SA se ‘misdaadvakansie’ verby, sê Cele   

Die minister van polisie, Bheki Cele. (Foto: GCIS)

Die “misdaadvakansie” wat Suid-Afrikaners tydens die streng inperking beleef het, is verby.

Só het minister Bheki Cele Vrydag by die aankondiging van die kwartaallikse misdaadstatistieke gesê.

Die minister het in Augustus tydens die bekendmaking van die syfers van die vorige kwartaal – begin April tot einde Junie – ʼn rooskleurige prentjie geskets van die groot afname in misdaad wat Suid-Afrika tydens die inperking beleef het.

“Ons weet dat dié afname hoofsaaklik toegeskryf kon word aan die vlak 4- en vlak 3-inperkings wat destyds gegeld het. Die omgewing vir misdaad om te floreer was basies verdraai.”

Volgens Cele was dit egter ʼn gegewe dat die prentjie sou verander namate die land na ʼn laer inperkingsvlak beweeg het.

Die statistieke wat Cele vandag bekend gemaak het, is vir die tydperk van 1 Julie tot einde September.

In dié tyd is altesaam 5 107 mense in Suid-Afrika vermoor. Dit is volgens Cele 339 minder mense as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Volgens Cele was daar ʼn afname in die aantal seksuele misdrywe wat aangemeld is. Daar is egter steeds in die drie maande meer as 8 900 verkragtings aangemeld. Die meeste verkragtings het in KwaZulu-Natal plaasgevind.

Huisbrake het intussen skerp toegeneem en Cele meen misdadigers probeer nou opmaak vir die “misdaadvakansie” wat tydens die streng inperking gegeld het. “Huisbrake het met 8,5% toegeneem hoewel baie mense nog steeds van die huis af werk weens die inperking.” Sakeroof het egter met 8,5% afgeneem terwyl motorkapings ook ʼn afname van 1,6% toon.

Cele het hom weer eens oor alkoholgebruik en die invloed daarvan uitgelaat. “Ek bly krities en uitgesproke oor die negatiewe uitwerking wat alkohol op ons gemeenskappe het. Dit is ondanks die feit dat my siening by sommiges ongewild is.”

Die syfers toon volgens Cele dat die gebruik en misbruik van alkohol ʼn oorsaaklike faktor is in honderde moordsake wat in die tweede kwartaal aangeteken is.

(Argieffoto: Kent Williamson)

“Daar was ook drank betrokke by 829 gevalle van geslagsgebaseerde aanrandings en 747 verkragtingsake. Soveel as 179 gevalle van poging tot moord is deur alkohol veroorsaak.”

Meer as 1 000 gevalle van moord, poging tot moord, verkragting en aanranding het in of buite plekke soos kroeë, tavernes, sjebiens en nagklubs plaasgevind. “Hierdie syfers maak dit onmoontlik om die werklike gevolge van alkoholmisbruik te ontken.”

Rakende transitorooftogte het Cele gesê dit is duidelik dat die gewapende bendes wat geldwaens teiken al hoe meer desperaat en genadeloos raak namate die jaar einde se kant toe staan. Daar was ʼn bykomende 24 transitorooftogte in die oorsigtydperk in vergelyking met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Veediefstal is ʼn ernstige probleem met meer as 7 300 sake wat in die drie maande aangemeld is. Meer as 26 000 skape en meer as 14 000 stuks vee is gesteel.

“Hierdie misdaad, wat ek glo ʼn vorm van ekonomiese sabotasie is, moet nie net deur die polisie aangepak word nie, maar ook deur ander departemente.” ʼn Taakspan is op die been gebring om veediefstal in die Vrystaat te ondersoek nadat Cele Donderdag in Bethlehem terugvoer aan die landbougemeenskap gegee het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Ek wens jy was verby….

Persheks Adri

Ek glo nie jou syfers nie Cele en jy DINK daar was vakansie misdaad pffft! Elke dag is daar moord en dood en verkragting om nie eers van korrupsie te praat nie! Ons bedank die ANC vir die gemors en haatspraak en aanhitsing van geweld tsssk man!

Termiet

“My moma says that stupid is as stupid does.”

Androclus

SA se ‘misdaadvakansie’ verby, sê Cele :
Nonsens man nonsens wat van plaasmoorde daardie vakansie hou nie op nie.

Adam Adriaan

Die man praat windop(Suid Ooster), om te verhoed dat hy en omstanders kan hoor wat hy sê,
Dit is skokkend 55 moorde per dag. Die wilde weste was ‘n mooi een gewees. Wys weereens dat die ANC geen beheer het oor die situasie in die land nie. Maak nie wat dit is nie. Dit is Chaos.