SA se hoop vir die gesogte Laureus-prys

Caster Semenya. Foto: Karwai Tang/ANA

Suid-Afrika se 800 m-wêreldkampioen Caster Semenya is die land se enigste benoemde vir die 2018-Laureus-sporttoekennings op 27 Februarie in Monaco.

Semenya is benoem vir die Sportvrou van die Jaar-eerbewys. Sy kom teen die tenniskampioene Garbiñe Muguruza en Serena Williams, die atleet Allyson Felix, die 19-jarige swemsensasie Katie Ledecky en die skiër Mikaela Shiffrin te staan.

Die atleet Mo Farah, tennisspelers Roger Federer en Rafael Nadal, fietsryer Chris Froome, renjaer Lewis Hamilton en die sokkerster Christiano Ronaldo is benoem vir Sportman van die Jaar. Federer is ook benoem vir die Terugkeer van die Jaar-eerbewys. FC Barcelona (sokker), Justin Gatlin (atletiek), Sally Pearson (atletiek), Valentino Rossi (motorfietsry) en Chapecoense (sokker) is die ander benoemdes.

Die benoemdes in die Span van die Jaar-kategorie is die Franse Davis Cup-tennisspan, die Golden State Warriors-basketbalspan, Mercedes-AMG se Petronas F1-span, Nieu-Seeland se seiljagspan, die New England Patriots-voetbalspan en die Real Madrid-sokkerspan.

Roger Federer. (Foto: AP Photo/Andy Brownbill)

Giannis Antetkounmpo (basketbal), Caleb Dressel (swem), Sergio Garcia (gholf), Anthony Joshua (boks), Kylian Mbappe (sokker) en Jelena Ostapenko (tennis) is benoem in die Deurbraak van die Jaar-kategorie.

Die ses benoemdes vir die Sportpersoon van die Jaar met ʼn gestremdheid is Marcel Hug (atletiek), Yui Kamiji (tennis), Oksana Masters (ski), Brian Mentel-Spee (sneeuplankry), Jetze Plat (driekamp en fietsry) en Markus Rehm (atletiek).

In die kategorie Aksiesportpersoon van die Jaar is John John Florence (branderplankry), Anna Gasser (sneeuplankry), Nyjah Huston (skaatsplankry), Armel le Cleac’h (seilvaart), Mark McMorris (sneeuplankry) en Tyler Wright (branderplankry) benoem.

Thomas Danel in trane nadat nadat ‘n botsing die einde van Raikkonen se deelname aan die Spaanse Grand Prix beteken het.

Daar word ook ʼn toekenning gemaak vir Beste Sportoomblik van 2017. Die benoemdes is Billy Monger wat teruggekeer het na Formule 4 nadat hy albei sy onderbene verloor het, die sesjarige Bradley Lowery wat in Julie 2017 oorlede is en sokkerondersteuners geïnspireer het danksy sy spesiale band met die sokkerster Jermain Defoe, die Chapecoense-sokkerspan wat in ʼn vernietigende vliegtuigongeluk was, maar desondanks weer op dreef is, die Wave for the kids-tradisie waartydens ondersteuners van die Iowa Hawkeyes vir kinders wat in die hospitaal oorkant die Kinnick-stadion is, waai en Ferrari-aanhanger Thomas Danel wat sy held Kimi Raikkonen ontmoet en tyd saam hom deurgebring het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.