SA se oudste atleet daag tieners uit by Spele

Dallas Oberholzer by die 2020 Olimpiese Spele. (Foto: Dallas Oberholzer)

“My ma is uiteindelik tevrede met my lewenskeuses,” skerts die 46-jarige skaatsplankryer van Durban ná sy deelname aan dié Olimpiese item die afgelope week.

Dallas Oberholzer was vanjaar die oudste Suid-Afrikaanse atleet om aan die Spele in Tokio deel te neem en die naasoudste om die skaatsbaan vanjaar aan te durf.

“Gedurende al die jare op reis om te skaats, het ek nooit gedink ek sal ʼn dude in ʼn sweetpak wees wat my land verteenwoordig nie. Nou verteenwoordig ek die kontinent óók,” het Oberholzer op sy Instagram-profiel geskryf, kort voor sy vertrek na Tokio in Japan.

Dit is die eerste keer dat skaatsplankry as ʼn item by die Olimpiese Spele geklassifiseer is. Altesaam 80 mense het vanjaar aan dié item deelgeneem.

Hoewel Oberholzer nie ʼn medalje kon verower nie – die meeste deelnemers was drie dekades jonger as hy – het hy ʼn lewenslange droom bewaarheid.

Dallas Oberholzer se ma het hom by die lughawe, op pad na Tokio afgesien. (Foto: Instagram/Dallas Oberholzer)

In ʼn onderhoud wat op die Olimpiese Spele se webblad geplaas is, sê Oberholzer hy het as tienjarige seun die eerste keer die “plank met wiele” opgetel. Hy het jare later sy besigheidstudie laat vaar sodat hy die wêreld kan deurkruis op soek na skaatsplankgeleenthede. “Ek het ʼn kans gewaag, aangesien dit moeilik is om skaatsplankry as ʼn amptelike sport te klassifiseer,” het Oberholzer kort voor sy deelname gesê.

Dertig jaar later is hy nie spyt nie, al is dié stokperdjie nie besonder lonend nie. “Ek het nog nooit vir ʼn sogenaamde ‘regte werk’ gesoek nie. Nou lyk dit of al my harde werk begin ‘afbetaal’.”

Oberholzer is ook die stigter van die niewinsgewende organisasie Indigo Youth Movement, wat poog om jongmense van arm gemeenskappe deur skaatsplankry op te hef.

“Skaatsplankry is seker een van die beste platforms, anders as taal, wat mense saambring. Dit hou kinders uit bendes en bevorder integrasie in die gemeenskap.”

 

 

 

Dallas Oberholzer neem deel aan die 2020 Olimpiese Spele. (Foto: Instagram/ Dallas Oberholzer)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Zacahara ·

Ook eers gedog dis sy dogter. Nadat ek bietjie ingezoem het, het ek gesien dit kan sy Ma wees. Sy lyk pragtig vir haar ouderdom. Sy moet seker rondom 70 wees?

Oom Kobus ·

Geluk Dallas,
Ek het in 1991 my 2-ling seuns, toe Menlyn toe geneem on Tony Hawk en Bob Linquest te sien.
Ja wragtig, jou ma lyk soos jou dogter.
Groete,
Oom Kobus
Stilfontein

Vlooitjie ·

Well done ou, jy kan trots wees en ek glo jou pragtige ma is ook! Ek wil weet wat is in haar gesigroom! :)

Hennie ·

Op sy ouderdom het hy GEEN kans om die kompetiesie wen nie. Heeltemal te oud vir dié sport ou maat

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.