‘SA se jeug verdien beter as politieke slagspreuke’

Flip-Buys-2015-September

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging Foto: Reint Dykema.

Op die rug van die skoknuus dat 52,4% van Suid-Afrika se jeug nou werkloos is, het die vakbond Solidariteit Woensdag op sy jaarlikse kongres die organisasie se nuwe jeuginisiatief, Solidariteit Jeug, bekendgestel.

Volgens Statistiek Suid-Afrika het die land se jongste werkloosheidsyfer op 26,7% gebly, maar werkloosheid onder die plaaslike jeug het van 51,1% in die laaste kwartaal van 2017 na 52,4% in die eerste kwartaal van 2018 toegeneem.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het in sy toespraak op die kongres by die Atterbury-teater in Pretoria gesê daar het onder die swak leierskap van die Zuma-jare ʼn ernstige vertrouenskrisis tussen die regering en sy burgers ontstaan.

“As die hoofoorsaak van die vertrouenskrisis oor die afgelope jare die swak president was, dan is die goeie nuus dat hy uitgeskuif is en daar nou ʼn nuwe leier is. Dit is ongelukkig so dat mnr. Ramaphosa sleg weggespring het met die kwessie van onteiening sonder vergoeding wat mense verder uitmekaar gedryf het in plaas van nader aan gesamentlike oplossing te bring. Die president sal moet leiding neem om die verdeeldheid te heel deur almal se fundamentele belange in ag te neem.

“Dit is nou tyd om saam te werk aan die toekoms van die volgende geslag, en nie die land te verdeel op pad na die volgende verkiesing toe nie. Ons jeug verdien beter as politieke slagspreuke.”

Buys het gesê daar moet dringend oor die toekoms van die jeug gepraat word en daar moet verseker word dat die toekoms nie net ʼn voortsetting van die huidige situasie van die land is nie.

“My boodskap vandag is dat dit tyd geword het dat wedersydse vertroue hernuwe word omdat ons land tans gekenmerk word deur groeiende wantroue, toenemende teleurstelling en ʼn stygende woede oor alles wat verkeerd gaan.

“Daar moet verandering kom, want Suid-Afrika is nie nou op ʼn goeie plek nie,” het Buys gesê.

Volgens hom kan dit bereik word deur te fokus op dit waaroor Suid-Afrikaners saamstem en te sorg dat die ding waaroor landsburgers met mekaar verskil, hulle nie verdeel en lei tot groterwordende wantroue en gevegte nie.

Buys het benadruk dat die Solidariteit Beweging nog nooit voorgegee het om “namens” Afrikaners te praat nie, maar dat die organisasie glo hulle kan ten behoewe van bykans almal praat omdat dit byvoorbeeld eiendomsreg en ander menseregte bevorder, want grondonteiening kan almal in ʼn land benadeel.

“Ons is ʼn hoofstroombeweging van 450 000 mense wat streef na normaliteit en wat nie die twee uiterstes van die politieke spektrum verteenwoordig nie. Die Solidariteit Beweging glo nie aan vreemde, ekstreme, ingevoerde of uitgediende ideologieë nie.”

Buys het gesê die organisasie se ideeraamwerk is kortweg, onder meer, gegrond op ʼn Christen-demokratiese grondslag, groeiende markekonomie, oppersgesag van die reg, gesonde rassebetrekking en samewerkende verhoudings en die erkenning van selfstandige gemeenskappe of federalisme.

Hy het ook bygevoeg dat om aan te dring op grondwetlike ruimtes en regte is nie ʼn soort regse idee nie. “Dit is net normaal om na normaliteit te streef.

“As die regering nie vir ons kultuurgemeenskap ook omgee nie, aanvaar ons die verantwoordelikheid vir ons eie toekoms. Maar dit is tyd vir ʼn nuwe begin: Kom ons begin met mekaar praat en werk saam aan ʼn nuwe toekoms vir die land en al sy mense.”

