SA se ‘Groot 5’ laat vlae wapper vir hoop in SA

Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, Jay du Plessis, Bok van Blerk, Hannes Noëth en Ruhan du Toit van Touch of Class. Foto: Verskaf.

Vyf van die land se vooraanstaande Afrikaanse sangers en Helpende Hand het kragte saamgesnoer vir ’n veldtog wat poog om hoop in Suid-Afrikaners se harte te laat opvlam.

Erns Vorster, adjunk- uitvoerende hoof van gemeenskapsontwikkeling en kommunikasie by Helpende Hand, het gesê die veldtog genaamd “Die land behoort aan jou” gaan hand aan hand met die onlangse bekendstelling van die enkelsnittreffer “Die land”, wat gesing word deur Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, Jay du Plessis, Bok van Blerk en Ruhan du Toit van Touch of Class.

“Die land” is onlangs aan radiostasies vrygestel en het reeds sy plek op talle stasies se top-10-trefferparades ingewurm. “Op sommige ranglyste is dit selfs al die no. 1-liedjie. Die musiekvideo is die afgelope Sondag vir die eerste keer op Jukebox op kykNET NOU vertoon en is goed ontvang.

“Die liedjie is van Maandag af, op Erfenisdag, eksklusief vir verbruikers beskikbaar op die pas vrygestelde Afrikaans is Groot Vol. 11-album, saam met ’n plakker van die veldtog se embleem wat die gemeenskap kan vertoon om ’n boodskap van hoop te versprei,” het Vorster gesê.

“Die land” gaan ook tydens vanjaar se immergewilde Afrikaans is Groot-konserte opgevoer word en beloof om een van die hoogtepunte te wees.

“Ek is baie opgewonde oor ‘Die land’ en ek en my kollegas wil met hierdie lied die boodskap van hoop aan elke Suid-Afrikaner bring. Dit gaan nie net oor die situasie waarin ons is nie, maar ook oor dít waarin ons glo en wat ons vir ons nageslag wil nalaat,” sê Steve Hofmeyr.

Helpende Hand en die organiseerders van Afrikaans Is Groot sê hulle hoop dat dié lied en veldtog Suid-Afrikaners se harte trots gaan laat klop oor die land.

“Hierdie lied inspireer landsburgers om in die land te bly en daarin te belê – soos God se doel was met elke persoon wat Suid-Afrika sy tuiste noem. Met diep lirieke vanuit die pen van die bekroonde liedjieskrywer Johan Oberholzer bring die lied ’n gevoel van trots oor dit wat aan ons toevertrou is. Dit gaan selfondersoek van elke Suid-Afrikaner verg oor wat ons vir ons nageslag gaan nalaat,” het organiseerders van Afrikaans is Groot gesê.

Die publiek kan die veldtog se webwerf, dielandbehoortaanjou.co.za, besoek om ’n snit van die liedjie as ’n luitoon af te laai en ook om ’n plegbelofte af te lê.

Hannes Noëth, besturende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, verduidelik met dié plegbelofte ondersteun die gemeenskap hierdie inisiatief en onderneem elkeen “om sy vlag te waai en te bly saai in ons mooi land, Suid-Afrika”.

“Dit gaan nie oor die situasie waarin ons is nie, maar oor dít waarin ons glo en ’n boodskap van hoop. Die embleem dien as ’n herinnering dat – soos die vlag bly wapper, die liefde vir ons land ook sal bly staan. Dat, al verloor ons alles, niemand van ons kan wegneem wat God vir ons gegee het nie, en dit is wat ons vir ons nageslag wil nalaat. Jy kan hierdie embleem vertoon as simbool van ’n openlike plegbelofte sodat almal kan sien – die land behoort aan ons almal,” sê Noëth.

Buiten die plakkers, het Helpende Hand ook talle vlae laat maak wat na die organisasie se takke landswyd versprei gaan word.

Noëth het ’n beroep op die publiek gedoen om na hul naaste Helpende Hand-takke te gaan en hul familiename op die vlae te skryf, wat sal dien as ’n belydenis vir die geslagte wat gaan kom.

