SA se ‘langsdienende’ onderwyseres sterf

Nonsikelelo Qwelane is dood in die ouderdom van 100 nadat sy 79 jaar lank skoolgehou het. (Foto: Facebook)

Vir Nonsikelelo Qwelane het dit nooit oor geld gegaan nie, onderwys was haar roeping. En nadat sy 79 jaar lank as onderwyseres gewerk het, is Qwelane, wat bestempel word as Suid-Afrika se langsdienende onderwyser, vandeesweek in die ouderdom van 100 dood.

Qwelane was ʼn ontvanger van die Presidensiële Orde van die Kremetart in brons vir haar uitstaande bydrae tot onderwys in Suid-Afrika, asook omdat sy ʼn inspirasie en rolmodel vir jonk en oud was. Volgens die onderwysdepartement in Mpumalanga het sy in 2018 ook ʼn spesiale toekenning van die LUR van onderwys ontvang vir haar toewyding en verbintenis tot onderwys.

“Nadat sy meer as 79 jaar as onderwyseres gewerk het, was gogo Qwelane 100 jaar oud toe sy dood is,” sê Jasper Zwane, woordvoerder van die departement.

Qwelane is in 1920 op Engcobo in die Oos-Kaap gebore, opgelei as onderwyser en het as 19-jarige in die provinsie begin skoolhou. Sy het later ook in die Wes-Kaap, Gauteng en Mpumalanga klas gegee.

Haar liefde vir onderrig is verder versterk deur haar eie nimmereindigende soektog na kennis. Op die ouderdom van 60 het sy ʼn meestersgraad aan Unisa verwerf, terwyl haar kollegas haar beskryf het as ʼn “lopende aardrykskundehandboek”.

Volgens die departement het Qwelane verskeie gemeenskapsleiers onderrig en gementor. Benewens haar betrokkenheid by skole, het sy ook graag ingeskakel by gemeenskapsorganisasies soos die informele vroueforum.

Ná haar aftrede uit onderwys in die openbare sektor, wou Qwelane steeds nie ophou klas gee nie en sy het haar dienste by private skole, soos die Metropolitan International College in Witrivier in Mpumalanga, aangebied. Daar het sy haar gunstelingvak – aardrykskunde – vir matrieks aangebied.

Haar leerders het volgens die departement deurlopend goeie punte behaal.

“My werk as onderwyseres was nog nooit oor die geld nie, maar oor die liefde vir onderwys. Dit is my roeping en solank ek dit kan doen, en die energie daarvoor het, sal ek aanhou,” het sy vroeër gesê.

Bonakele Majuba, LUR vir onderwys in die provinsie, het Qwelane se bydrae in die onderwysberoep as ongeëwenaar bestempel.

“Sy was ʼn heldin en die ware vergestalting van ʼn voertuig vir kennis en waardes – sy het nie net oor die leerplan onderrig nie, maar het ook die rol van ouer vir haar leerders goed vervul.

“Ons wens haar familie alle sterkte toe en betuig ons medelye met al haar geliefdes,” het Majuba gesê.

Qwelane word Donderdag begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Henri ·

In ‘n land met diverse probleme is dit ‘n inspirasie. Mag sy in vrede rus.

Tanniepetoors ·

Wat ‘n merkwaardige vrou! Wat ‘n ongeëwenaarde nalatenskap! RIV Gogo Quelane. Jou stralekrans is welverdiend.

Blikkies ·

Wel Gedaan, maar hoe werk jy vir 79 jaar? word jy nie op ‘n sekere ouderdom op pensioen geplaas nie? tensy sy na pensioen as n privaat onderwyser gewerk het. As dit die geval is ken ek heelwat mense wat ook nog arbei op n baie ou ouderdom en sy nie die uitsondering is nie. Maar nog steeds ‘n besonderse mylpaal.

Elinette ·

Dis juis wat sy gedoen het. Sy het afgetree op die aangeduide ouderdom, maar steeds aangegaan met privaat onderwys.

Peetjie ·

Hoe kon sy op 19jarige ouderdom begin skoolgee het? Is die onderwys diploma nie 5 jaar nie? Ek kritiseer nie .. Ek vra net…????
Dat sy wel so lank uitgehou het is merkwaardig.

Janine ·

Dog dis net ek wat dit raaksien… Hoe is iemand op 19 al onderwyseres?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.