‘SA se onttrekking aan strafhof ongrondwetlik’

hof-hamer

Argieffoto.

Die DA het Maandag in die hooggeregshof in Pretoria aangevoer die Suid-Afrikaanse regering se besluit om hom aan die Internasionale Strafhof (ISH) te onttrek is ongrondwetlik en moet daarom ter syde gestel word.

Adv. Stephen Budlender, die DA se regsverteenwoordiger, het aan ʼn volbank van drie regters gesê die parlement het die Verdrag van Rome in die Suid-Afrikaanse wetgewing aanvaar en daarom kan slegs die parlement besluit om Suid-Afrika aan hierdie liggaam te onttrek.

“Die enigste manier waarop die probleem reggestel kan word, is as hierdie hof besluit die regering het ongrondwetlik opgetree en die besluit ter syde stel. Indien dit nie gebeur nie, sal die besluit [om Suid-Afrika aan die ISH te onttrek], wat sonder die parlement se insette geneem is, deurgevoer word,” het Budlender gesê.

Die DA het in Oktober ʼn aansoek ingedien om regstreeks toegang tot die konstitusionele hof te kry om die saak aan te hoor. Die aansoek is egter van die hand gewys. Die DA wou die grondwetlike geldigheid toets van Suid-Afrika se kennisgewing om te begin met sy onttrekking aan die Verdrag van Rome van die Internasionale Strafhof omdat die party meen die kennisgewing is strydig met die Grondwet.

“Die debat gaan nie oor die mag om [Suid-Afrika aan die ISH] te onttrek nie, daar moet so ʼn mag wees. Dit gaan oor wat die Grondwet impliseer oor wie hierdie mag besit. Hierdie mag, na ons mening, is aan die parlement toegeken en nie aan die regering nie,” het Budlender aan die hof gesê.

ʼn Dispuut het verlede jaar ontstaan oor ʼn besoek van die Soedannese president, Omar al-Basjir, wat deur die hof van oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en volksmoord aangekla word.

Al-Basjir het in Junie 2015 die Afrika-unie se beraad in Johannesburg bygewoon, toe die Suider-Afrikaanse Litigasiesentrum (SALC) ʼn hofaansoek ingedien het om Al-Basjir in hegtenis te laat neem op grond van die ISH se lasbrief vir sy inhegtenisneming. Die regering het hom egter nie in hegtenis geneem nie en ʼn hof het hom opdrag gegee om in die land te bly totdat oor sy inhegtenisneming besluit kan word. Nadat die hof beveel het Al-Basjir moet wel in hegtenis geneem word, is vasgestel hy het reeds die land verlaat.

Suid-Afrika het daarna gekla dat die ISH hom nie ʼn regverdige verhoor gegee het nie en dat daar verwarring in die hof self is oor die verpligtinge van sy lidlande om hoofde van lande, wat nie deel is van die ISH nie, in hegtenis te neem. Michael Masutha, minister van justisie, het gevolglik in Oktober aangekondig dat die Suid-Afrikaanse regering kennis gegee het van sy onttrekking aan die ISH.

Hierdie onttrekking sal op 19 Oktober 2017 in werking tree.

Die appèlhof het later bevind die Suid-Afrikaanse regering het die wet oortree deur nie Al-Basjir in hegtenis te neem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jip ·

Ja tog maar hoeveel van hierdie parlementslede en Ministers en Politici steur hulle aan enige wetgewing of grondwethof? Hulle gebruik dit selektief wanneer hulle daardeur bevoordeel kan word, NIE as dit in teenstelling is met wat hulle besluit het nie.

AL ·

Die Regering maak hul juis skuldig aan Sudan se menseregte skending deur te bedank by ISH en so Al-Bashir te ondersteun. Ek is bly die DA het ingetree.

Penellope Jones ·

Die regering gaan hul nie veel daaraan steur nie. Hulle doen net wat hul en hul redes pas.

Sophia ·

Die ANC het in elk geval die meerderheid stemme in die parlement, so uiteindelik sal hulle die knoop deurhaak vir die Regering. Dis weer net ‘n klomp geld wat vermors word en waarvoor ons, die belastingbetaler, moet opdok! Soveel geld word vermors deur hofsake deesdae, en ons is vuisvoos betaal aan belasting, wat nôg duurder sal word!!

Rupert Ashford ·

Behalwe as die grondwet verander moet word en 66% nodig is, maar ek glo nie so nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.