Buys het gesê Solidariteit se hoofraad het Dinsdag besluit dit is nodig om vertroue te probeer hernuwe met gesprekke en ooreenkomste met die owerhede.

“Dit kan iets wees soos ʼn nasionale dialoog, maar om te verseker dat dit nie maar weer net in ʼn doellose gepraat ontaard nie en sal twee voorwaardes vir die sukses van so ʼn gesprek hê.

“Die eerste is dat wedersydse erkenning en respek vir mense, gemeenskappe en menselewens ononderhandelbaar is. Sekere van die ANC se beleidsrigtings het tot groot wantroue onder Afrikaners gelei. Ek wil dit duidelik stel dat ons uit ons pad sal gaan om vertroue te herbou, maar dat ons nie dink dat dit demokrasie is as twee wolwe en ʼn skaap ‘demokraties’ moet besluit wat hulle vir aandete gaan eet nie.

“Die tweede is dat daar nie net geluister word na mekaar se sienings nie, maar iets daadwerkliks aan die probleme gedoen moet word. Ons is moeg gepraat oor die probleme van onbillike rassewette, dorpsverval, geweldsmisdaad en aanvalle op Afrikaanse skole en universiteite, sonder dat iets daaraan gedoen word.”

Buys het gesê so ʼn gesprek met die ANC en die regering moet dus nie net ʼn eensydige verduideliking van regeringsbeleid wees nie, maar moet uitloop op ooreenkomste. “Dit kan byvoorbeeld in die vorm van ʼn opvolgskikking of ʼn kulturele ooreenkoms wees wat wel in werking gestel word en nie soos al die voriges maar net op die rak bly lê nie.

“Ons wil graag hê Suid-Afrika moet suksesvol wees, want ons en ons kinders bly ook hier. Ons wil graag help om die land suksesvol te maak, maar dan moet ons nie uitgesluit of uitgeskuif of geteiken word nie.

“Ons veg nie vir ʼn beter verlede nie, ons klou ook nie aan onregmatige voorregte vas nie, maar ons as gemeenskap wil deel van die toekoms wees. Ons jongmense verdien beter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Richard

Dis nie waar dat 52.4% van Suid-Afrika se jeug werkloos is nie. Die “narrow” werkloosheidskoers onder mense 15 tot 24 is wel 52.4%, maar dit beteken nie dat 52.4% van die totale groep werkloos is nie. In elk geval moet mens eerder na die “broad” werkloosheuidskoers kyk, en dit is 65.7%. Dit beteken ook nie dat 65.7% van die groep werkloos is nie. Wat dit beteken is dat van al die 15 tot 24 jariges wat WIL werk, 65.7% nie ‘n werk het nie. Die vraag is dan hoeveel van daai groep wil werk? Meeste is mos nog op skool… Lees meer »

KP

Dit gaan nog erger word

Jacques

Wat is die definiesie van werkloosheid ? Ek reken daar is n verskil tussen iemand wat regtig wil werk en iemand wat werk soek en bid dat hy dit nie kry nie . Een van die groot probleme in SA is dat mense met grade nie onder wil begin soos die res van ons nie .
Ek dink daar moet eers gekyk word na hoeveel mense regtig wil werk voordat die syfers bekend gemaak word .

Casper Labuschagne

Die komende minimumloon sal die effek hê dat persone wat op intreevlak werk soek, besonder moeilik enige aanstelling sal kry. Met slegs enkele uitsonderings sal ‘n persoon sonder enige werksondervinding ‘n loon van R20 per uur werd wees. Gevolglik sal daar net geen poste wees vir jongmense sonder werkservaring nie. Daar is hope getuienis in lande waar ‘n minimumloon ingestel is dat die jeug die ergste daardeur geraak word. Verder is die diensbedrywe soos restaurante, kitskos eetplekke en pizza aflewerings die ergste geaffekteer waar minimumlone ingestel is. Restaurante maak hul deure toe of perk ure in en kelners word afgelê.… Lees meer »

Eish

Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek… Lees meer »