“Al die getekende vlae gaan in November teruggebring word na Pretoria en by die Afrikaans Is Groot-konserte wapper as ’n simbool dat die son, see en land deur God aan ons almal gegee is. Dit is vir Helpende Hand ’n groot voorreg om hande met dié kunstenaars te vat. Ons ondersteun die veldtog met ons hele hart,” sê Noëth.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

LB S ·

Hy was nog altyd welkom by Afrikaans is Groot, dit is die HuiLgenootse een waarvan ek nie eers die naam onthou nie en Oppikoppie waar hulle hom nie soek nie. Who cares? Steve doen goed genoeg sonder hulle.

FM ·

Kom ons val in, vat hande en wys ons krag en trots. Dis tyd. Voorwaarts!!!

Snip Joburg ·

Kan iemand ASB Vir my se waar is n Tak van Helpende Hand as Ek in Fourways Bly. Sal baie dankbaar wees.

Al ·

Ek stem. Ons voorouers het baie erger dinge oorleef en vir ons opgestaan. Dis tyd dat ons dit vir ons nageslagte doen.
Trots op jul almal!

Betervoel ·

‘n nuwe poging met “beter voel” musiek om mense/slagoffers se emosies te bestuur in die wonderlike helhool……

Conrad ·

Plegtige belofte…

Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra:
Wat beteken jou vlag dan Suid-Afrika?
Ons weet hy’s die seël van ons vryheid en reg
vir naaste en vreemde, vir oorman en kneg;
die pand van ons erf’nis, geslag op geslag,
om te hou vir ons kinders se kinders wat wag;
ons nasie se grondbrief van eiendomsland,
uitgegee op gesag van die Hoogste se hand.
Oor ons hoof sal ons hys, in ons hart sal ons dra,
die vlag van ons eie Suid-Afrika

Maretha Henning ·

Baie dankie vir die plasing van die Vlaglied se woorde. Ons het dit as kinders by ons skool gesing maar met tyd het mens die woorde vergeet Weet iemand wie dit geskryf het?

Anti-Negatief ·

Conrad, dankie daarvoor. ‘n Vaag onthoude liedjie wat in my grootwordjare baie ernstig gesing en bedoel was! Helaas nou bykans vergete. Vir Betervoel willek net sê: moenie van andere verwag om jou gelukkig te maak/beter te laat voel nie! Dit is elke mens se wil om gelukkig of ongelukkig te wees. Begin minder negatief wees en vat hande met mense wat ‘n verskil wil maak!

Elsa ·

Ek waardeer dit dat hierdie groep sangers en Helpende Hand so ‘n poging aangewend het en ek hoop regtig julle slaag in jul doen en kry mense meer positief. Ek is seker een van die min mense wat nie eens hierdie lied nodig het nie omdat ek nog steeds lief is vir my land en nog steeds hoopvol en positief is, al lyk dinge hoe sleg. Niemand sal my wegdryf uit SA nie en ek steur my net so min aan die doemprofete as wat ek Julius Malema sal toelaat om my in vrees te laat lewe. Ek is hier gebore, dis MY LAND en hier sal ek bly!!

marina appelgryn ·

Elsa stem so saam jou! Ek gaan ook nêrens en sover my kinders ook. Ek het vriende wat sulke begaafde kinders het dr, fisio, ingenieurs, en rekenmeesters geword get! Ironies hul almal oorsee nou!! Ek gaar gesê so bly my kknders is maar gemiddeld en moet maar hier hul heil uitwerk. Haar antw aan my : ” ja ek het al baie gewens hul het maar eerder tilla geslaan n Pick ‘n Pay!!”

marina appelgryn ·

Elsa stem so saam jou! Ek gaan ook nêrens en sover my kinders ook. Ek het vriende wat sulke begaafde kinders het dr, fisio, ingenieurs, en rekenmeesters geword get! Ironies hul almal oorsee nou!! Ek gaar gesê so bly my kknders is maar gemiddeld en moet maar hier hul heil uitwerk. Haar antw aan my : ” ja ek het al baie gewens hul het maar eerder tilla geslaan n Pick ‘n Pay!!”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.