwaardes gegrond nie, maar ons moet wys dat ons in ʼn posisie is om dít wat ons leen weer terug te betaal,” het hy gesê.

Mboweni het gesê sodra die IMF-lening verseker is, verwag hy dat die regering ook ʼn lening van tussen een en twee miljard dollar (tussen R17 miljard en R34 miljard) by die Wêreldbank kan leen in ʼn poging om die land se balansstaat te midde van buitengewone ekonomiese omstandighede weer op dreef te kry.

Die IMF gaan na verwagting teen volgende maand ʼn besluit oor die lening neem. Mogajane het gesê dit gaan dan ʼn paar dae duur voor die geld Suid-Afrika bereik.

Die nasionale tesourie verwag dat die ekonomie vanjaar met 7,2% gaan inkrimp, die grootste daling in die plaaslike ekonomie die afgelope 90 jaar.

Die graderingsagentskap Moody’s het intussen gewaarsku dat Suid-Afrika ʼn swak geskiedenis van fiskale konsolidasie het, wat tesame met die huidige ekonomiese klimaat niks goeds vir die stabilisering van skuld binne die volgende vier jaar voorspel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Kokerboom ·

Hierdie is ‘n strawwe toets vir die Minister en sy span om die land uit die skuldstrik te bestuur. Ek vertrou streng fiskale dissipline sal gehandhaaf word en die spandabelrige ANC in die bek geruk word tot voordeel van die land en sy mense se toekoms. Indien nie, is dit nag!!!Baie sterkte. Net tyd sal leer

marius ·

Geen geld , geen water , geen krag , geen infrastruktuur , geen kos , geen werk , geen skole , geen hospitale , geen beskerming , geen vervaardiging , geen eerbaarheid ,geen verantwoordbaarheid .
Veels geluk met 27 jaar se fantastiese prestasies . Die trots van afrika!

johanf ·

Nee wat, daar gaan nog beslag gelê word op ons eens florerende Land,…….werkloosheid is klaar te hoog, en dit gaan nog verhoog, ons gaan ń addisionele R 1.4 biljoen verloor met die verdere uitstel van die BATSA (tabak verbanning) hofsaak. Dit gaan erger as die plaaslike Cashloans.
Miskien is ek te dom om die lig in die tonnel te sien…….

Charles ·

Die “parliamentarians” is nie bekommerd nie, hulle kry nog hul geld maandeliks, so wat is dan nou die probleem? ” Gee die massas koek om te eet” soos n sekere franse tannie lank gelede gese en die nagelvolge van dit kan ons voorland word.

Jaco ·

Die begroting sê niks van wit mense uit die ekonomie haal nie. Dit was dan die groot amperse dreigement al vanaf voor lockdown begin het. Dis selfs voorgehou as ‘n oplossing vir SA se probleme. Of is die stilbly in die begroting daaroor net ‘n stilte voor die storm?

Boortor ·

Nou op n mespunt? Dit WAS op n mespunt. Ons is onderdeur. Weet dit nou maar en aanvaar dit.

Mieke ·

Boortor… dit was presies my eie gedagtes! Die ekonomie is baie lankal sy peetjie in !!

Nico ·

Die ANC regering is die oorsaak van hierdie gemors waarin die land nou verkeer, nou word die coronavirus ook as verskoning gebruik

MakersMark ·

As intellektuele en morele bankrot mense die land bestuur hoekom sou mens verwag dat die land finansieel welaf sou wees ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.