SA se kredietgradering afgradeer

Lede van Amcu wat staak Foto: M Molaole/Sapa

Lede van Amcu wat staak Foto: M Molaole/Sapa

Die kredietgraderingsagentskap Standard and Poor’s (S&P) het Suid-Afrika se kredietgradering met een kerf afgradeer.

S&P het Suid-Afrika se kredietgradering van BBB na BBB- afgradeer.

“Die afgradering weerspieël ons verwagting van die lustelose groei in Suid-Afrika se BBP [bruto binnelandse produk], teen ‘n agtergrond van ‘n relatief hoë tekort in die lopende rekening, ‘n styging in algemene regeringskuld, en die potensiële wisselvalligheid en koste van eksterne finansiering,” het die agentskap gesê.

Volgens S&P beteken ‘n BBB-gradering dat die regering “voldoende kapasiteit het om finansiële verpligtinge na te kom, maar meer onderworpe aan ongunstige ekonomiese toestande is”. ‘n BBB- word deur markdeelnemers beskou as die laagste beleggingsgradering.

“Die uitgerekte staking in die platinumsektor, sowel as swak plaaslike en buitelandse vraag, het daartoe gelei dat BBP in die eerste kwartaal van 2014 saamgetrek het en sal dit waarskynlik BBP-groei in die tweede kwartaal onderdruk.”

S&P het die vooruitsig na “stabiel” verander. “Die stabiele vooruitsig weerspieël ons siening dat die huidige arbeidsspanning opgelos sal word en dat lustelose ekonomiese prestasie nie Suid-Afrika se fiskale en eksterne balans buite ons hersiene verwagtinge sal beïnvloed nie.”

Die internasionale kredietgraderingsagentskap Fitch Ratings het intussen sy vooruitsig vir Suid-Afrika van “stabiel” na “negatief” verander en die gradering van BBB onveranderd gelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.