SA se gebrek aan grensbeheer blootgelê

Die Beitbrug-grensdraad. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Suid-Afrika se gebrekkige bestuur van sy grense met Zimbabwe het daartoe gelei dat gemeenskappe gebuk gaan onder ʼn vlaag van allerlei misdade.

Die burgerregteorganisasie AfriForum se jongste dokumentêr, Open Borders, het hierdie ooglopende krisis, wat tot op hede nog nie doeltreffend aangeraak is nie, blootgelê.

“ʼn Mens kan nie regtig verstaan hoe ernstig die situasie is totdat jy dit self gesien het nie,” sê Jacques Broodryk, regisseur van die dokumentêr en veldtogbestuurder by AfriForum.

“Gemeenskappe het nie ʼn ander keuse as om verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te neem nie, veral omdat die regering glad nie daarin belangstel om hierdie gebiede suksesvol te patrolleer nie.”

Volgens AfriForum moet sy buurt- en plaaswagvrywilligers gereeld inwoners naby die grensgebiede bystaan om hul eiendom teen die “aanhoudende insypeling van smokkelaars en stropers” te beskerm.

Op verskeie plekke is die grensdraad gesteel en vir skrootmetaal verkoop en boonop gebruik misdadigers aan Suid-Afrika se kant hierdie geleentheid om gesteelde voertuie in Zimbabwe in te smokkel.

“Vrywilligers wat deel is van AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture waag elke dag hul lewe om oorgrensmisdaad te bekamp en tog stel die owerhede klaarblyklik nie daarin belang om die probleem op te los nie,” sê Broodryk.

Die regering is destyds gekap vir sy hantering van die omstrede Beitbrug-grensdraad wat deur sommiges as niks meer as ʼn “wasgoeddraad” beskryf is nie.

Dié heining, wat aan Zimbabwe grens, het die regering R40 miljoen uit die sak gejaag ten spyte daarvan dat ʼn ondersoek na die projek aan die lig gebring het dat allerlei swak boupraktyke die doeltreffendheid van die heining in gedrang gebring het.

Hoewel die kontrakteurs van die heining deur die hof beveel is om die winste van die projek terug te betaal, eis verskeie politieke partye steeds Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, se kop ná hierdie “wanbesteding van broodnodige geld”.

“Die regering se klaarblyklike belangeloosheid om hierdie spesifieke grenspos te beveilig het tot ʼn toename in smokkelary en onwettige immigrasie gelei,” het Broodryk in die dokumentêr gesê.

Boonop laat die reuseagterstand by die grenspos, gewoonlik weens korrupsieverwante redes, diegene wat wettig deur die grens wil gaan vatbaar vir gewelddadige aanvalle.

“Ons grensgebiede het as’t ware in ʼn wilde weste verander waar dit elke man vir homself is.”

Die volgende aflewering van Open Borders sal kyk na Suid-Afrika se grens met Mosambiek.

  • Kyk AfriForum se jongste dokumentêr hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andre ·

In my diensplig jare het ons daai grensdraad platgeloop, en nie n enhele onwettige laat deurkom nie. Dis n skande hoe dit agteruit gegaan het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.