SA se hotelmagnaat Sol Kerzner oorlede

Sol Kerzner. Foto: Verskaf

Die hotelmagnaat Sol Kerzner is Saterdagaand in die ouderdom van 84 jaar ná ‘n kankerstryd oorlede.

Maroela Media het vroeër berig Kerzner is nie Saterdagoggend reeds dood soos daar op sosiale media beweer is nie, maar dat hy ernstig siek is met kanker.

In ʼn verklaring aan Maroela Media het die familie nou bevestig dat Kerzner Saterdagaand net voor 19:00 in die Kerzner-familiehuis teen die hang van Leeukoppie in Kaapstad oorlede is. Kerzner het dié eiendom in 1983 gekoop en dit dien sedertdien as die familie se Kaapstad-huis wanneer hulle in Suid-Afrika is.

Ian Douglas, woordvoerder van die Kerzner-familie, het aan Maroela Media bevestig dat Kerzner om 18:52 oorlede is. Hy was omring deur familielede.

Kerzner word oorleef deur sy kinders Andrea, Beverley, Brandon en Chantal en 10 kleinkinders. Sy oudste seun, Howard ‘Butch’ Kerzner, is in 2006 in ʼn helikopterongeluk dood.

“Niks wat hy gebou het, was ooit vervelig nie en hy het nooit geld gejaag nie. Hy het net sukses gejaag. Hy was altyd ‘n baanbreker en altyd op soek na groter, beter, nuwe, ongewone, meer veeleisende en meer opwindende projekte regoor die wêreld,” het Douglas gesê.

Kerzner sal tydens ʼn klein privaat begrafnisdiens, wat net deur nabye familielede bygewoon sal word, te ruste gelê word.

“My pa het vir ons familiewaardes geleer. Dit maak nie saak hoe besig hy was nie, hy het altyd tyd gemaak vir ons, sy familie. Hy sou tydens ʼn belangrike vergadering ʼn oproep van een van ons geantwoord het of halfpad om die wêreld gevlieg het om ʼn kleinkind se verjaardagpartytjie by te woon. Sy familie was vir my pa álles; dit was sy vreugde,” het Kerzner se dogter, Andrea, gesê.

Kerzner het die Southern Sun-hotelgroep, Sun International en Kerzner International begin. Hy is in 1935 in Johannesburg gebore, en was sy ouers, wat Russiese immigrante was, se enigste seun en die jongste van vier kinders.

Kerzner is internasionaal bekend vir sy vakansieoorde, nie net in Suid-Afrika nie maar ook in Mauritius, die Maledive, die Bahamas en Dubai. Hy het sy graad in rekeningkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf.

Sy loopbaan in die gasvryheidsbedryf het in 1962 begin toe hy ʼn klein herberg in Durban gekoop het. Dié herberg is vinnig in ʼn gewilde hotel omskep. Kort hierna het The Beverly Hills in Umhlanga Rocks, die eerste vyfster-hotel in Suid-Afrika, gevolg.

In 1975 is bouwerk aan die Sun City-kompleks begin, waarna daar na hom verwys is as die Sonkoning. Kerzner het sy eerste groot eiendom-aankoop buite Afrika in 1994 gedoen.

Daar is aan die begin van 2019 met Bouwerk aan die superluukse landgoedontwikkeling Kerzner Estate in Kaapstad is in 2019 afgeskop. Dié landgoed van 10 hektaar is teen die hange van Leeukop geleë. Dit is die eerste ontwikkeling wat die Kerzner-van dra.

Kerzner het in 2014 uitgetree as voorsitter van die luukse hotel- en oordgroep Kerzner International. Hy het die groep, wat ook die One&Only-hotelle besit, in 1994 gevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Stof ·

Ek onthou nog hoe ons op skool gewaarsku was teen Sol se inisiatiewe. Van die onderwysers het mos vas geglo hy is die duiwel self. Maar, dit was juis hy wat van my skoolmaats uit die sewentigs, gemotiveer het om die suksesvolle besigheidsmanne te word wat hulle vandag is. Nie die onnie of Tannie Emsie Shoeman of Dr Eddie van Zyl, kon hulle weerhou om in die besigheidspore van hierdie mentor vir vele besigheidsuksesse, te loop nie.
Ek eer Sol vir die mentor wat hy was, vir vele besighede.
Wel te ruste.

antieke antie ·

RIV Sol ….sterkte aan die familie….. ek het groot respek vir hom…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.