SA se goue Supa-Piet se pad na sukses

Pieter du Preez. (Foto: Twitter/Bartłomiej Zborowski)

Suid-Afrika se Pieter “Supa-Piet” du Preez is die eerste kwadrupleeg in geskiedenis wat die Ironman-kompetisie voltooi het.

Hy het ook Dinsdagoggend die vierde medalje vir Suid-Afrika op die Paralimpiese Spele ingeoes toe hy goud gewen het in die handfietsry-item. Hy het met ’n tyd van 43:49.41 koning gekraai; amper twee minute vinniger as Italië se Fabrizio Cornegliani in die tweede plek.

Die pad na sukses was inderdaad nie altyd maklik nie. In 2003 het hy sy nek in ’n fietsryongeluk gebreek, terwyl hy sleg geval het en sy AC-gewrig heeltemal ontwrig het.

“Toe ek op die grond land, het ek geweet ek het my nek gebreek, want ek kon niks beweeg nie.

“Ek sê altyd ek was gebore om ʼn kwadrupleeg te wees. Ek weet dit is ʼn vreemde ding om te sê, maar ek het net geweet dis hoe dit moet wees,” het Du Preez in Oktober verlede jaar aan kykNET in die reeks Gewoon Ongewoon gesê.

Pieter du Preez het Suid-Afrika se derde goue medalje by die Paralimpiese Spele in Tokio gewen. (Foto: Twitter)

“Tensy jy nie in hierdie posisie sit nie, sal mense nie maklik verstaan wat dit verg vir my om teen nie-gestremdes aan ʼn Ironman-kompetisie deel te neem nie. Dit is amper onmoontlik.”

Hy het vertel hy ervaar die vryheid wat hy gehad het voor sy ongeluk wanneer hy in die swembad is. “Jy dryf en daar is geen gewig nie,” sê hy.

“Mense kyk na alles wat ek doen en dink dit is so ongelooflik, maar die ongelooflikste persoon in die prentjie is my vrou. My drome het ons drome geword en dit is ʼn absolute spanpoging tussen ons twee.”

Hulle het ʼn jong seuntjie, Pietman. “Ons kyk na die oop deure en vind altyd ʼn manier om dinge te maak werk. Aan die einde van die dag is hierdie net jou lyf, dit is nie wie jy is nie. Pieter is die ou hier binne.

“Ek wil net ʼn pa wees vir my seun en ʼn man vir my vrou.”

Kyk hier na Du Preez se onderhoud met kykNET:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kobus ·

Pieta jy is n eye opener vir baie van ons vir my is jy beslis sterkte voorentoe hou jou oe oop my vriend

Yvonne ·

Wat n ongelooflike kosbare getuienis….dankie vir die pragtige berig….seenwense aan Piet

piet ·

Piet moet ‘n motiveringspreker word. Maroela kan hom gerus ‘n spasie gee vir ‘n motiveringshoekie om die klomp negatiewes hier wat oor alles kla op te beur (te laat bykom).

Charl ·

Pieter, jy is absoluut ‘n wonderlike individu, jou benadering tot die lewe moet vir ander ‘n inspirasie wees. Baie geluk met die GOUD !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.