SA se Omikron-vlaag dalk nié so ‘lig’

(Argieffoto: pixabay)

Tydens die laaste vlaag van die Covid-19-pandemie is betreklik min hospitaalopnames in Suid-Afrika en heelwat minder sterftes as tydens vorige vlae aangeteken. Dít terwyl sterftes wat met Covid-19 verband hou in lande soos Hongkong en Amerika skerp toegeneem het.

Kenners sê hoewel dit kan wees dat Suid-Afrikaners veel meer immuniteit teen die virus opgebou het, dit ook toegeskryf kan word aan lae aanmeldingsyfers in Suid-Afrika.

Tydens die vierde vlaag van die virus is veel minder mense per miljoen van die bevolking in Suid-Afrika dood as tydens die tweede en derde vlae. Tydens die piek van die vierde vlaag is sewe mense vir elke miljoen van die Suid-Afrikaanse bevolking daagliks weens Omikron dood, teenoor die 10 daaglikse sterftes per miljoen tydens die derde golf en die dertien sterftes per miljoen daagliks tydens die tweede golf.

In Denemarke en Israel is die prentjie omgekeerd, met al meer sterftes wat per Covid-19‑golf aangeteken is. Tydens die laaste golf is 13 sterftes vir elke miljoen inwoners van Israel per dag en 14 sterftes per miljoen mense in Denemarke per dag aangeteken.

Omikron het ook vir geweldig baie sterftes en hospitaalopnames in Hongkong gesorg. Die stad het deurlopend ʼn beleid van geen genade teenoor Covid-19 gehandhaaf en voor die Omikron-variant was daar byna geen natuurlike infeksies van die virus nie.

Die Chinese regering het die Sinovac-entstof boonop kwaai bevorder en die Pfizer-entstof is “verdag” gemaak sodat meer mense die Chinees vervaardigde weergawe gebruik. Talle mense, veral ouer burgers, het egter gekies om geen entstof te ontvang nie.

Vroeg in Maart het die sterftekoers op 37,7 per miljoen van die bevolking gestaan – van die hoogste syfers ter wêreld tydens die algehele pandemie.

Altesame 96% van sterftes in Hongkong was onder mense 60 en ouer en van hulle was 70% nie ingeënt nie.

Die navorsers het die sterftes in Hongkong met die vlaag in Nieu-Seeland vergelyk, waar heelwat meer mense ingeënt is, en minder mense ook gesterf het.

Tydens die kruin van die Omikron-vlaag het Nieu-Seeland se sterftekoers 2,1 per miljoen van die bevolking beloop (veel minder as Hongkong se naastenby 38 sterftes per miljoen van die bevolking) – met navorsers wat meen dit benadruk die entstof se uitwerking om Covid-19-sterftes te verhoed.

Dit verduidelik egter steeds nie waarom Suid-Afrika, met ʼn veel kleiner persentasie ingeëntes (35%), soveel minder sterftes aangeteken het nie.

Kyk eerder na dié syfers

Dr. Cloete van Vuuren, ʼn infeksiesiekte-spesialis en hoof van interne geneeskunde by 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein, sê om dié vraag te probeer beantwoord, moet daar na oortollige sterftes gekyk word – en syfers wys dat daar deur die loop van die pandemie ʼn veel hoër oortollige sterftesyfer in Afrika was.

Hy sê indien ʼn land nie vir Covid-19 toets nie, of daar nie hospitale is waar mense teen die virus behandel kan word nie, moet jy versigtig wees om aan te neem dat daar minder sterftes of infeksies was.

Dr. Jo Barnes, ʼn epidemioloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, stem hiermee saam en sê dat verskeie faktore in ag geneem moet word voor enige volstrekte afleiding gemaak kan word.

Barnes sê Suid-Afrikaanse data is heelwat laer as die werklike Covid-19-syfers. Die regering het volgehou dat slegs gevalle waar hospitalisasie plaasgevind het of waar Covid-19 deur ʼn formele toets bevestig is, as ʼn Covid-19-geval opgeteken word.

“Veral die sterftesyfer is na raming 300% minder as vasgestel in studies deur navorsers van die Mediese Navorsingsraad,” sê Barnes.

“ʼn Groot gedeelte van die oënskynlik groot verskil is dalk bloot die uitwerking van ons mislukking met datavaslegging.”

Barnes sê as ʼn ontwikkelende land val ʼn groot gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking in die laeinkomsteklas. “Toegang tot mediese fasiliteite en om ʼn toets te laat doen was ʼn groot uitdaging vir baie van hulle en volgens begrafnisondernemers in sulke gebiede is die ondertelling van sterftes weens Covid-19 veral erg daar.”

Barnes sê Hongkong het ʼn klein bevolking met hoogs ontwikkelde mediese dienste. Die Hongkongse bevolking is na raming sowat 7,6 miljoen – ʼn druppel aan die emmer van Suid-Afrika se naastenby 60 miljoen mense. Dit is ʼn piepklein staat en niemand woon verder as ʼn klipgooi van gesondheidsorgsentrums nie.

“Toegang tot dienste is nie naastenby so ʼn groot probleem as vir baie van ons mense nie. Omdat dit so klein is, is die bevolkingsdigtheid baie hoog en dit maak oordrag van enige virus wat deur die lug versprei, veel meer waarskynlik.”

Rol van natuurlike immuniteit

Suid-Afrika het ʼn lae koers van mense wat ten volle ingeënt is. (Foto: Patrick T. Fallon/AFP)

Barnes sê Hongkong se streng stelsel om die virus so lank as moontlik te probeer uithou, kon dalk uiteindelik tot die hoë syfers bygedra het. Talle mense het vir lank geen kontak of blootstelling aan die virus gehad nie.

Suid-Afrika het ʼn lae koers van mense wat ten volle ingeënt is, maar na raming het ʼn veel groter gedeelte van die bevolking reeds in een of ander stadium Covid-19 opgedoen. “Dit dra by tot die ingewikkeldheid van die vergelyking,” sê Barnes.

Van Vuuren sê ook “dit is ʼn mistasting om te verklaar dat Omikron soveel ligter is”.

“Dit is nie noodwendig ligter nie, maar het gekom nadat ons reeds ʼn paar vlae van die virus gehad het,” sê Van Vuuren, “en het dus gebeur teen die agtergrond van mense wat reeds ʼn mate van immuniteit kon opbou.

“Dit het beter gelyk as tydens die eerste vlae toe sommige mense geen immuniteit gehad het nie.”

Hy sê die meeste mense gaan binne die volgende vyf jaar – en moontlik vroeër – waarskynlik teenliggame teen Covid-19 hê. “Die keuse oor hoe jy dit gaan kry, is joune,” sê Van Vuuren.

“Gaan dit gekontroleerd en veilig met die inenting wees, of met infeksie en al die risiko’s wat daarmee gepaard gaan?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarie ·

Natuurlik was dit nie so lig. Selfs mense wat dit nie onder lede gehad het, het gesterf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.