SA se Louis wen Vuelta-skof

Louis Meintjies vier sy La Vuelta-skofoorwinning. Foto: Ander Gillenea/AFP.

Louis Meintjes het gister die negende skof van die Vuelta a España gewen toe hy die sterkste onder ’n groep fietsryers geëindig het wat van die bondel weggebreek het.

Die 30-jarige Suid-Afrikaner het die 171,4 km tussen Villaviciosa en Les Praeres in ’n tyd van 4:32:39 voltooi om sy eerste Vuelta-skofoorwinning te vier. Hy was onder meer ’n minuut vinniger as Samuele Battistella en Remco Evenepoel (die algehele voorloper).

“Dinge het vandag perfek uitgewerk. My span het alles goed onder beheer gehad en ek het saam met die regte groep fietsryers weggebreek. Dit is iets baie spesiaals en ek het waarskynlik tyd nodig sodat dit kan insink,” het Meintjes gesê.

“Met die laaste paar skofte wat in die berge klaargemaak het, was ek net nie vinnig genoeg om by die algehele voorlopers te bly nie. As ek dan nie só die gewenste uitslag kry nie, is dit die beste om in die wegbreekgroep te wees. Ja-nee, dinge het vandag baie goed uitgewerk.”

Meintjies het vanjaar se Tour de France-avontuur in die algehele agtste plek afgesluit en ’n mens kan beslis sy trapprestasies vier.

Dit was die derde keer dat die talentvolle fietsryer agtste in die Tour de France eindig. Hy het dieselfde prestasie in 2016 (hy was daardie jaar ook sewende by die Olimpiese Spele) en in 2017 vermag.

Benewens sy onlangse barshou-sessies het hy onder meer die Giro dell’Appennino gewen, terwyl hy al die Giro di Sicilia in die derde plek afgesluit het.

Uitslae van die Vuelta a España se negende skof:

  1. Louis Meintjes 4:32:39
  2. Samuele Battistella +1:01 min
  3. Edoardo Zambanini +1:14 min
  4. Remco Evenepoel +1:34 min
  5. Filippo Conca +1:58 min.

Algehele puntestand:

  1. Remco Evenepoel
  2. Enric Mas
  3. Primoz Roglic
  4. Carlos Rodriguez
  5. Juan Ayuso

(Meintjes is in die algehele 16de plek).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Treurwilger ·

Louis Meintjes, wat ‘n ster!
En só welverdiend, op een van die moeilikste skofte wat jy aan kan dink.
Mag daar toekomstige skofoorwinnings op dié een volg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.