SA se skokkende plastiekvoetspoor

Die visse in die I&J-uitstalling by die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad word gevoer, terwyl Fikile Sizwenya. die jongspan meer leer oor die oseane. (Foto: Elsabé Brits)

Soveel as ʼn derde van plastiekafval in Suid-Afrika word plastiekbesoedeling en dit maak die land een van die grootste besoedelaars van die see.

Dit is omdat die land min herwin en sy afval wanbestuur, het Lorren de Kock van die Wêreldnatuurfonds (WWF) op ʼn beraad oor plastiek wat deur die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad aangebied is, gesê.

Sedert 2000 het die land soveel plastiek vervaardig as in die 50 jaar voor dit. Daar word verwag plaaslike plastiekproduksie sal met 40% toeneem teen 2030. Soveel as 56% van die plastiekafval in Suid-Afrika word wanbestuur en by verre die meerderheid daarvan wat op strande opgetel word, is plastiek soos koeldrankdoppies, lekkergoedpapiere en bottels.

De Kock het bygevoeg dat net 17% van alle materiaal wat in Suid-Afrika herwin word, plastiek is.

Prof. Rinie Schenck, wat die leerstoel vir afval en die gemeenskap aan die Universiteit van Wes‑Kaapland beklee, het gesê die mense wat met hulle trollies in woonbuurte omkom en rommel versamel, asook diegene wat op die vullingsterreine herwin, word nie genoeg waardeer en gesteun nie. Daar is sowat 215 000 van die informele afvalsorteerders in die land en hulle kollekteer en sorteer 90% van die land se herwinbare produkte.

Suid-Afrika produseer 54,8 ton gemors per dag, die 15de hoogste ter wêreld en ons herwin net 10% daarvan. Tog kan soveel geld daaruit gemaak word – in Suid-Afrika word R17 miljard se herwinbare afval per jaar weg na vullisterreine geneem. Maar mense stort net soveel onwettige afval ook, “en dit is belangrik om dit te besef”.

Die mense wat vullis herwin, neem nie net plastiek en papier nie, maar ook stene, klere en verskeie ander produkte, “maar mense kyk neer op hulle en voel hulle is ʼn irritasie. Ons moet vir hulle dankie sê en dit makliker vir hulle maak. Hulle werk op plekke sonder water, koelte en toiletgeriewe. Die meeste munisipaliteite ignoreer hulle waar die terreine ook nie bestuur word nie,” het Schenck gesê.

Dr. Marcus Eriksen van die 5 Gyres Institute, het gesê sedert die 1950’s het 8,3 miljard ton plastiek in die oseane beland. Dié plastiek wat afbreek in mikro-stukkies kom nou oral in die oseane voor en om dit te probeer skoonmaak sal onmoontlik wees. Daar word gereken daar is triljoene sulke stukkies. Mikro‑plastiek is al in 50 spesies vis, soogdiere, seesout en skulpvis gekry.

“Dit is soos ʼn mis van mikro‑plastiek oor die oseane,” het hy gesê.

Navorsing wat gedoen is, het gewys indien jaarliks net 20% minder plastiek in die see beland vir sewe jaar, sal die hoeveelheid drasties afneem, omdat die see dit uiteindelik uitspoeg. “Ons moet die kraan van die land af toedraai,” het hy gesê.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sanna

Kan daar asb ‘n artikel verskyn omtrent weggooidoeke? Watter handelsmerke plastiek in het en wat mens kan doen omtrent die silikon in dit, want weggooidoeke sal nooit uit die mode gaan nie. Ek het nie krag om lapdoeke uit te was elke dag nie, maar sal my geld spandeer op “goeie” weggooidoeke.

sweis

Opvoeding en dissipline is nodig begin by skole toe ek op skool was het ons die praktyk van sib dit in n zibbi can en dit bly my vandag nog by.

Lize

Wat skokkend is, is hoeveel plastiek NIE herwinbaar is nie. Ek probeer maar soveel ek kan herwin en maak eco-bricks van die res. Van al die soorte plastiek is polistireen sekerlik die vieslikste want dit disentigreer glad nie.

marous

54,8 Ton?

Antionette Malan

Infrastruktuur sal op elke munisipale vullishoop geskep moet word vir herwinning net soos wat munisipaliteite rioolstrukture moes skep. Herwinning op hierdie manier, sal honderde mense v werk voorsien. Dit moet net geprivatiseer word. Dis hoekom herwinning op d huidige manier nooit sal werk nie. Dit moet behoorlik bestuur en gestruktureer word.